Gemeenskap in skok ná seun (13), tannie op plaas sterf

Kerneels Rautenbach (Foto: Facebook)

ʼn 13-jarige seun en sy tannie is Vrydag dood in ʼn voorval op ʼn plaas in die Standerton-omgewing in Mpumalanga.

Kerneels Rautenbach is dood toe hy in ʼn mieliebunker geval het. Sy tannie, Jackie Rautenbach (33), het ook gesterf toe sy tot sy redding probeer kom het.

Volgens André Pienaar, voorsitter van die AfriForum-buurtwag op Standerton, het daar Vrydag teen skemertyd boodskappe op verskillende gemeenskapsgroepe ingekom om hulp te versoek op die betrokke plaas.

By lede van AfriForum-buurtwag se aankoms op die toneel was daar reeds verskeie boere van omliggende plase en lede van die gemeenskap teenwoordig en besig met ʼn grootskaalse reddingsproses.

Volgens die beskikbare inligting het Kerneels en ʼn maat gespeel toe hy in die mielieput geval het. Die maat het hierna alarm gemaak en dit is toe sy tannie hom te hulp gesnel en self in die moeilikheid beland het.

Pienaar het gesê daar is onverpoosd gewerk om die mielies uit die put te verwyder om by Kerneels en sy tannie uit te kom. Teen die tyd wat hulle bereik is, was hulle reeds dood. Die polisie en ambulansdienste is ook ontbied en was saam met ander rolspelers tot laataand op die toneel.

“Almal het ingespring en gehelp. Die gemeenskap is in skok,” het Pienaar gesê.

Jackie Rautenbach (Foto: Facebook)

Laerskool Standerton het intussen hulde aan Kerneels en Jackie gebring.

“Ons groet ʼn spesiale Stannie-leerder. Ons harte is seer, ons woorde is min. Kerneels Rautenbach, in jou kort rukkie saam met ons op aarde, het jy baie harte aangeraak.

“Jy sal altyd onthou word vir die pragtige seun met die mooiste hart. Ons Stannies gaan jou mis. Rus in vrede Kerneels. Innige simpatie en meegevoel aan die Rautenbach-familie.”

Omtrent Jackie se dood het die skool gesê: “Ons Stannies dra ons innige meegevoel oor aan die Rautenbach-familie. Jackie was ʼn mamma van een van ons graad 5-leerders. Rus in vrede Jackie. Jy was so dapper.”

Kerneels word oorleef deur sy ouers en twee sibbe. Jackie word oorleef deur haar man en twee kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.