Familie neem afskeid van Tutu

Blomme Sondag buite die St. George-katedraal in Kaapstad. (Foto: RODGER BOSCH / AFP)

Die familie van emeritus‑aartsbiskop Desmond Tutu het Sondag met dagbreek van hom afskeid geneem toe sy as tydens ’n private gesinsdiens by die St. George-katedraal in Kaapstad begrawe is. Die aartsbiskop is vroeër veras.

Sowat 20 familielede, onder wie sy weduwee, Leah, was teenwoordig toe Tutu se as vroegoggend deur aartsbiskop Thabo Makgoba onder ’n gegraveerde gedenksteen voor die hoë altaar geplaas is, sê die Anglikaanse Kerk in ’n verklaring.

Makgoba het Suid-Afrikaners versoek “om van die geleentheid gebruik te maak om op ’n skoon bladsy te begin”.

“Laat ons ons verbind … tot die radikale en revolusionêre verandering wat hy voorgestaan ​​het,” het Makgoba gesê.

Desmond Tutu (Julie 2018) Foto: Ayanda Ndamane/ANA

“Kom ons leef so eenvoudig soos hy geleef het, soos sy doodskis van dennehout met handvatsels van tou vir ons wys.”

Maroela Media het vroeër berig Tutu het voor sy afsterwe opdrag gegee dat dit ʼn eenvoudige seremonie sonder enige fieterjasies moet wees met ʼn goedkoop kis en ʼn ekovriendelike verassing, en eerder skenkings aan liefdadigheidsorganisasies in plaas van blomme.

Daar is aan die versoek gehoor gegee en ʼn beskeie staatsbegrafnis is Saterdag vir Tutu by die St. George-katedraal gehou waar hy jare lank gepreek het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Tutu tydens sy rede as “ʼn voorloper in die stryd na vryheid, geregtigheid, gelykheid en vrede” en “ons morele kompas en nasionale bewussyn” bestempel. “Alhoewel ons geliefde [Nelson Mandela] die pa van ons demokrasie was, was aartsbiskop Tutu die geestelike pa van ons nuwe nasie.”

Tutu is verlede Sondag in die ouderdom van 90 oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kobus ·

Nee kyk, met alle respek teenoor Tutu se familie, maar wat te erg is te erg. Hy is opghemel deur al wat leef, die woord ” apartheid” is in almal se toesprake gebruik. Dit maak hom ‘n held. Hy was nooit in trane oor plaasmoorde nie, nie gehuil oor die moord op Kinnear nie, nie gehuil oor verkragtings nie, net “apartheid” tot satwordens toe. Hoeveel van ons gewone burgers probeer apartheid regstel? Baie ,maar dis burgers wat nie elke dag op TV en in koerante verskyn nie. Wie blaas rassehaat aan? Nie ons gewone burgers nie. Moet toegee, Tutu het al die regering gekritiseer maar het ook nie veel gedoen nie.

annie ·

… Is kerke nou net daar vir die o so beskeie verheerliking van hoogheilige politieke aktiviste wat selfs aan die Vader voorskryf Wie Hy eintlik is. Beskeie is nie ‘n staatsbegrafnis met tv-dekking tot by die pole nie en dit ‘n hele week+ lank. Afrika hou van legendes en mites en voorvadergeeste en toneelspel.

Kobus ·

Stem saam. Dit was te erg. Elke nuuskanaal,elke koerant,elke radioonderhoud was net Tutu , Tutu en tot satwordens Tutu. Liewe genade, wat het hom so spesiaal gemaak? Daar is miljoene mense wat ook goed doen. Kyk maar na Gift of the Givers, wie gee hulle ooit krediet? Hoekom nie? Want hulle skreeu nie heeldag apartheid en politiek nie

Karina ·

Tutu is begrawe in ‘n kis wat ek eendag wil in lê, goedkoop, geen blinkgoeters of fieterjasies nie. Eenvoudige begrafnis.

Dries ·

Ja en Ramaphosa gebruik hierdie geleentheid om ook apartheid te skree om sy politieke loopbaan te verheerlik. Sies man . Elke dag verkondig hy op televisie sy politieke asperasies. My Fellow SouthAfricans. Gee die ander partye ook n beurt om hulle beleid te verkondig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.