EFF beweer ‘vroueparlementslede is aangerand’

EFF-LP’s word uit die raadsaal verwyder (10 Junie 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die EFF het ’n beroep op die speaker van die Nasionale Vergadering gedoen om ’n ondersoek te gelas na bewerings van geslagsgebaseerde geweld teen vrouelede van die party.

Dít volg nadat drie EFF-LP’s Donderdag die parlementêre sitting ontwrig het en die president as onder meer ’n “geldwasser” uitgekryt het.

Die drie LP’s wat nou beweer hulle is aangerand, is geïdentifiseer as Babalwa Mathulelwa, Noluvuyo Tafeni en Naledi Chirwa.

Maroela Media het vroeër berig strafregtelike aanklagte is reeds aanhangig gemaak teen EFF-LP’s nadat hulle glo twee parlementêre veiligheidswagte aangerand het toe dié wagte hulle uit die raadsaal verwyder het.

Volgens Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die nasionale vergadering, het dié wagte, Khunjulwa Sinono en Khaya Honey Vanqa, aanranding, mishandeling en intimidasie ervaar.

Sinono het onder meer ’n besering aan die gesig opgedoen nadat ’n EFF-LP (’n man) haar aangerand het. Sy ontvang tans mediese behandeling.

Mapisa-Nqakula sê in ’n verklaring wat deur die parlement uitgereik is dat sy hoogs ontsteld is oor die bewerings en sy wil dit op skrif stel dat die feitelike omstandighede vasgestel sal word.

“Geslagsgebaseerde geweld, hetsy teen vroueparlementslede of vrouepersoneellede, moet ten sterkste veroordeel word,” sê Mapisa-Nqakula.

“Ons samelewing ly onder die trauma van geweld wat teen vroue gepleeg word, en dit verteenwoordig steeds ’n direkte aanval op die kernwaardes van ons demokrasie en die Grondwet. Die parlement moet die samelewing in hierdie stryd lei en sal dus nooit sulke dade duld nie, veral binne sy terreine.”

Die speaker het ’n interne ondersoek na al hierdie bewerings aangevra.

Volgens Mapisa-Nqakula lei die gebeure ook tot ’n slegte beeld van die parlement.

Mapisa-Nqakula verduidelik die verwydering van die parlementslede is nie ’n besluit wat ligtelik geneem is nie, maar dit word as ’n laaste uitweg beskou nadat alle ander weë ondersoek is. “Dit is om die regte van al die ander openbare verteenwoordigers te beskerm sodat hulle hul grondwetlike verpligtinge en dié van lede van die publiek kan nakom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Marius ·

Hulle behoort hulself te skaam omdat hulle hulself so swak gedra.

Jywilwat ·

Dis ‘n hartseer situasie. Waar in die wêreld kry jy nog so ‘n klugspul wat veronderstel is om die mense te verteenwoordig?

Leon ·

Ek dink Italië kwalifiseer, miskien net nie so erg nie en gereeld nie.

Daleen ·

Daarsy daardie tannie met die rooi hare vat nie twak van kabouters in rooi oorpakke nie…. Dis die enigste manier wat hulle verstaan en dan wil hulle huil as dit teen hulle gebruik word. Nee wat kry vir julle en gee daai sekuriteits vrou met die rooi hare sommer ‘n bonus!

Hennie ·

Geslags gebaseerde geweld? Watter tipe geweld is NIE Geslags gebaseer nie? Sê nou maar twee manne dam mekaar by of twee vroue het ‘n klapperige “cat- fight”, tel dit ook as geslagsgebaseerde geweld? Wat van as twee nie- binere mekaar voeter? ALLE GEWELD IS GESLAGS GEBASSEER!

Sarel ·

Praat baie maar kan nooit bevestig nie en omdat hulle verwyder was sal daar natuurlik gekla word

Perdeby ·

Ag asseblief net die nodige geweld is gebruik. Hulle moes sommer direk in ‘n vangwa gewees het ook.

Yvonne ·

Hulle het vir die kamera gespeel…….lee kanne maak die meeste geraas

Kokerboom ·

Ek skaam my vir die instelling wat as Parlement bekend staan asook kaliber “parlementslede”!!Ek distansieer my totaal!!!

Samuel ·

Die EFF se optrede is soos die van dom kinders. Nou is hierdie booswigte skielik die slagoffers? Asseblief word wakker!!

Maritza ·

EFF kan moes maak net soos hulle wil. Altyd die onskuldiges.

Dup ·

Dit gaan in die parlement soos in die land.Absolute chaos en wanorde.

Kobus ·

Ek het die foto van alle kante bestudeer. Al wat ek sien is ‘n “Engel” in Rooi wat “onverdiend” behandel word. Daai vlerkies het baie seergekry. Siestog! Die EFF bewys telkemale dat hulle ‘n party is wat nie ‘n positiewe bydrae kan of wil lewer nie. Hulle taktiek is slegs ontwrigting. Ek lei dus af dat hulle , die EFF hulleself die reg toe eien om te breek soos hulle wil maar duld geen optrede nie? As ek reg onthou, het die engel in Rooi ook nie met wilde klappe teruggehou nie

Miena ·

Ek het geleer…as jy nie wil luister nie dan moet jy maar voel, klaar!!!

JohanR ·

Gedra jou soos iemand wat geen maniere het jy dan moet jy maar…..take what’s coming! Hoop ‘n paar warm klappe het gehulp?

schalk ·

n vrou wat so te kere gegaan het in die parlement is nie die naam vrou werd nie sy het haar hande gelig ,presies wat het sy verwag gaan gebeur ,daar is videos van die petalje

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.