Een van dié 12 vroue is die nuwe Mej. SA

Dié twaalf vroue gaan nou meeding vir die Mej. SA-titel. (Foto: Verskaf)

Ná ʼn reeks uitmergelende uitdunrondes is die top-12 finaliste wat vanjaar aan die eindronde van die Mej. SA-kompetisie gaan deelneem, Donderdagaand in Johannesburg aangewys.

Ané Oosthuysen, Anke Rothmann, Bryoni Govender, Homba Mazaleni, Jordan van der Vyver, Keaoleboga Nkashe, Lebohang Raputsoe, Levern “Donnatella” José, Lungo Katete, Melissa Nayimuli, Nande Mabala en Natasha Joubert sal nou vir volgende twee maande meeding om uiteindelik as die nuwe Mej. SA op 13 Augustus 2022 aangewys te word.

Onder dié groep vroue is ‘n prokureur, ‘n sportwetenskaplike, ‘n apteker en ‘n hoogs gekwalifiseerde finalis met grade in sielkunde en mediese sosiologie.

Keaoleboga, wat verlede jaar die top-10 gehaal het, en Natasha, wat in 2020 tweedenaaswenner was en Suid-Afrika by Mej. Heelal verteenwoordig het, is ook nie nuwe gesigte in dié kompetisie nie.

Nuus oor Natasha se besluit om haar naam vir ʼn tweede keer in dié gesogte skoonheidskompetisie se hoed te gooi het die afgelope maand omtrent die wenkbroue op sosiale media laat lig.

Die finaliste. (Foto: Verskaf)

Sy het vroeër aan Maroela Media gesê dat enigeen wat self op die verhoog kon wees toe Suid-Afrika met haar deelname in 2021 nie plek onder die top-21 op die Mej. Heelal-verhoog gehaal het nie, sal verstaan hoekom sy dié titel vir ʼn tweede keer najaag.

“Ek is nou veel meer doelgerig, want ek is gedwing om diep te delf en van my uitdagings in die gesig te staar. Ek kry ook nie meer skaam om erkenning aan my gevoelens te gee en openhartig daaroor te praat nie,” het dié donkerkop skoonheid gesê.

Sy is ook een van vyf finaliste uit Gauteng. Die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap spog elkeen met twee finaliste terwyl Noordwes een finalis opgelewer het.

Lungo Katete van Midrand, wat ‘n meestersgraad in argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal het, het die meeste stemme van lede van die publiek ontvang.

Die beoordelingspaneel het uit Bokang Montjane-Tshabalala, Mej. SA 2010, Nobukhosi Nkosi, die bekroonde modeontwerper en stilis wat die brein agter die handelsmerk Khosi Nkosi is, en Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, bestaan.

Die top-12 finaliste lyk só:

  • Ané Oosthuysen (25)

Ané Oosthuysen. (Foto: Verskaf)

Ané van Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek in Gauteng, is ’n laerskoolonderwyseres en spog met grade in sielkunde en mediese sosiologie.

  • Anke Rothmann (23)

Anke Rothmann. (Foto: Verskaf)

Anke is ’n apteker-intern wat die Noord-Kaap verteenwoordig. Sy het haar graad in farmasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom verwerf.

  • Bryoni Govender (26)

Bryoni Govender. (Foto: Verskaf)

Bryoni is van Johannesburg en is ’n gekwalifiseerde prokureur wat as ’n leerling-assosiaat werk terwyl sy wag op toelating om ’n prokureur te word.

  • Homba Mazaleni (23)

Homba Mazaleni. (Foto: Verskaf)

Homba kom van Gonubie by Oos-Londen in die Oos-Kaap en is ’n gekwalifiseerde sportwetenskaplike en intern by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

  • Jordan van der Vyver (27)

Jordan van der Vyver. (Foto: Verskaf)

Jordan kom van Durbanville in die Wes-Kaap en is ’n model en sakevrou. Sy is ook een vanjaar se getroude finaliste.

  • Keaoleboga Nkashe (27)

Keaoleboga Nkashe. (Foto: Verskaf)

Keaoleboga is van Itsoseng in Noordwes en werk as ’n opvoeder en model. Dit is die tweede keer wat sy die top-12 haal.

  • Lebohang Raputsoe (24)

Lebohang Raputsoe. (Foto: Verskaf)

Lebogang is van Sharpeville, Vereeniging in Gauteng, en werk as ʼn menslikehulpbronbestuurder.

  • Levern “Donnatella” José (23)

Levern “Donnatella” José. (Foto: Verskaf)

Levern kom van Kimberley in die Noord-Kaap, is ’n kandidaat-eiendomspraktisyn, ’n BCom-regstudent by Eduvos Pretoria en ’n entrepreneur.

  • Lungo Katete (26)

Lungo Katete. (Foto: Verskaf)

Lungo kom van Midrand in Johannesburg, Gauteng, is ’n kreatiewe siel en het haar meestersgraad in argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) voltooi. Sy het ook die meeste stemme van lede van die publiek ontvang.

  • Melissa Nayimuli (27)

Melissa Nayimuli. (Foto: Verskaf)

Melissa kom van Butterworth in die Oos-Kaap, is ’n passievolle storieverteller wat tans as ’n televisie- en filmvervaardiger in Johannesburg werk.

  • Nande Mabala (25)

Nande Mabala. (Foto: Verskaf)

Nande kom van Zwelethemba, Worcester in die Wes-Kaap. Sy is ’n model, beïnvloeder, filantroop en ’n BA Kunste-gegradueerde.

  • Natasha Joubert (25)

Natasha Joubert. (Foto: Verskaf)

Natasha kom van Pretoria in Gauteng, is ’n BCom-bemarkingsbestuur-gegradueerde en is die eienaar en modeontwerper van Natalia Jefferys, ’n maatskappy wat sy begin het toe sy 19 was. Dit is die tweede keer wat sy die top-12 haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Gaitsigubib ·

Wel jy mag niks anders se as dat hulle almal vir jou pragtig is nie, so ek verstaan ook dan nie die punt van die oefening nie. Probeer gerus jou eerlike opinie en kyk maar wat gebeur. My ouma het altyd gese: “oor mooi en lelik kan niemand stry nie”. Ek het gedink sy is n baie wyse vrou tot ek nou geleer het, jy mag net dat iemand mooi is en verder moet jy jou smoel hou.

George ·

As ek net op uiterste moet gaan, sal ek se my twee favorites is Bryoni Govender, Jordan van der Vyver en Melissa Nayimuli

Di ·

Glo dit sal beslis een van net 5 in die foto wees. Persoonlik dink ek die wenner sal tussen Melissa Nayimuli (27) OF Lebohang Raputsoe (24) wees. Bryoni Govender (26) ook ‘n mooi vrou. Almal is mooi maar ons weet hoe dinge in die land gebeur.

Impact ·

Ek dink Melissa gaan hieruit stap as die wenner. Ongelooflik fotogenies en sy straal net iets vir my uit

Vonny ·

Ons kort asb!!! N blond.
Jordan vir mej SA asb!!!!
Jare laas n blond gehad.

Natasha jys ook n goeie kandidaat!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.