Duncan Pieterse nuwe DG by tesourie

Duncan Pieterse. (Foto: Twitter)

Dr. Duncan Pieterse is die nuwe direkteur-generaal van die nasionale tesourie. Dié aanstelling kom sowat ʼn jaar nadat die vorige direkteur-generaal, Dondo Mogajane, bedank het.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Donderdag Pieterse se aanstelling aangekondig nadat die kabinet die skuif goedgekeur het.

Pieterse sal vir die volgende vyf jaar as direkteur-generaal dien.

Pieterse is tans die adjunk-direkteur-generaal van bate- en lastebestuur by die departement en het oor die afgelope tien jaar by die departement verskeie poste beklee. Hy was voorheen die adjunk-direkteur-generaal van ekonomiese beleid.

Pieterse het ʼn BA-graad in besigheidswetenskap, ʼn meestersgraad in openbare administrasie van Harvard-universiteit en ʼn doktorsgraad in filosofie.

Die direkteur-generaal bied strategiese leierskap aan die departement en sy organisasiestruktuur. Hy is verantwoordelik daarvoor om ʼn span van kundiges te bestuur wat verskeie aspekte van finansiële bestuur, ekonomiese ontleding en beleidsformulering hanteer.

“Die direkteur-generaal is sentraal in die vorming van die fiskale beleid, ekonomiese rigting en finansiële stabiliteit van die land,” het Godongwana gesê.

“Ek glo Duncan het meer as genoeg ondervinding en kundigheid om ʼn sukses van hierdie nuwe uitdaging te maak.”

Die topbestuur by die Nasionale Tesourie het Pieterse se aanstelling verwelkom, asook die waarnemende direkteur-generaal, Ismail Momoniat, wat sê dat hy verheug is dat die “leierskap na die jonger generasie toe skuif”.

Godongwana sê Momoniat was ʼn “ware en toegewyde dienaar van die departement en die land” toe hy as waarnemende direkteur-generaal opgetree het. Momoniat moes intree toe Mogajane verlede jaar besluit het om nie sy kontrak verder te verleng nie.

Momoniat sal vir die volgende jaar steeds by die departement betrokke wees om ʼn egalige oorgang te verseker.

Pieterse sal na verwagting in September die leisels van direkteur-generaal oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

houopkruip ·

Verseker nie naastenby die vereiste kwalifikasies vir die pos nie. Miskien ‘n hulpbronne pos iewers ………

Jaco ·

Is die nuwe regstellende aksie wet se raskwotas vir kleurlinge in ag geneem met sy aanstelling? Sommige beroepe het ‘n nul kwota vir kleurlinge, indiërs en wit mense. Ek vra maar net. In dié simpel rassistiese SA moet minderheidsgroepe mos altyd eers toestemming vra en seker maak.

Delia ·

Verskeie poste in 10 jaar. Wat beteken dit? Wat is sy track record in daai poste?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.