‘Howe staan by Ramaphosa’ hoor OB se man glo

Adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste OB, Dinsdag tydens die mediakonferensie. (Foto: Skermskoot)

“Die howe staan by [pres. Cyril] Ramaphosa.”

Dit is glo van die “ysingwekkende uitlatings” wat wyle minister Tina Joemat-Pettersson gemaak het toe sy adv. Busisiwe Mkhwebane, geskorste openbare beskermer (OB), se man, David Skosana, na bewering probeer afpers het sodat die ondersoek na sy vrou kan “verdwyn”.

Mkhwebane het Dinsdag, ondanks waarskuwings van die parlement se etiekkomitee, opnames bekend gemaak wat sy sê klinkklare bewyse is dat Joemat-Pettersson en nog twee ANC LP’s, Qubudile Dyanti (voorsitter van die artikel 194-komitee wat Mkhwebane se bevoegdheid as OB ondersoek) en Pemmy Majodina (ANC-hoofsweep) R600 000 by Skosana geëis het.

Die opnames is tydens ʼn nuuskonferensie in Sandton gespeel, maar die klank was met tye baie onduidelik, onder meer weens agtergrondgeraas in die restaurant waar dit glo opgeneem is. Mkhwebane sê die opnames moet saam met die sowat 90 WhatsApp-boodskappe tussen Joemat-Pettersson en Skosana gelees word.

Die opnames en Whatsapp-boodskappe sal glo binnekort saam met haar verklaring aan lede van die media versprei word.

Mkhwebane verwys na die beweerde gebeure as die “grootste korrupsieskandaal” in die geskiedenis van Suid-Afrika. Sy voer ook aan dat indien die wetgewende gesag sy werk gedoen het, Joemat-Pettersson “nog sou geleef het”.

Joemat-Pettersson is verlede Maandag dood gevind, maar die oorsaak van haar skielike afsterwe is nog nie bekend nie.

Mkhwebane het die DA, die ANC en die artikel 194-komitee daarvan beskuldig dat hulle hul plig versaak het en ook skuld op die polisie, die Valke en die parlementêre speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, gepak.

Sy ontken egter dat sy enige “bloed op haar hande” het rakende Joemat-Pettersson se dood.

Mapisa-Nqakula het glo vertroulike inligting gelek wat Mkhwebane met haar gedeel het om die beweerde korrupsie uit te lig, en het glo geweier om ʼn vertroulike vergadering met die OB te hê waartydens sy glo die fluitjie oor die beweerde omkopery wou blaas.

Mkhwebane hou steeds ook voet by stuk dat sy onwettig uit haar pos as OB verwyder is.

Die ‘omkopery’

Volgens Mkhwebane het Joemat-Pettersson haar man by twee geleenthede by die Ocean Basket-restaurant by die OR Tambo- Internasionale Lughawe in Kempton Park ontmoet.

Dít nadat Joemat-Pettersson op 16 Maart vir die eerste keer ʼn sitting van die artikel 194-komitee bygewoon het waar sy glo vir amptenare gevra het om haar selfoon vir Skosana te gee sodat hy sy nommer op haar foon kon stoor. Sy het hom daarna glo na die ontmoetings by Ocean Basket genooi.

Hier het Joemat-Pettersson glo aan Skosana gesê dat indien hy R200 000 elk aan haar, Dyanti en Majodina betaal, die ondersoek na Mkhwebane uitgerek en eindelik gestaak sal word.

Dyanti en Majodina is glo vies omdat hulle nie as ministers aangestel is nie.

“My man het gemaak asof hy saamspeel, maar hy wou haar [Joemat-Pettersson] in ʼn lokval lei en het die gesprekke op sy foon opgeneem.

“Hulle het ooreengekom op R150 000 vir elk, pleks van R200 000. My man het ook aangedring op ʼn vergadering waarby een van die ander twee ook teenwoordig sou wees. Die ooreenkoms het egter verbrokkel voordat dié voorwaardes nagekom is.”

Mkhwebane sê die opnames en WhatsApp-boodskappe is in besit van die polisie en die Valke en dat dit deel van die ondersoek sal vorm, wat ook direk verband hou met die ondersoek na Mkhwebane.

Sy meen dit is in die openbare belang om die opnames en boodskappe aan die publiek bekend te maak sodat ondersoeke nie “jare sloer” soos in die geval van die Phala Phala-skandaal nie.

Volgens Mkhwebane is daar aan haar man gesê dat die uitkoms van die artikel 194-ondersoek na die OB reeds vooraf bepaal is, en dat die howe aan die kant van Ramaphosa staan. Hy het Mkhwebane reeds ʼn jaar gelede geskors.

Daar is glo ook aan Skosana gesê om nie vir sy vrou of haar regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, van die ooreenkoms te sê nie, en daarom kom sy nou eers met die “bewyse” na vore.

“My man het gesê hy wou dit van my weerhou sodat hy hulle almal kon uitvang. Toe ek daarvan uitvind, het ek dadelik vir my man gesê dit is korrupsie en dat ons die polisie moet kontak. Ek het onmiddellik opgetree toe ek daarvan uitgevind het.”

Maroela Media het vroeër berig dat Mkhwebane se bewerings uit verskeie oorde as ʼn “vertragingstaktiek” bestempel is, en deur die parlement geïgnoreer moet word.

Ander LP’s, soos Narend Singh van die IVP, het egter gesê die beweerde korrupsie en afpersing moet ondersoek word.

Mkhwebane het sedert die begin van April al reeds verskeie kere voor die komitee verskyn sonder regsverteenwoordiging nadat die kantoor van die OB dit aan die begin van Maart duidelik gemaak het dat hy net tot einde Maart vir haar regskoste kan betaal.

Nieteenstaande is ʼn verdere R4 miljoen beskikbaar gestel. Daar is vroeër berig Mkhwebane se regskoste bring nou die finansiële volhoubaarheid van die kantoor van die OB – wat reeds ʼn uiters beperkte begroting het – in die gedrang.

Sy het verlede week weer voor die komitee verskyn om te getuig, maar dit is weer uitgestel. Mkhwebane kry nou ʼn staatsprokureur.

Haar sewe jaar lange termyn loop ongeag die uitkoms van die ondersoek teen die einde van Oktober ten ʼn einde. Die proses om ʼn nuwe OB aan te stel het reeds begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Mens staan maar waar die weivelde skynbaar groener is op daardie oomblik.

M ·

Sē maar weer hier : Sy was bewus van wat aangaan … as Openbare Beskermer moes sy dadelik die korrupdie aangemeld het.

Yvonne ·

Alles is verrot….ek glo nie een van die mense nie….hulle sal mekaar uitmoor om te kry wat hulle wil he….tragies

JohanR ·

ANC en EFF het ja gestem vir die een. DA wou haar glad nie he nie, maar het die geveg verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.