Gestrande seeskilpad gered

‘n Visserman het die skilpad by Zinkwazi-strand opgemerk. (Foto: Saambr/Facebook)

ʼn Jong seeskilpad is verlede week gered en na uShaka Marine World in Durban geneem, nadat hy op ʼn strand in KwaZulu-Natal gevind is.

Die groenseeskilpad is deur ʼn visserman by Zinkwazi-strand gevind, wat kort daarna die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ontbied het. Die skilpad was glo vir ʼn kort tydperk op die strand en die NSRI kon hom ongedeerd na die gewilde akwarium se rehabilitasiesentrum neem.

“Die skilpad was in ʼn goeie toestand met geen uitwendige beserings nie,” het die Suid-Afrikaanse vereniging vir marienebiologienavorsing (Saambr) in ʼn Facebook-plasing geskryf.

Volgens Saambr was daar egter ʼn klein hoeveelheid epibiota – ʼn organisme wat op die oppervlak van ʼn ander lewe – op die skilpad se dop gevind.

“Hy was uitgeput en het min tot geen reaksie getoon nie, so toe los ons hom vir die aand in ʼn vlak swembad in die rehabilitasiesentrum om te rus.”

Die volgende dag is x-strale van die skilpad geneem, wat ʼn paar afwykings in die grootte van sy longe gewys het.

“Al wat ons kan doen, is hom noukeurig dophou. Hy kry wel antibiotika en rus meestal.”

Dié skilpad, wat Loki gedoop is, se toestand het Saterdag begin verbeter en hy het selfs een van die werkers by die sentrum probeer byt.

“Ons is optimisties dat hy met goeie sorg en baie aandag binnekort sal herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Realis Thailand ·

Dit is nou n veel beter storie as al die negatiewe berigte wat ons deesdae in die koerante kry.
Geniet dit om die te lees en weet daar is nog goeie mense in die wereld

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.