Phala Phala: UDM eis dat NVG Ramaphosa aankla

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Die UDM het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tot 1 Junie gegee om pres. Cyril Ramaphosa aan te kla in verband met die Phala Phala-sage of regsaksie te verwag.

Bantu Holomisa, UDM-leier, meen Ramaphosa se regsaksie oor die artikel 89-paneel se verslag het nooit enige meriete gehad nie, maar is van stapel gestuur om die parlement te mislei om te glo dat die saak “voor die howe” is en om die speaker te dwing om die versoek van die UDM en ander opposisiepartye vir ʼn geheime stemming te weier.

Ramaphosa het, vir eers, besluit om nie die artikel 89-paneel se verslag, wat bepaal dat hy moontlik verantwoording moet doen oor die diefstal van Amerikaanse dollar op sy Phala Phala-plaas, te betwis nie. Ramaphosa meen dat die paneelverslag en alle verwante aangeleenthede daarvan betwisbaar geword het en geen praktiese of regsgevolge het nie omdat die Nasionale Vergadering op 13 Desember 2022 besluit het om die mosie om die president in ʼn staat van beskuldiging te plaas verwerp het.

Holomisa meen egter die verslag staan nou as ʼn geldige dokument met ʼn bevinding deur onafhanklike en baie senior regskenners dat die president ʼn saak het om te antwoord.

“Die UDM doen dus ʼn beroep op adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging, om Ramaphosa aan te kla op grond van die bevindings van die Ngcobo-paneel wat sterker in kaliber is as wat enige polisie-ondersoek sou wees. Gegewe die erns van die saak en Batohi se versuim om tot dusver op te tree, word sy tot 1 Junie 2023 gegun om Ramaphosa aan te kla, by gebreke waarvan die toepaslike hof op ʼn dringende basis genader sal word om haar te verplig om dit te doen.”

Volgens Ramaphosa dra die artikel 89-paneelverslag geen regsgewig nie en is hy dus in hierdie stadium aangeraai om nie regsprosedures in die hooggeregshof in te stel vir die hersiening en tersydestelling van die paneelverslag nie.

Ramaphosa handhaaf egter sy standpunt, soos uiteengesit in sy stigtingsverklaring voor die Konstitusionele Hof, dat die paneelverslag in die reg hersienbaar is op verskeie gronde, insluitend die misverstand van sy mandaat, ernstige regsfoute, en ongegronde gevolgtrekkings van feite.

Dié paneel se verdoemende verslag is einde verlede jaar bekend gemaak en het Ramaphosa byna sy presidentskap gekos.

Dit nadat daar in die verslag bevind is dat Ramaphosa hom moontlik aan ernstige oortredings en wangedrag skuldig gemaak het toe $4 miljoen in 2020 op sy plaas Phala Phala in Limpopo gesteel is.

Die president word daarvan beskuldig dat hy die diefstal probeer geheim hou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Seef ·

Ek wil ook amper so iets sê maar my eerste letters is so rapsie vêrder in die alfabet af.

Strandloper ·

Neeeeeee!!! Ons eis dat hy aangekla word en uit sy pos geskop word!!!

domheks ·

Zupta het goeie voorbeeld gestel, vertragings tegniek. Altyd ONSKULDIG!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.