Gold One: MRK mag nie ‘rassisme’ by myn miskyk

(Foto: Gold One International)

Solidariteit sê hy verwag daadwerklike en spoedige optrede van die Menseregtekommissie (MRK) ná die onlangse “rasse-aanvalle” by die Gold One-goudmyn buite Springs.

Maroela Media het vroeër berig oor die honderde mynwerkers wat vroeër vyf dae lank by die Modder-Oos-myn as gyselaars gehou is. Sommige van die wit werkers is met pikstele, planke en pype aangerand, terwyl ʼn swart kollega wat in ʼn stadium probeer tussenbeide tree het, ook erg aangerand is. Uiteindelik was werkers van verskeie vakbonde slagoffers van die geweld.

Solidariteit het ná afloop van die gyselaarsdrama, wat gevolg het kort op ʼn soortgelyke voorval in Oktober by die myn, ook ʼn klagte by die MRK aanhangig gemaak. Hierin word klem gelê op die bewerings van mynwerkers dat wit werkers vir geweld en vernedering uitgesonder is deur gewelddadige stakers wat hulself as verteenwoordigers van die vakbond Amcu voorgedoen het.

In sy klagte by die MRK voer Solidariteit aan dat werkers gedwing is om terug te keer werk toe onder die dreigement van “geen-werk-geen-betaling” ondanks waarskuwings aan die mynbestuur oor die dreigende herhaling van die Oktober-gebeure.

“Nog ʼn dag sonder produksie het ononderhandelbaar geblyk,” lui die klagte.

Solidariteit voer voorts aan opmerkings deur diegene verantwoordelik vir die ondergrondse aanhouding het ingesluit “hier is genoeg wittes om hulle [die mynbestuur] te dwing om te luister”. ʼn Wit werker is later gebruik om ʼn brief met die vakbond se eise na die mynbestuur bogronds te neem, maar eers nadat die man – ná ʼn ernstige aanranding – gedwing is om hom kaal uit te trek, te dans en die woorde “Viva, Amcu” uit te roep, lui die klagte.

“Hierdie misdadigheid, geweld en vernedering is genadeloos volgehou en tot so ʼn uiterste mate dat ʼn swart kollega wat toe sy wit kollega probeer help het, so aangerand is dat hy sy bewussyn verloor het, weggesleep en in ʼn donker tonnel vir dood onder ʼn sak gelaat is.”

Solidariteit voer aan die optrede van Amcu, sy lede en/of misdadige ondersteuners en simpatiseerders is “nie net ondemokraties nie, maar verteenwoordig ook ʼn ernstige skending van die menseregte van ons lede en alle ander gyselaars”.

Gegewe die omstandighede, die diskriminerende opmerking, doodsdreigemente, vernedering en gewelddadige aanvalle, vra Solidariteit die MRK om ʼn omvattende ondersoek te doen na die optrede van Amcu, asook sy lede en ondersteuners of simpatiseerders.

Daar word ook gevra vir ʼn ondersoek na die optrede van Gold One se bestuur en hul versuim om in te gryp om die gesondheid en veiligheid van werkers te verseker, ondanks waarskuwings hieroor en die moontlikheid dat die maatskappy indirek aanspreeklik gehou kan word vir die beweerde menseregtevergrype.

“ʼn Deeglike ondersoek en gepaste optrede daarna raak nie net lede van Solidariteit nie, maar ook die regte van alle ander mynwerkers wie se waardigheid op verskeie vlakke, waaronder deur middel van rassediskriminasie, aangetas is,” sê Solidariteit in ʼn verklaring.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die gyselaarsdrama by Gold One hou verband met misdaad en arbeidsverhoudinge, maar ook met “magsvergrype”.

“Die MRK is volgens sy mandaat verplig om dit te ondersoek en op te tree. Dít is growwe rasgeweld. Ons gaan nie toelaat dat anargisme die norm word nie en verwag dit ook van die bestuur, die toepaslike ministers, die polisie en die MRK,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.