Fotos: Swemmers plaas SA 7de op medaljelys

Lara van Niekerk in aksie by vanjaar se Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Twee 18-jarige swemsensasies van Pretoria, Lara van Niekerk en Pieter Coetzé, het Saterdagaand in Birmingham vir dubbele goue plesier vir die Suid-Afrikaanse span by die Statebondspele gesorg.

Die 18-jarige Van Niekerk het die goue medalje in die 50 m-vryslag gewen en die 18-jarige Coetzé het in die 100 m-rugslag vir mans haar dit nagedoen.

Dit was Suid-Afrika se eerste twee medaljes tot dusver vanjaar en dit het die span tot sewende op die medaljetabel laat inskuif. Tatjana Schoenmaker en Chad le Clos sal na verwagting Sondag nóg medaljes laat inrol.

Australië, met 32 medaljes (13 goud, agt silwer en 11 brons), is gemaklik voor, gevolg deur Nieu-Seeland met 13 medaljes (sewe goud, vier silwer en twee brons). Dan volg Engeland met 21 medaljes (vyf goud, 12 silwer, vier brons), Kanada met 11 medaljes (drie goud, drie silwer en vyf brons), Skotland met 12 medaljes (twee goud, vier silwer en ses brons) en Maleisië met drie medaljes (twee goud en een brons).

Pieter Coetzé ná die mans 100m rugslag tydens die Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Van Niekerk, wat by die onlangse wêreldswemkampioenskap in Boedapest die span se eerste medalje (brons) gewen het, het die Statebondsrekord drie keer verbeter.

In die eerste uitdun het sy die afstand in 29,82 sekondes afgelê en dit in Saterdagoggend se halfeindronde met 29,80 sekondes opgevolg. In die eindronde het sy haar eie rekord laat spat met ʼn wentyd van 29,73 sekondes.

Coetzé het sy eerste titel op ʼn groot byeenkoms gewen toe hy die 100 m-rugslag in ʼn tyd van 53,787 sekondes gewen het.

Coetzé het met sy laaste strek die muur net-net voor die Engelse gunsteling, Paul Brodie, geraak.

Die ander groot hoogtepunt was die uithalervertonings van die Blitsbokke in sewesrugby.

Die Blitsbokke, wat in Sondag se halfeindronde teen Australië te staan kom, het Kanada laat Saterdagaand met 33-0 uit hul pad in die kwarteindronde gevee.

Die Blitsbokke, wat nog geen punte in die tweede helfte afgestaan het nie, het Maleisië (46-0), Skotland (34-0) en Tonga (36-5) verslaan voor hul wegholsege oor Kanada.

Suid-Afrika neem Sondag in tien sportsoorte deel met die halfeindronde van die sewesrugby (13:04 teen Australië) straks die grootste hoogtepunt om na uit te sien. Dan is Chad le Clos, Tatjana Schoenmaker en Pieter Coetzé onder meer in die swembad in aksie en die netbalspan speel om 14:00 teen Barbados.

So het die SA span Saterdag gevaar:

Caitlin Rooskrantz van Suid-Afrika neem deel aan artistiese gimnastiek by die Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Pluimbal: Maleisië 5, Suid-Afrika 0.

Strandvlugbal: Suid-Afrika 0, Rwanda 2.

Boks: Hussam Udedin Mohammad van Indië het Amzolele Dyeyi met 5-0 in die ronde van 32 in die 57 kg-afdeling oorskadu.

Krieket (vroue): Nieu-Seeland (167/2) het Suid-Afrika (154/7) met 13 lopies in hul T20-wedstryd geklop. Chloe Tryon (36) en Sune Luus (32) het wal probeer gooi, maar die wenteiken was te groot.

Gimnastiek: Caitlin Rooskrantz, Naveen Daries, Shante Koti, Garcelle Napier en Mammule Rankoe het die eindronde van die spanafdeling gehaal, maar het vierde geëindig. Dit was nogtans die span se beste vertoning sedert 1994.

Hokkie (mans): Suid-Afrika 2, Pakistan 2.

Tim Drummond, deel van die Suid-Afrikaanse hokkiespan, speel teen Pakistan tydens die Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Rolbal: Colleen Piketh het met 18-21 teen Shae Wilson (Norfolk-eiland) verloor.

Daar was ook min blydskap in die pare-afdeling (para) teen Australië, maar die span het darem met 14-14 teen Nieu-Seeland gelykop gespeel.

Die manspare is met 18-10 deur Skotland geklop en het in die vierde ronde met 7-17 teen Nieu-Seeland verloor.

Netbal: Jamaika het Suid-Afrika met 68-49 geklop. Só het die kwarte verloop (Jamaika eerste genoem): 18-7, 19-12, 17-12, 14-18.

Para-atletiek (marathon): Tiaan Bosch het agtste geëindig in 2:05.57.

Sewesrugby (mans): Blitsbokke kwalifiseer vir halfeindronde ná seges oor Maleisië (46-0), Skotland (34-0), Tonga (36-5) en Kanada (33-0) in die kwarteindronde. Vroue: Engeland het die uitspeelwedstryd om die vyfde tot agtste posisies met 36-0 gewen. Die span het al sy wedstryde ver verloor.

Tatjana Schoenmaker in aksie tydens die vroue 50m borsslag by die Statebondspele. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

Swem (200 m-vryslag): Matthew Sates eindig sesde in die eindronde. Goue medaljes vir Lara van Niekerk en Pieter Coetzé.

Tafeltennis (vroue): Suid-Afrika klop Fidji met 3-2 in Groep 2. Mans: Ghana klop Suid-Afrika met 3-1.

Basketbal (rolstoel): Suid-Afrika verloor met 2-16 teen Skotland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Lekker lag ek nou oor die strandvlugbal uislag, siende dat Ruanda so ver van die see af is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.