Eskom-ooreenkoms: Só vorder onderhandelinge

(Argieffoto: GCIS)

Die vakbonde Numsa en NUM gaan ʼn loonaanbod wat ná marathon-loononderhandelings deur Eskom op die tafel gesit is, aan sy lede voorlê vir ʼn mandaat.

Eskom en die vakbonde het Vrydag by die sentrale bedingingsforum onderhandelinge vir ʼn loonooreenkoms hervat.

Irvin Jim, sekretaris-generaal van Numsa, het gesê daar is amper 12 uur lank onderhandel waarna Eskom ʼn aanbod gemaak het met ʼn voorgestelde konsepooreenkoms.

“Ons sal dit na ons lede vat vir ʼn mandaat. Ons verstaan die hele land hou die onderhandelinge dop aangesien dit in die openbare belang is om dit [die staking] op te los en daar is baie druk op ons om dadelik te reageer.”

“Ons vra egter die publiek se geduld aangesien ons ʼn vakbond is wat deur die werkers beheer word. Ons het ʼn plig om eers ons werkers te raadpleeg voordat ons ʼn amptelike reaksie vir Eskom kan gee.”

Eskom en die vakbonde vergader weer Dinsdag waartydens daar terugvoer gegee sal word oor die aanbod.

Numsa en NUM staak al vir langer as ʼn week nadat loononderhandelings ʼn dooiepunt bereik het. Die betogings het voorvalle van intimidasie en die versperring van paaie na kragsentrales ingesluit.

‘Fase 8-beurtkrag dreig nie’

André de Ruyter, hoof van Eskom. (Foto: ANA)

Jan Oberholzer, Eskom se bedryfshoof, het Vrydag tydens ʼn nuuskonferensie gesê die vraag en aanbod op die kragnetwerk word voortdurend uitbalanseer om die stabiliteit en integriteit van die netwerk te verseker.

Te midde van berigte dat fase 8-beurtkrag ingestel kan word indien verdere probleme opduik, het Eskom gesê dit word nie in dié stadium verwag nie en dat voorsiening in dié verband gemaak is.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het Vrydag gesê dat dissiplinêre stappe teen werkers oorweeg word, onder meer die geen-werk-geen-betaling-beginsel. In gevalle waar intimidasie en saakbeskadiging voorgekom het, sal strafregtelike klagte ook oorweeg en aan die Nasionale Vervolgingsgesag voorgelê word.

Rhulani Mathebula, hoof van opwekking by Eskom, sê Eskom werk om die agterstand in instandhoudingswerk in te haal wat deur die staking meegebring is.

Mathebula het gesê by drie van Eskom se kragstasies, Matla, Hendrina en Arnot, het 90% van die werkers wat tans by onderhandelings betrokke is, nie vir werk aangemeld nie terwyl verskeie diensverskaffers ook weens intimidasie nie kan werk nie.

Hy sê die suksesvolle terugkeer van werkers is nou die belangrikste sodat beurtkrag beëindig kan word.

Ander uitdagings tans is onder meer die beskikbaarheid van diesel en ander reserwes, maar die kragvoorsiener behoort ná die naweek weer in ʼn beter posisie te wees in dié verband.

Beurtkrag afgeskaal

Eskom het Vrydagmiddag aangekondig dat hy nie meer saans fase 6-beurtkrag sal toepas nie aangesien daar ʼn laer vraag na elektrisiteit is as wat hy aanvanklik verwag het.

Fase 4-beuurtkrag het gister tot 22:00 gegeld waarna dit na fase 2 afgeskaal is. Fase 4-beurtkrag is van 07:00 tot 22:00 Saterdag van krag en dieselfde fases sal in dieselfde tydgleuwe ook vir Sondag geld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Keelvol ·

Die unie vra die land se geduld? Nogal arrogant. Die unie het die staking gereel. Daar moet deur elke landsburger vet eise teen die unie ingestel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.