Foto’s: ‘Hier’s die oplossing vir swak dienslewering’

(Foto: Verskaf)

Inwoners van Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo is moedeloos oor swak dienslewering, slaggate en wateronderbrekings, maar weet dit help nie om vir die munisipaliteit te wag om iets aan die saak te doen nie.

Daarom is die Ruk-Naboom-Reg-projek in Julie verlede jaar op die been gebring en woeker inwoners self om die dorp meer leefbaar, en vir besoekers aangenamer, te maak. Die projek is deur die plaaslike sakekamer van stapel gestuur en inwoners soos André van der Schyff, ’n pensionaris, het hierby betrokke geraak.

“Ons wil nie hê ons dorp moet ’n seer oog vir inwoners of besoekers wees nie, want ondanks die munisipale probleme is hierdie ’n baie lekker dorp. Daarom moet ons nou self ons hande vuil maak om die dorp reg te ruk, anders gaan niemand dit doen nie,” vertel Van der Schyff, projekbestuurder van Ruk-Naboom-Reg.

Hy meen dit kan ʼn oplossing vir ander dorpe met soortgelyke probleme wees, eerder as om te wag vir plaaslike regerings om hul werk te doen.

Afgesien van die dorp se gereelde wateronderbreking, is die riool wat buite die rioolaanleg opgaar en in die Nylrivier uitloop, asook die hordes slaggate en vullis, ’n groot kopseer vir inwoners.

Volgens Van der Schyff hou die munisipaliteit hom vir jare al blind vir die probleme en van die inwoners het al selfs uit die dorp getrek weens die voortslepende gebrek aan dienslewering.

“Inwoners het heeltemal vertroue in die munisipaliteit verloor.”

Die Modimolle-Mookgophong- plaaslike munisipaliteit bedien dorpe soos Mookgophong, Modimolle, Roedtan en Vaalwater.

Swak dienslewering

Volgens Van der Schyff sit inwoners vir dae aaneen of selfs weke sonder water. Dit is omdat die watervolume wat die munisipaliteit aan die dorp lewer, te min vir al die huishoudings is.

Die dorp se water is van boorgate in die Nyl-vallei en die Welgevondendam (wat sowat ’n derde van die dorp se water lewer) afkomstig. Van die 21 boorgate, wat die primêre bron van water vir die dorp is, is slegs vier werkend.

“Die vier boorgate pomp hopeloos te min water om genoeg water aan die dorp te voorsien. Die watersuiweringsaanleg suiwer ook nie genoeg water nie, onder meer omdat die aanleg se toerusting, soos die chloreneerders, flenters is.”

Inwoners van omliggende nedersettings dreig ook al met protesaksie oor die wateronderbrekings.

AfriForum het jare gelede reeds die hof oor die waterkrisis in die dorp genader. Die organisasie het verlede jaar sukses behaal toe die hooggeregshof in Polokwane beslis het dat twee boorgate en twee plaasvervangerboorgate aan Naboomspruit (Mookgophong) se waternetwerk gekoppel word om water aan dié dorp se inwoners te verskaf.

Volgens Van der Schyff het die munisipaliteit sedertdien nog nie ’n vinger verroer om aan die hof se beslissing te voldoen nie.

AfriForum het ook in 2017 ’n hofaansoek ingedien, wat onder meer vereis dat die munisipaliteit se vullisterrein opgeknap word. Volgens Van der Schyff lê vullis steeds in hope buite die oorvol vullisterrein.

“Nou bestaan die risiko dat die riool en vullis ons ondergrondse water kan besoedel.”

Volgens Van der Schyff lê die probleem by die tegniese dienste‑afdeling van die munisipaliteit, waar die direkteur versuim om sy pligte na te kom.

Hierdie direkteur is verantwoordelik vir tegniese dienste wat gelewer moet word, onder meer die herstel van die boorgatpompe, toerusting en slaggate.

Maak hande self vuil

Die Ruk-Naboom-Reg-projek, wat tans hoofsaaklik deur drie mense bestuur word, maak slaggate reg, help om water tydens wateronderbrekings aan te ry, tel vullis op en maak parke skoon en netjies. Die span het onlangs ook die begraafplaas op die dorp opgeknap.

Die span fokus hoofsaaklik daarop om die deurgang- en toegangsroetes wat mense gebruik om deur die dorp te ry, netjies en skoon te hou.

“Ons het onlangs meer as ʼn duisend sakke se vullis langs die toegangsroetes opgetel.”

Die projek maak staat op donasies om die nodige toerusting aan te skaf en dagloners te huur, maar het sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie minder donasies ingekry.

“Voor die Covid-19-pandemie het ons maandeliks tussen R3 000 en R4 000 se donasies gekry, nou sukkel ons om R1 000 per maand in te samel.”

Van der Schyff sit ook self skouer aan die wiel. Voordat hy by die projek betrokke geraak het, het hy self vir sowat vyf maande in sy private hoedanigheid die dorp skoon en netjies probeer hou.

Sedert die projek se aanvang is daar ’n duidelike verskil in die voorkoms van die dorp en volgens Van der Schyff moet elke dorp in die land só projek van stapel stuur.

“Die meeste dorpe sukkel met dieselfde probleme as ons en baie van hulle het ook reeds sulke projekte begin. In Nylstroom het ’n klomp tannies self hul hande begin vuilmaak om slaggate reg te maak. Mense moet besef hulle moet hul huise verlaat en vra waar hulle betrokke kan raak. Dit is al hoe ons ’n verskil in ons dorpe sal maak. Die regering gaan dit nie vir ons doen nie.”

Van der Schyff sê hul werk met die projek sal die dag ophou wanneer die stadsraad hul werk begin doen.

“Want as ons niks doen nie, wat sal ons alternatief wees? Ek sien geen ander oplossing nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

007 ·

Alles goed en wel, maar kom verkiesings tyd stem die massas weer ANC. Hoop regtig julle kan dit ook verander. Naboomspruit was altyd een van
die mooiste dorpe in die ou Transvaal.

Grassie ·

Die stadsraad se mense juig natuurlik oor die inwoners se werk. Hulle word betaal om die werk te doen maar nou doen die inwoners dit self en die spul luiaards kan nou net verdeer op hulle agterente sit en hoef nie hul hande uit hul moue te steek nie. Luilekkerland – die peoples se droom.

Republikein in die Wes Kaap ·

Mnr Van der Schyff, moet asseblief nie jou aftreegeld gebruik om jou dorp te probeer red nie.

Frederik C ·

Goeie idee, maar hou dan op om erfbelasting te betaal. Betaal slegs elektrisiteits & water verbruik.

Ronél ·

Waar is die Kaders met al die geld??? Hulle kan gerus hande uit die mou steek en ‘n bydrae lewer.

Hennie ·

Ek hoop dat hulle ook ophou heffings betaal, anders word dit n nimmereindigende gewerk waarvoor hulle dubbel moet betaal …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.