Foto’s: Matrieks vier veerkragtigheid, nie net onderskeidings

Nina van der Merwe en haar ma, Helena, kyk saam na haar uitslae by die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die matriekklas van 2023 het Vrydagoggend landswyd hul uitslae beklink en gebede, genade en “getroue onnies” vir hul sukses geloof.

Talle leerders in dié graadgroep sê hul vier egter vanjaar nie net onderskeidings nie, maar ook die veerkragtigheid wat hulle deur die Covid-19-pandemie gedra het.

“Matriek is ʼn besige jaar, maar ek dink ook tieners moet onthou dat dit nie net oor werk gaan nie. Maak tyd om jouself en die hele ervaring behoorlik te geniet,” het Mia van Heerden van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) aan Maroela Media gesê.

Mia spog met ʼn verbysterende nege onderskeidings, waaronder twee vir bykomende wiskunde-vakke is.

Dié wiskunde-boffin het reeds by twee universiteite in die VSA keuring gekry om biomediese ingenieurswese te studeer, maar wag nog om van ʼn paar terug te hoor voordat sy haar finale besluit maak.

Haar vriendin, Lize-Mari Joubert, het vier onderskeidings ontvang en gaan vanjaar voorsieningskettingbestuur aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.

“Matriek is natuurlik ook lekker vir daardie klein goedjies; dat jy eerste van die bus af mag klim en die beste sitplek op die paviljoen het. Ek is opgewonde om ʼn nuwe lewensfase te betree, maar my hart sal definitief na my skooljare terugverlang.”

Suzelle Eilerd en Anné Kruger, ook van AHMP, sê tergend dat die Springbokgees verlede jaar hul aandag tydens ʼn geskiedeniseksamen afgetrek het.

“Ons het ons een vraestel geskryf op dieselfde dag wat die Springbokke deur Pretoria op die bustoer was, so al wat ons die hele dag gehoor het, was Mango Groove se ‘Special Star’ en ‘Hier kom die bokke’,” vertel Suzelle, ʼn voornemende landboubestuurstudent, laggend aan Maroela Media.

Sy het dank teenoor haar skool se onderwysers uitgespreek, wat volgens haar “op elkeen se individuele prestasies en vermoëns” gefokus is.

“Daar word nie net na ons as ʼn groep gekyk nie. As jy iemand is wat gewoonlik 60% en nou 70% gekry het, is dit vir hulle fenomenaal. ”

Jean Ludick van die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria sê dit was ʼn “moeilike, maar goeie jaar”, en dat hy besonders tevrede met sy uitslae is.

Hy glo die land se matrieks behoort saam trots te wees dat hul te midde van die pandemie hul skoolloopbaan kon voltooi.

“Dit was beslis ʼn uitdaging om terug te keer skool toe [na die pandemie] en om weer in die gewone skoolritme te kom. Ons moes maar koppe neersit en hard werk.”

Hy sien vanjaar uit om BCom Rekeningkunde aan Akademia te begin studeer.

Roland Middelberg, nog ʼn Affie, gaan saam met Jean sy studies by Akademia voortsit en sê hy gaan veral na sy skool se “gees en broederskap” verlang.

“Iets wat my skool my geleer het, en wat ek altyd saam met my sal dra, is dat vriende ook soos familie kan wees.”

Kayla Landsberg, ʼn matrikulant aan Hoërskool Waterkloof in Pretoria, het agt onderskeidings ingepalm.

“Ek voel baie goed, ek is baie bly oor al my onderskeidings. Ek het hard gebid, en hard gewerk. Ek kan uiteindelik net dankie sê vir die Here,” vertel sy aan Maroela Media.

“Ons is geheg aan ons onderwysers. Toe die skole Woensdag begin het, het ons hier stilgehou om die onderwysers ʼn laaste keer te groet.”

Chris Denysschen, hoof van Hoërskool Waterkloof, sê die klas van 2023 lê hom besonders na aan die hart, en het nie net vir hulself nie, “maar ook vir die Here gewerk”.

“Ek is bewoë, want hierdie is die eerste matriekgroep waarmee ek nou die volle vyf jaar gestap het sedert ek as skoolhoof hier begin het. Dit gaan ook nie net vir ons oor die werk nie, maar ook oor die hartlikheid, liefde en passie van skoolgee. Ons is dankbaar teenoor die Here vir hierdie fantastiese uitslae.”

Matrikulante van Bergsig Akademie in Rustenburg, Noordwes, deel ook in die vreugde van puik uitslae.

Dioné Woodrow, Melissa. Venter, Renier Barnard, Eliané Burger, Roland Powell, Jumanné Mulder, Juliana Woeke, Zander Schoeman van Bergsig Akademie in Rustenburg, Noordwes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.