Geregtelike ondersoek na Joemat-Pettersson se dood gedoen

Tina Joemat-Pettersson. (Foto: SAPA)

Die polisie doen ʼn geregtelike ondersoek na die dood van ANC-LP Tina Joemat-Pettersson.

Joemat-Pettersson is op 5 Junie onverwags in die ouderdom van 59 dood.

Die oorsaak van haar dood is steeds nie bekendgemaak nie, maar kol. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het aan News24 bevestig dat ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Volgens Mathe wag die polisie nog op die finale verslag van die departement van gesondheid in dié verband. Dit sal egter slegs met Joemat-Pettersson se gesin bespreek word en nie bekend gemaak word nie.

Joemat-Pettersson was ten tyde van haar dood ʼn ANC-LP en het as voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie gedien. Sy is voor haar dood egter betrek by bewerings dat sy een van drie parlementslede was wat R600 000 van Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer (OB), se man, Mandla Skosana, probeer kry het, berig Daily Maverick.

Dit sou na bewering in ruil daarvoor gewees het dat die ondersoek na Mkhwebane – oor haar bevoegdheid vir die amp – uiteindelik verdwyn.

Mkhwebane het by ʼn onlangse mediakonferensie gesê indien die wetgewende gesag sy werk gedoen het, Joemat-Pettersson “nog sou geleef het”. Sy het egter nie uitgebrei oor wat sy met die stelling bedoel nie en het ook gesê sy weet nie wat die oorsaak van Joemat-Pettersson se dood was nie.

Mkhwebane het die DA, die ANC en die parlement se artikel 194-komitee egter daarvan beskuldig dat hulle hul plig versaak het en ook skuld op die polisie, die Valke en die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gepak. Sy het egter gesê dat sy nie self enige bloed op haar hande rakende Joemat-Pettersson se dood het nie. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Die vrou maak darem wilde aantygings en soos dit klink, geen werklike bewyse nie.

Roek ·

Sy is seker nie so dom om so iets kwyt te raak sonder bewyse nie ….of sal sy ?

JohanR ·

Een van die dae gaan die ANC nog werk skep deur vir elke kader sy eie voedsel en drank kader te kry. Die arme kader toets eers en as hy/sy nie omval dan kan voort gaan en geeet en gedrink word.

Perdeby ·

Ek dink sy het haar eie lewe geneem, maar dit sal ons nooit weet nie, want die familie sal dit nie toelaat nie, of vergiftiging

Onnie ·

Ek het via the grapevine gehoor daar word vermoed sy het “selfdood” gepleeg – met die klem op die aanhalingstekens… hier is dalk ‘n slang in die gras.

Cherokee ·

Julle maak wilde bewerings. Tussen die lyne gelees mag daar wel rede vir vrae wees.

Joe Olivier ·

Ek hoop sy het darem die winste uit die verkoop van SA se ruolie aan die fiscus bemaak in haar boedel.

Roek ·

Nee wat Joe ek dink en weet dit is al laaaankal onder die klomp verdeel !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.