Eskom gryp vermeende steenkooldief

Argieffoto (Foto: Benita Welter/Pixabay)

Nog ʼn steenkoolvragmotorbestuurder is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hy in besit gevind is van substandaard steenkool wat hy by ʼn Eskom-kragsentrale wou aflaai. Die verdagte het glo op pad van die myn die steenkool van hoë gehalte met die swakker steenkool omgeruil, sodat hy munt kon slaan uit die beter gehalte steenkool.

Die bestuurder is by die Camden-kragsentrale in Mpumalanga in hegtenis geneem. Hy werk vir ʼn vervoermaatskappy wat gekontrakteer is om steenkool aan Eskom te lewer.

Volgens Eskom is steenkool van ʼn hoë gehalte by die Wonderfontein-steenkoolmyn opgelaai, maar het die bestuurder die steenkool by ʼn onwettige steenkoolwerf met steenkool van ʼn swakker gehalte omgeruil.

“Die private sekerheidsmaatskappy Bidvest Protea Coin Tactical Task Team wat deur Eskom gekontrakteer is om die diefstal van olie, steenkool en diesel te ondersoek, het gesien hoe die vragmotor die steenkoolwerf in Middelburg verlaat en het die voertuig tot by die kragsentrale gevolg,” sê Eskom in ʼn verklaring.

Die voertuig is by die hek van die kragsentrale voorgekeer.

“Tydens ondervraging het die bestuurder erken dat hy toegelaat is om die myn se perseel te verlaat sonder dat die seile oor die vragmotor se bak behoorlik geseël is. Hy het die seëls by hom in die bestuurderkajuit gehad en het dit gebruik om die seile te seël nadat hy die steenkool in Middelburg omgeruil het,” lui Eskom se verklaring.

“Die bestuurder het beweer dat ʼn werkgewer van die myn hom opdrag gegee het om die hoëgehaltesteenkool by die steenkoolwerf in Middelburg af te laai. Dieselfde werknemer het toe vir hom gesê om die substandaard steenkool aan Eskom te lewer.”

Die bestuurder is in hegtenis geneem en ʼn saak van diefstal word deur die polisie op Ermelo ondersoek. Meer inhegtenisnemings kan volg.

“Die inhegtenisneming van hierdie verdagte is ʼn noemenswaardige stap in ons stryd teen misdaad by Eskom, en ons sal aanhou in ons strewe om te verseker dat hierdie oortreders vir hul dade boet,” het adv. Karen Pillay, Eskom se algemene bestuurder vir sekuriteit, gesê.

“Om alles te kroon is die ondersoeker van Bidvest Protea Coin ook nog omkoopgeld van R50 000 aangebied om die bestuurder los te laat. Die omkoopgeld is van die hand gewys,” sê Pillay.

Op 10 November is nog twee steenkoolvragmotorbestuurders by die Kendal-kragsentrale in hegtenis geneem nadat hulle in die besit van vermoedelik gesteelde steenkool gevind is. Eskom sê nou hulle besef daar is kriminele elemente in die geledere van Eskom, die myne en vervoermaatskappye wat die proses van gehaltebeheer en vervoer van steenkool systap in ʼn poging om steenkool van uitsonderlike gehalte te steel. “Die vervanging van hoëgehaltesteenkool met substandaard steenkool het ʼn negatiewe impak op Eskom se vermoë om krag op te wek en Eskom verloor miljoene rande weens die wanaanwending van steenkool,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Di ·

Ek is seker daar is nog BAIE van hierdie skelms wat daar by Eskom werk. DIT is die totale ondergang van Eskom. Vang al hierdie skelms asook die besighede wat hierby betrokke is

Sean ·

So daars geen tracking op die steenkool vragmotors nie My werk weet as ek n blok uit roete uit ry

domheks ·

Verplig die steenkool vervoer maatskappy om Tracker/Cartrack( en daar is nog vele meer) in die trokke te sit. Tegnologie is daar gebruik dit net!

My siening ·

Hoogveraad hang hom die hele land ly onder die parasite!

Anel ·

So, hulle besef dit nou eers wasr die res van ons dit al lankal weet. Pateties!!!!

Moedeloos ·

Almal weet dit maar dis n ander storie om die skuldiges vas te trek. Jy kan niks doen as jy nie bewyse het nie. Nou het hul bewyse en kan daarmee werk.

Casper ·

Hoekom het hy die steenkool in Middelburg afgelaai is ‘n wye draai Ermelo toe.

Harley Davidson ·

Eskom moet hulle besig hou met die krag of die tekort daarvan en die kastige eenhede wat elke 2 de dag opklaar raak.

minnie muis ·

ek sal nie verbaas wees as daar anc hoe amptenare ook betrokke is nie

Roek ·

Hoop nie hul dink dit is ‘n groot sukses nie, dit is beslis nie net een karweier wat betrokke is nie hulle sal moet opskud of dit is ook klaar , die diesel manne staan reeds reg met die ekstra 50m litr diesel wat vervoer moet word !

Surfer ·

Hulle moes jare terug al WAKKER geskrik het, dit het nou n norm geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.