Eskort se Springbox-veldtog platgeduik

Skermskoot uit ‘n video deur noma_ndongeni op Instagram.

Die Springbox-bemarkingsveldtog wat Suid-Afrikaners behoorlik aan die gons gehad het, het vandeesweek in die hek geduik nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Eskort hof toe gesleep het daaroor.

Saru het die vleisvervaardiger daarvan beskuldig dat hy sy “intellektuele eiendomregte en die Springbok-handelsmerk in ʼn lokvalbemarkingsveldtog gebruik het”.

Die unie het Vrydag bevestig dat hy ʼn hofbevel bekom het wat Eskort weerhou om die bemarkingsveldtog voort te sit.

Die Gautengse hooggeregshof het Eskort opdrag gegee om die woord Springbox van alle “naamborde, bemarkingsmateriaal, goedere en/of produkte van enige aard, insluitend baniere” te verwyder, asook van enige “plasings en publikasies van die woord op webwerwe, sosiale media en ander digitale platforms”.

Die saak sal in ʼn latere stadium beredeneer word.

Eskort het reeds aan die bevel gehoor gegee, en ʼn video gedeel waarin hy om verskoning vra.

Who knew things could get so heated over a cooler box?​​​​​​​Poor Frikkie was ordered to turn over his beloved #Springbox.Nice try Frikkie.Go #Springbox ????????????????

Posted by Eskort Food on Tuesday, September 12, 2023

Eskort het voor die aanvang van die lente sy Springbox-veldtog van stapel gestuur, wat onder meer verwys het na ʼn braaiboks vol van sy produkte.

Daarmee saam het hy ʼn groot advertensiebord by die Internasionale Lughawe OR Tambo gehad in die Springbokke se kenmerkende Groen-en-goud kleure met die leuse “Go Springbox! Love Eskort”.

Verskeie Suid-Afrikaners het die vleisvervaardiger geloof vir die vernuftige bemarking wat ingespan is, maar Saru was nie beïndruk nie.

“Ons sal doen wat ons moet doen om ons regte te beskerm en dié van ons hoogs gewaardeerde vennote, wat tans onbeskaamd in ʼn lokval geplaas word,” sê Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van SA Rugby.

“Ons kan nie toelaat dat maatskappye hul handelsmerk bevorder deur van die Springbok-handelsmerk gebruik te maak nie, wanneer ons werklike ondersteuners in korporatiewe Suid-Afrika – wat ons in staat stel om die Springbok-rugbyspan op die veld te plaas – betaal vir die regte om ons intellektuele eiendom te gebruik.”

Na verneem word, is Eskort nie ʼn amptelike borg van die Springbokke nie. Maroela Media het ʼn navraag aan Eskort gestuur oor die situasie, maar het geen terugvoer ontvang nie.

‘Respekteer die handelsmerk’

Saru het intussen daarin geslaag om verskeie aanlyn kleinhandelaars te laat sluit wat vervalste Springbok-klere verkoop het.

“Ons waardeer die ondersteuning wat die Springbokke kry en as ʼn span voel ons dit in Frankryk,” sê Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby.

“Maar, ouens, kan ons asseblief ons borge respekteer wat ons finansieel gedra het en ʼn lang pad saam met die span gestap het tot op hierdie punt.

“Ons waardeer elke stukkie ondersteuning – van diegene wat boodskappe stuur, die span aanmoedig en bloot ons wedstryde kyk. Dit het ons geïnspireer om alles op die veld te gee. Dankie aan die hele Suid-Afrika vir jul passievolle ondersteuning.”

Oberholzer sê maatskappye soos MTN en FNB het selfs in die moeilike tye die Springbokke ondersteun.

“Hulle [die borge] en ons uitsaaivennoot betaal ons vir eksklusiwiteit in hul sakegebied om die Springbok-handelsmerk en -logo te gebruik en toegang tot ander bates te hê.

“Dit is nie gratis om te gebruik vir enigiemand wat lus is nie, en daardie maatskappye wat die reëls van intellektuele eiendom verstaan ​​en rondom hulle dans, is net so skadelik. As hulle ons wil ondersteun, moet hulle dit op die regte manier en deur die regte kanale doen.”

Die Springbokke ding Sondag mee teen Roemenië in Bordeaux, Frankryk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Bernard ·

Intussen laat Rian toe dat die Springbok-embleem geleidelik verwyder word.

Kokkie ·

Jammer Oberholzer het nie so ‘n sterk standpunt ingeneem oor die ‘Checkers’ Rugbytrui waarmee die Bokke moet speel nie. Afwyking van ‘n baie sterk tradisie. Maar nou ja, geld praat.

Sues ·

Ek dink Eskort het niks verkeerd gedoen nie, die box’e by Saru gebruik nie regtig meer die springbok as hulle embleem nie. Die springbok is weggesteek op die truie. Ek dink nie die woord springbok word deur intellektuele eiendomsreg beskerm nie! Dit is ‘n woord wat deur die hele land gebruik word.
Dalk moet Eskort wegdoen met die Spring en net se Box. Dit is tog wat Saru sê hulle is.

Karel Kobus Kruger ·

Ek stel geensins in rugby belang nie, maar ek koop veel eerder by die verkeerslig as in n winkel teen 3x die prys.

Sues ·

Ek ondersteun hulle want ons kan nie almal R1000 vir ‘n trui betaal nie, hulle sin is baie meer bekostigbaar. As Saru sin ook binne die gemiddelde person se budget geval het sou ons nie die verkeerslig smouse ondersteun het nie.

Walda ·

Wat maak dit saak? Diebok sit nou op die linkermou van die Checkers/FNB trui, ons het nie meer n Springbokspan nie,net n paar protea blare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.