‘Gedagtes en gebede’ gaan Eskom nie red

Die Komati-kragsentrale. (Argieffoto: Eskom)

Goeie instandhouding is die oplossing vir Eskom se voortslepende probleme en hoewel ʼn ramptoestand op kort termyn finansiële verligting kan bied om geld makliker na die beleërde kragvoorsiener te kanaliseer, is dit nie ʼn volhoubare antwoord nie.

En, sê Deon Reyneke, adjunk-sekretaris-generaal van Solidariteit, “die regering sal báie geld moet gee om die probleme op te los”.

Die energiekenner Tshepo Kgadima sê ook Eskom moet dié eenhede wat buite diens is, so gou moontlik weer aanlyn kry en sodra bestendigheid verkry is, kan daar na ander opsies gekyk word.

Die DA vra nou al geruime tyd dat ʼn ramptoestand, spesifiek gemik op Eskom, verklaar moet word, met DA-leier John Steenhuisen wat sê die kragkrisis is nou nie meer net ongerieflik nie, dit plaas die toekoms van Suid-Afrika in die weegskaal.

Die verklaring van ʼn ramptoestand beteken noodfinansiering kan vinniger beskikbaar gestel word, byvoorbeeld vir diesel om die oopsiklus-gasturbines aan die loop te hou. “Selfs meer belangrik, laat ʼn ramptoestand die regering toe om sy selfingestelde hindernisse, knelpunte en kosteverhogings in die vorm van onwerkbare arbeidswetgewing, vereistes oor lokalisering, kaderontplooiing en voorkeurverkryging te omseil,” sê Steenhuisen.

Reyneke stem saam dat ʼn ramptoestand die toedeling van geld aan Eskom kan vergemaklik, maar op lang termyn is behoorlike instandhouding en die terugkeer van skaars vaardighede na die kragvoorsiener die enigste oplossing.

“Die instandhoudingswerk word afgerammel. Omdat ons in die situasie is waarin Suid-Afrika hom tans bevind, probeer hulle die werk so gou moontlik klaarmaak. Die werk word ook nie reg gedoen nie, aangesien diegene wat dit doen, nie opgelei is in die fynere spesialiswerk nie.”

Kgadima sê dit is onduidelik wat presies die uitkoms van ʼn ramptoestand uiteindelik gaan wees – en in terme van watter presiese regulasies dit ingestel sal word.

Hy sê Eskom moet ophou om geld in die bodemlose put van Medupi en Kusile te stort en dit gebruik om volhoubare kapasiteit by die netwerk te voeg. “Die grootste risiko wat Eskom nou in die gesig staar, is dat die netwerk ineenstort. Dit sal gebeur indien die vlak van onklaarheid 20 000 MW bereik.

“Onbeplande instandhouding het onlangs op 17 000 MW gestaan. As jy die 20 000 MW-vlak bereik, is dit die einde,” waarsku Kgadima.

Ineenstorting ‘moontlik maar onwaarskynlik’

(Foto: Du Preez de Villiers)

Steenhuisen sê pres. Cyril Ramaphosa moet dringend sê wat die regering gaan doen om hierdie situasie te verhoed. “Eenvoudig gestel, ons land gaan nie die ineenstorting van die kragnetwerk oorleef nie, sou dit gebeur – en dit is waarheen ons op pad is,” sê Steenhuisen.

Onafhanklike energiekenner Chris Yelland stem egter nie saam dat ʼn algehele netwerkineenstorting op hande is nie.

“Daar is steeds baie hefbome wat beskikbaar is vir Eskom; die probleem ontstaan wanneer jy nié daardie hefbome trek nie.”

Reyneke glo ook nie dat ʼn ganse ineenstorting van die netwerk sal gebeur nie. “Die kans dat ons dalk na fase 7 of fase 8 kan gaan, is goed. Die netwerk is egter só ontwerp dat hy homself beskerm en die kans dat die hele land ʼn onderbreking sal ondervind, is onwaarskynlik.”

Hy sê vaardige ingenieurs en ambagslui wat gehaltewerk kan lewer – en geld om behoorlike instandhouding te doen – moet geprioritiseer word, selfs al beteken dit dat ʼn kragsentrale langer van die netwerk afgehaal word.

Geld vir diesel

Dat daar rede tot kommer is, is wel só. Eskom het tot April, wanneer die nuwe boekjaar begin, geen van sy eie geld meer vir diesel nie. Hy het sedert April vanjaar reeds meer as R11 miljard aan brandstof bestee.

Die tesourie het ingegryp en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Donderdag aan LP’s gesê Petro SA sal 50 miljoen liter diesel aan Eskom lewer en daar word aan permanente oplossings vir lae dieselreserwes gewerk.

Peter Bruce, voormalige redakteur van Business Day, skryf die afgelope week dat selfs indien die tesourie die R15 miljard vir diesel vind – die bedrag waarvoor Eskom gevra het – gaan onderhandelings met Eskom daaroor nog lank voortsleep.

“Verwag die plundering van begrotings van welsyn tot gesondheid en onderwys om dit te finansier – indien dit ooit gebeur.”

Steenhuisen sê Suid-Afrikaners is moeg vir praatjies. Hulle hoor al jare lank dat beurtkrag binnekort iets van die verlede gaan wees, maar niks verander nie. “Woorde alleen gaan nie hierdie gemors regmaak nie. Jy kan dit nie beter wens met gedagtes en gebede nie. Jy moet eerlik wees oor wat dit veroorsaak het en jy moet dapper wees in hoe jy van koers verander.”

Privatisering

(Foto: Du Preez de Villiers)

Die landbouorganisasie TLU SA sê Suid-Afrika “staan voor ʼn keerpunt” met die kragkrisis en dat Eskom geprivatiseer moet word voor die huidige stand van sake die land oor die afgrond stuur.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die organisasie, sê privatisering is die enigste oplossing. “Eskom se probleme is operasioneel en finansieel. Om net aan te hou met klein veranderinge en die heen en weer skuif van Eskom se skuld, gaan die probleem nie oplos nie.”

Van Zyl sê Thulas Nxesi, minister van arbeid, is een van diegene wat gekant is teen privatisering omdat dit volgens hom krag duurder gaan maak en alle Suid-Afrikaners nie toegang daartoe sal kry nie.

“Die ironie is tans kry die hele Suid-Afrika net sporadies elektrisiteit.”

TLU SA verwys onder meer na opmerkings van KW Miller, ʼn internasionale energie-omkeerspesialis, wat sê Eskom is ʼn “operasioneel wanfunksionele, finansieel insolvente, onbetroubare en korrupte entiteit”.

Miller meen die enigste opsie is vir die private sektor om die produktiewe bates van die staatsbeheerde kragverskaffer oor te neem en ontslae te raak van derdeparty-bloedsuiers en misdaadsindikate wat Eskom droogbloei.

“Die probleme by Suid-Afrika se Eskom is so erg as wat ek enigsins in my ganse loopbaan gesien het, aangesien dit elke enkele probleem het wat jy jou tydens herstrukturering kan voorstel – finansieel en operasioneel. En dit is die feite wat Suid-Afrikaanse belastingbetalers nou begin verstaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Yvonne ·

Grootste faktor van ondergang in SA is misdaad in alle vorms

Ronél ·

Gebed dra krag, MAAR elkeen moet sy kant bring………………

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom ons gaan deur die lys: Krag tekorte, water tekorte, onverwerkte riool, ecoli, misdaad, korrupsie, staatskaping, swak onderwys, vervalle hospitale, swak grensbeheer, vervalle munisipaliteite, munisipale skuld, veswakte polisiemag, vervalle weermag, spoor en padnetwerk wat uitmekaar val, vervalle hawens, plaasmoorde, oorvol tronke, verswakte howe, enorme staatsskuld, hoë werkloosheid, lae ekonomiese groeikoers, mislukte staats korporasies, patetiese staatsdiens, en baie meer. Jy is reg, RIV.

Elméne ·

Ha-ha – baie gekef-kef maar ondersteun in werklikheid altyd die anc clown “regering” – soos onder andere die skole se “oop” kleedkamers!! So – kom ons vergeet maar dat daar enig iets positiefs van HULLE (DA) kant sal gebeur, daar het in elk geval nog niks positief van hulle kant gekom gedurende die afgelope 29 jaar nie.

Danie ·

Verkoop een of twee kragstasies en kyk wat gaan gebeur.Hulle is bang daar word n sukses daarvan gemaak deur die privaatsektor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die staat (eintlik belastingbetalers) moet al Eskom se skuld oorneem en klaarkry. Begin dan privatiseer soos jy sê. Nuwe eienaars begin met sterk balanstate. Laat nuwe toetreders toe met verdere beleggings, soos hernubare krag.

Hayntjie ·

Steenhuisen moes liefs nie gesê het dat gebede nodeloos is nie. Ongelukkig onderstreep dit die moontlike ongeloof en Godloosheid van ons leiers. Wonder ons dan hoekom ons land in toenemende chaos is? Mnr Steenhuisen, u het vir uself en die DA met u stelling dat gebede nutteloos is ʼn lat gepluk wat ons land en sy inwoners nie nodig het nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien God die lat swaai het ek nie ‘n probleem nie. Wie nie luister nie moet voel.

Piet parys ·

Met al die geld van die mense wat wel eskom betaal sal Escom nie gered word nie . Dit is dieselfde as om n Aap n pak klere aan te laat trek en nou is hy hoogs inteligent . Resep vir n misluking

Niklaas ·

Begin met die groot vraagstuk in Soweto waar die geen-betalers woon. Maar dit is een delikate probleem vir die Kaders .

annie ·

Steenhuisen maak ‘n fout as hy dink dat gebede en gedagtes nie gewig dra nie… net verwaande geskreeu van die kantlyn af. Om ‘n leier te wees verg effens meer staatsmanskap as dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.