‘Gʼn samesweringsteorie oor Pollard’ – Nienaber

Handré Pollard (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het reageer op sosialemediaplasings rakende ʼn verskuilde plan om die Bokke se Wêreldbeker-groep te verander ten einde voorsiening te maak vir die insluiting van die losskakel Handré Pollard.

“Ek is nie op sosiale media nie, maar daar word vir my gesê daar is hierdie reuseprotes en samesweringsteorie,” het ʼn verbysterde Nienaber gesê.

“Maar hoe kan jy iemand vir die Wêreldbeker-groep kies en dan vir hom sê om ʼn besering na te maak om plek te maak vir iemand anders? Dis mal! Ons sou dit nooit doen nie. As daar geen beserings tussen nou en die einde van die toernooi is nie, sal hierdie hele 33 wat vandag uitvlieg die 33 wees wat terugvlieg.”

Die Springbok-afrigter Jacques Nienaber. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Nienaber het verduidelik Pollard is sowat 25% terug na volle wedstrydfiksheid, maar dat hy slegs by die toernooi betrokke kan wees indien daar beserings is.

“Om hom te vra om nou te speel, is soos om iemand te vra om oor drie weke ʼn Comrades te hardloop – en jy moet in daardie Comrades presteer – maar jy kan net 10 km per week oefen. Sal jy dit maak? Jy kan dit dalk maak, maar dit sal net geluk wees.”

Nienaber het ook bevraagteken waarom die positiewe bydrae van spelers soos Damian Willemse, Manie Libbok en slot Marvin Orie, wat die afgelope 12 maande beseerde Wêreldbeker-wenners vervang het, geïgnoreer word.

“Handré het nie gespeel sedert die Adelaide-toets wat ons verlede jaar in Australië verloor het nie,” het hy gesê. “Damian het in die volgende een op losskakel gespeel en dit was die eerste keer dat Suid-Afrika Australië in Sydney geklop het sedert Ian McIntosh die afrigter was – iets soos 29 jaar terug.”

Die Springbokke het Saterdag na die Verenigde Koninkryk gereis waar hulle Saterdag teen Wallis in Cardiff te staan kom.

Springbokke se Wêreldbeker-groep:

Voorspelers: Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nche, Trevor Nyakane, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth, Jean Kleyn, Marvin Orie, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi, Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Jasper Wiese, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Cobus Reinach, Grant Williams, Manie Libbok, Damian Willemse, Damian de Allende, André Esterhuizen, Jesse Kriel, Kurt-Lee Arendse, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Makazole Mapimpi en Canan Moodie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Marius ·

Hulle kies maar net wie beskikbaar is. Die WB is nog vêr so die verslaggewers soek iets om oor te skryf. Rassie/Nienaber het wel reggekry dat mense dink hulle speel 4d-skaak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Erasmus se volgende “meesterplan.” Die tema van sy nuwe boek en TV reeks.

007 ·

Jy vat nie iemand saam wat nie 100% is nie. Los hom by die huis en vat iemand saam wat wel kan speel. Ruan Pienaar bv? En wat enige plek agter kan speel en behoorlik kan skop. Nie soos ons huidige no 10 nie.

Kobus ·

Jy sal seker nie moun as hy die volgende wedstryd alles oorskop nie ne. Almal het een of twee af dae. Pollard het ook al daardie dae gehad.

007 ·

Dit gaan nie daaroor nie. Pollard is beter maar beseer. Wat verstaan jy nie?

Hennie Biebouw ·

Ruan Pienaar is totaal en al te stadig vir internaionale rugby. Daar is ‘n wesenlike verskil tussen net die basiese dinge doen in Curriebeker rugby, en toets rugby.

George ·

Hou maar hierdie spasie dop….iewers gaan Rassie en Nienaber met n trick te voorskyn kom….waar n rokie is , is daar n vuurtjie…

De Villiers ·

Die arme Drake staan nie ‘n kans teen die kragtige en ratse Bokke nie.

15-48 vir die Bokke

Niklaas ·

Ek is nie so seker daarvan nie. Die Rooi Drake , veral in Wallis het al baie verrassings gelewer

Casper ·

De Villiers op papier is ons wel ‘n goeie gebalanseerde span naar ons speel tans nie goeie rugby nie.Ons sal iewers ‘n erkende stelskopper moet kry.Libbok kan goed skop maar hy is tans nie bestendig nie.

Wielspore ·

Wie kies die Springbok span, die afrigter of die sosiale media?

Waarom ·

Wonder net hoekom word Kolisi gekies wat ook ‘n besering het en nie wedstryd fiks is nie, maar Pollard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.