Eskom sê oor Frankfort wat móét beurtkrag kry

Een van Rural Maintenance se sonplase in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Eskom meen dit is jammer dat die hof betrokke moes raak in sy geskil met Rural Free State, maar dat laasgenoemde moet voldoen aan die vereistes van die praktykkode ten einde die nasionale elektrisiteitsnetwerk in belang van die land as geheel te beskerm.

Die Johannesburgse hooggeregshof het vandeesweek teen Rural Free State (RFS), wat sonplase in die Frankfort-omgewing bedryf, beslis en hom verbied om sy eie beurtkragskedule in te stel en voort te gaan met die proses wat as “voiding” bekend staan.

Volgens Eskom word die vereistes vir munisipaliteite wat ingeboude opwekking het, uiteengesit in reguleringskode NRS048-9.

“Daar word van alle Nersa-lisensiehouers verwag om hierdie praktykkode in te stel om die billike inwerkingstelling van beurtkrag te verseker en om die integriteit van die nasionale elektrisiteitsnetwerk te beskerm.”

Die kragvoorsiener sê hy het RFS se aansoek om self beurtkrag in werking te stel op 25 Januarie goedgekeur. Hiervolgens kan ʼn kwalifiserende munisipaliteit sy kritieke dienste soos rioolstelsels en waterpompe teen onderbrekings beskerm. RFS het op 1 Februarie 2023 begin om self beurtkrag toe te pas.

Volgens Eskom het die probleem ingetree toe RFS “voiding” ingestel het. Dít is ʼn proses om alternatiewe energiebronne, wat nié van die staat afkomstig is nie, te gebruik om op te maak vir kragtekorte, soos tydens beurtkrag.

(Foto: Rural Maintenance)

“Eskom het hierdie voorstel herhaaldelik verwerp en probeer om RFS te help verstaan hoekom dit onaanvaarbaar en teenstrydig met NRS048-09 is. Dit is in hierdie stadium dat RFS besluit het om regsprosesse teen Eskom in te stel.

“In die geval van Frankfort is die opwekkingskapasiteit van die sonkragaanleg nie voldoende om al die elektrisiteitsbehoeftes van die dorp tydens beurtkrag te dek nie. Selfs gedurende dagure wanneer die aanleg optimaal werk, word ʼn gedeelte van die dorp se elektrisiteitsbehoeftes steeds deur Eskom voorsien. Soos in die res van die land, is die Eskom-voorsiende elektrisiteit aan Frankfort ook onderhewig aan beurtkrag. As RFS die Eskom-voorsiende gedeelte kon vervang deur alternatiewe elektrisiteitsbronne, soos elektrisiteit vanaf batteryberging of ʼn ander opwekkingsfasiliteit wat slegs tydens ʼn kragonderbreking gebruik word, sou hulle die behoefte aan beurtkrag kon uitskakel.”

Volgens Eskom is RFS se stelling dat hy nou geen ander keuse het as om gedeeltes van die sonplaas bedags af te skakel nie en ongebruikte sonkrag moet weggooi, misleidend.

“Eskom het geen beperkings op hul gebruik van selfopgewekte elektrisiteit geplaas nie. Eskom verwelkom die gebruik van elektrisiteit van onafhanklike kragprodusente wat kan help om beurtkrag te verlig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie ·

Die ANC wil SA terugneem na die “stone age” toe. Maak nie saak hoe mens kyk na die gebeure in Frankfort nie, dit maak net nie sin wat Eskom se redes is nie.

Chris ·

Ek probeer elke dag met ‘n positiewe gesindheid in te gaan. Ek beheer my emosies bestuur my gevoelens en onderdruk my ongeloof en woede. Ek het nie woodde om die ongrensende absolute sotlike waansinnigheidwaansin te beskryf nie. Ek bid elke dag en is dankbaar vir seeninge. Nommer een is dankbaeid, genade/liefde om ontverming oor ons. Ek leef in dankbaarheid. Ek vra egter om vergifnis en kwytskelding van straf vir die absoluut onverstaanbare idioties onbegryplike sotlike regering se doen en late. Die onderdanigheid aan die regering is vir my moeilik. My mense vehoudings word beproef en kom daar telkemale wrede gedagtes in my op. Ek is ‘n mens wat in sonde leef, maar die onbegryplike dade aksies beluite wat gepleeg word grens aan die banale. Mag ons Hemelse Vader vir ons genade hê.

Elméne ·

Chris, ek is presies dieselfde bootjie as jy, jy is nie alleen nie en ek dink daar is duisende in ons land wat hiermee kan identifiseer. Jy is reg, ek bid net dat ons Vader God se Genade groot genoeg sal wees om ons te vergewe.

Owlie ·

Die berigte stem glad nie ooreen nie
Dis totaal onnodig om soos kinders oor n stokkielekker te baklei Al wat Escom moet doen us om hul probleme en korrupsie uit te sorteer of privatiseer enblos diegene wat met alternatiewe opplosings vorendag kom

anko ·

Weet Eskom wat regtig aan die gang is. Dit voel so asof hulle na droë grashalms gryp. So val die pap daagliks in die modder. Die mooie land van ons is een groot gemors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.