F1 in SA dalk van die baan

 

Die Kyalami-renbaan in Midrand. (Foto: Verskaf)

Dis dalk neusie verby met ʼn Grand Prix in Suid-Afrika volgende jaar, nadat gesprekke tussen Formule 1 en South African Grand Prix Ltd glo ʼn doodloopstraat bereik het.

Volgens die motorsport nuuswebwerf Racingnews.365 het ʼn gebrek aan finansiering, asook min steun vanaf die Suid-Afrikaanse regering die proses gepootjie.

ʼn Betroubare bron het die inligting aan Maroela Media bevestig. Formule 1 sal na verwagting oor die naweek ʼn amptelike aankondiging hieroor maak en die lys van volgende jaar se wedrenne aankondig.

Die tydsraamwerk is glo ook problematies, aangesien Suid-Afrika 30 jaar gelede ʼn Grand Prix aangebied het en nie alles in net ʼn jaar weer gereed sou kon kry nie. Daar sal na wat verneem word aansienlike veranderings aan die renbaan by Kyalami aangebring moet word.

Gerugte dat Formule 1-base hard daarna vry om die Formule 1 in 2023 op die Kyalami-renbaan in Midrand aan te bied, doen sedert Junie vanjaar die ronde. Dit het boonop gelyk of dinge momentum kry toe Stefano Domenicali (F1 se uitvoerende hoof) ná die Azerbeidjan-wedren na Suid-Afrika gevlieg het om plaaslike verteenwoordigers te ontmoet.

Dié motorsport het laas in 1993 ʼn draai in Suid-Afrika gemaak toe die Fransman Alain Prost op die Kyalami-renbaan koning gekraai het.

Toby Venter, wie se familietrust Kyalami beheer, het vantevore al gesê hy sal ʼn Grand Prix verwelkom, maar is nie bereid om self enige uitgawes daarvoor aan te gaan nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

twaalfboor ·

Goed so. Hierdie land verdien nie om so elite aangeleentheid aan te bied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.