Gouws-verkragtingsaak: ‘G’n met beeldmateriaal gepeuter’

Ondersteuners betoog vroeër buite die hof in Somerset-Oos. (Foto: Verskaf)

ʼn Forensiese ontleder wat aangestel is om die beeldmateriaal in die verkragtingsaak van Celeste Gouws te evalueer, kon geen onreëlmatighede in dié bewyse vind nie.

Dié beeldmateriaal is deel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid se bewyse teen Andile Memese, wat daarvan beskuldig word dat hy Gouws in September 2017 by haar gastehuis verkrag het.

Jason Jordaan, ʼn ervare multimedia- en digitale forensiese ontleder, is Dinsdag deur Memese se verdedigingspan geroep om in die Somerset-Oos-landdroshof te getuig.

Hy was die laaste van twee getuies wat die verdediging geroep het voordat hul saak gesluit is.

Memese het gekies om nie in sy eie verdediging te getuig nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die ondersoekbeampte in die saak, sers. Sipholelo Raula, in die hof aangevoer het dat die betrokke beeldmateriaal na sy mening geredigeer is. Tydens kruisondervraging, toe verdere feite aan hom gestel is, het hy egter toegegee dat die getuienis in die dossier nie die bewering dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is, steun nie.

Dit is nou ook deur Jordaan bevestig.

Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras, wat die private aanklaer in die hofsaal op ʼn groot skerm vertoon het, onthul in skokkende besonderhede hoe Memese oor etlike ure talle alkoholiese drankies vir Gouws geskink het en hoe sy erg besope geraak het.

In ʼn stadium blyk dit dat Memese drankies met Gouws omruil. Die aanklaer het teen ʼn aansoek om ontslag – wat later deur die hof van die hand gewys is – aangevoer dat dit moontlik ʼn geleentheid was om haar drankie te dokter. Daar kan gesien word hoe Memese die huis verlaat saam met ʼn vriend, wat Gouws gebel het om haar te help. Daar word beweer en kan in die video gesien word hoe Memese na die huis teruggekeer het en Gouws hardhandig skynbaar na die slaapkamer gedwing het waar hy haar na bewering verkrag het.

Dit was dié beeldmateriaal wat die verdedigingspan Jordaan gevra het om te ontleed.

Die tydgapings in die beeldmateriaal was veral vir die verdedigingspan van belang.

Jordaan het aanvanklik drie hipoteses in dié verband ontwikkel, naamlik dat die gapings moontlik die gevolg was van ʼn stelselfunksie, soos bewegingsgeaktiveerde kameras.

Tweedens kon tydgapings veroorsaak word deur selektiewe beeldmateriaal wat afgelaai is. Die derde moontlikheid was dat die beeldmateriaal afgelaai en later geredigeer is om sekere gedeeltes uit te laat.

Adv. Gerrie Nel, die private aanklaer en hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het egter aan Jordaan gesê dat onbetwiste getuienis wat deur vorige getuies aan die hof voorgelê is, toon dat daar eenvoudig nie tyd was om die beeldmateriaal te redigeer nie en dat dit die dag ná die beweerde verkragting deur die private aanklaer se deskundige getuie afgelaai is.

Jordaan het toegegee dat hierdie bewyse veroorsaak het dat hy sy bevindinge herevalueer het.

“Hipotese twee en drie val fundamenteel weg. Die laaste tegniese kwessie waarna ek neig is dat die tydgapings dan waarskynlik te make het met ’n funksionaliteit van die stelsel,” het Jordaan gesê.

Jordaan het ook bevestig dat die beeldmateriaal geen beeldafwykings bevat nie, wat beteken dit is nie geredigeer om voorwerpe in of uit te sluit nie.

Verder het hy bevind dat die videomateriaal op geen manier verander is nie, en dat die lêers nie gewysig is sedert 3 September 2017, die dag ná die beweerde verkragting, toe die lêers van die opnametoestel afgelaai is nie.

Nel het Jordaan tydens die kruisondervraging geloof omdat hy bereid was om sy deskundige mening te herevalueer toe bykomende feite oor die videomateriaal aan hom voorgelê is.

Die saak is tot 12 Julie vir slotbetoë uitgestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Wat het die twee in gemeen gehad dat hy vir haar drankies geskink het.Het hy by haar gastehuis gewerk.

Karoo ·

Dis voete sleep… maar ek hoop die saak kry nou end dat die slagoffer haar lewe weer kan opbou.

Bolandse Nooi ·

Ga! Watter ordentlike vrou raak “erg besope” en dan kla sy van verkragting? Dalk het sy haar inhibisies oorboord gegooi en het daar toe “samesyn” geskied en agterna wat sy spyt … Ek weet nie, iets klink net nie reg hier nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.