Groente, vrugte, melk al weer duurder

Verskeie items maak jou kosmandjie in November heelwat duurder. (Foto: Maroela Media)

Groente, vrugte, melk en eiers is van die broodnodige voedselitems wat weer duurder geword het en boonop ook die rede is waarom dit gemiddeld R25 duurder is om inkopies in Julie te doen in vergelyking met ʼn maand tevore.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat die prys van verskeie voedselitems weer die hoogte ingeskiet het.

In Julie het die prys van aartappels met 8% gestyg, witsuiker met 7%, sout met 5% en eiers was 5% duurder.

Botterskorsie het jou 14% meer uit die sak gejaag en selfs die prys van vis (7%) en beeslewer (6%) het gestyg. Stapelitems soos mieliemeel (+2%), tee (+2%), grondboontjiebotter (+3%), koekmeel (+4%) en melk (+4%) het ook prysstygings ondervind.

Dit kos nou gemiddeld R5 081,94 om ʼn kosmandjie met die basiese items te koop. Dit is meer as die R5 056,45 wat dieselfde mandjie verlede maand gekos het.

Statistieke Suid-Afrika se jongste verbruikersprysindeks vir Junie 2023 wys dat hooflyninflasie op 5,4% staan. Kosinflasie het wel van 12% tot 11,1% gedaal.

In Julie was die prys van ʼn mandjie kos in Johannesburg en Kaapstad veral duur, terwyl die inwoners van Durban, Springbok, Pietermaritzburg en Mtubatuba minder opgedok het.

In Johannesburg was dit R118,57 (2,4%) duurder om ʼn mandjie kos te koop as verlede maand.

Diegene in Kaapstad moes ook R70,32 (1,4%) meer opdok vir hul inkopies.

Inwoners van Springbok het R95,97 (-1,8%) minder vir hul kosmandjie betaal en Mtubatuba het nog beter gevaar met die R117,46 (-2,2%) wat hulle minder betaal het.

Inkopies in Durban was in Julie R54,27 (-1,1%) goedkoper in vergelyking met die vorige maand.

Oor dieselfde tydperk verlede jaar (Julie) het die prys van ʼn kosmandjie in al hierdie gebiede gestyg.

Dié gebiede se kosmandjie is duurder as verlede jaar.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte het in Julie toegeneem en bring die gemiddelde koste van dié items op R963,78 te staan; dit is R8,82 (0,9%) meer vergeleke met die vorige maand.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar dié produkte ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

Nuwe kragtariewe

Argieffoto (Foto: Steve Johnson/Unsplash)

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het in Januarie ʼn kragtariefverhoging van 18,65% vir die 2023-’24-boekjaar goedgekeur.

Dié jaarlikse tariefverhoging het op 1 Julie in werking getree en in wese “nog meer kos van die borde van hardwerkende Suid-Afrikaners en hul kinders gehaal”.

Volgens die indeks het die kragtariefverhoging van 15,1% in Pietermaritzburg daartoe gelei dat die gemiddelde minimumloonwerker R119 meer per maand aan krag moes opdok.

Sou dié werker ʼn skamele 350 kWh per maand gebruik het, het dit hom R906,92 uit die sak gejaag vergeleke met die R787,92 verlede maand.

PMBEJD sê jaarlikse kragtariefverhogings is ʼn groot bedreiging vir minimumloonwerkers wat moet staatmaak op klein verhogings in die nasionale minimumloon.

“Hierdie jaar het Eskom se tariefverhoging byna ʼn derde van die jaarlikse nasionale minimumloon se verhoging geërodeer,” sê PMBEJD.

“Die duurder krag put miljoene van die laags betaalde werkers se lone uit; lone wat reeds onvoldoende is om basiese lewenskoste te dek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

Charles ·

Hulle strike vir hoër lone en dan gaan die pryse op. En dan strike hulle vir hoër lone en dan…

Alta Alleman ·

Ons gaan geld in ons sakke hê maar nie kan bekostig om enige iets te kan koop nie.

KatjieDeKat ·

Ja alles is so duur, weet nie waar dit gaan eindig nie. Ek dink party dae n tyd gaan kom waar die meeste van ons maar op piesangs, aartappels en rys sal moet lewe.

Gaitsigubib ·

Wat is fout met aartappels kat? Onthou party van ons plant die goed! Ek speel net hoor, die werklikheid bekommer my eintlik. Ek sal kyk of hul my skrywe plaas as ek probeer verduidelik.

Sandra ·

ek raap en skraap om kop bo water te hou. Dis regtig geen grap meer nie. ek ruik maar aan vleis op die winkelrak en sit dit terug.

Charles ·

Toemaar. Ek is nie vegan nie, maar het agtergekom vleis smaak net lekker as mens dit geur. Eiers is lekker en kos minder.

Truman Burbank ·

Niks wat vleis soos vleis kan laat smaak as sout en peper nie

Truman Burbank ·

Almal gaan binnekort moet vegetaries raak en soya mince eet

SwartBees ·

Ons koop elke maand n klein 1 minute steak, met n toutjie aan die een kant. Wat ek dan bêre in beef of chicken stock block om die geur te behou. Elke aand met aand ete stuur ons hom in die ronde vir almal om te sluk en hom dan met die toutjie uit te trek.

KatjieDeKat ·

Wat ek doen is om daai “minute steaks” te koop, dan sny ek dit in repies en maak stirfries met gemengde groente. Ook vark of hoenderborse.Ek spandeer maar die geld op sojasous en goeie sesame oil dan smaak dit soos Chinese kos. Dis n belegging vir die hele maand se Chinese maaltye. Ek maak ook my eie “preserve” met heuning en n opgekapte handjie gemmer, as jy bietjie daarvan ook in die roerbraai sit proe dit nes restaurant Chinese kos. Met rys of noodles. Gelukkig hou my gesin van Chinese kos.

Elmarie ·

Baie gesond. Plant paar groente in sommer groot potte, jy hoef nie ‘n tuin te hê en rek jou rande. Ook pasta. Mens hoef g’n duur te lewe óf eksdom te hê. Roerbraai is vinnig, selfs op kole, twee plaat gasstofie. Mense miet meer uit die boks dink en selfversorgend probeer wees. Ek hét ‘n groentetuin omdat ek spasie het maar vinnig iets kry het ek groot potte met babaspinasie, uie, wortels, koolen in seisoen eiervrug, tamaties, groen rissie en niks kry plaagdoders en dis reg by my agterdeur.

Truman Burbank ·

In die ou SA was pryse van kos beheer. Asook salarisse en selfs huur. Elkeen kon dak oor kop bekostig en genoegsaam eet

George ·

As jy praat van “elkeen” bedoel jy blankes, want ons ander kon beslis nie.

Truman Burbank ·

Wie is “ons ander”? As jy vir die staatsdiens gewerk het, het jy medies en behuising subsidie gekry. Almal het dieselfde betaal vir kos. Oral waar beheer was, was huur pryse beheer. Daar waar nie beheer kon uitgeoefen word nie, sorry.

SwartBees ·

SA is seker die grootste melkery in die wêreld want almal van ons word leeg gemelk vir geld.

Carl ·

Haha, dit is mos ons boere. Ons maak altyd ‘n goeie grap en lag daaroor.

Kwikkie12 ·

En dit in ‘n land wat soveel minerale het… Ons behoort een van die rykste lande in die wereld te gewees het as dit nie vir hebsug en onbevoegdheid was nie!

Charles ·

n Land met baie minerale lok baie buitelandse inmenging en oorname agter die skerms.

Truman Burbank ·

Ons is. Maar trek geen voordeel daaruit. Slegs tussen 1961 en 1964 was dit vir ons beskore. Toe word daar namens Verwoerd besluit wat gebeur

Hans ·

Boontjiesop….ek is al gewoond aan duur groente en vrugte.
Dit gaan nie oor hoër lone nie, produsente het ook hoër uutgawes.

Pierre ·

en die groot kentingwinkels spog met rekord wisnmarge en dubbel syfers groei in verkope.

Andries ·

Hier kom nog ‘n venezuela of zim. Hul wil die mense beheer deur goedkoper kos te gee net voor die verkiesing.

Papsak ·

Dit net SA wat se petrol en kos pryse die hoogte in skiet ek weet nie dat ander lande hulle mense so behandel nie skande jy het geld maar kan niks koop nie

De Bok ·

Elke keer as Maroel Media berig oor die R5k “kosmandjie” dan wonder ek wat die syfer nou presies voorstel. Dit sou gaaf wees as Megan dit vir ons in die artikel kon verduidelik met ‘n sin of twee.

Die “kosmandjie” wat na verwys word, verteenwoordig die kos wat in ‘n maand geëet word deur ‘n tipiese lae-inskomste gesin van 7 mense .

Dit maak dan sin dat my kos-uitgawes heelwat minder is die syfer in die artikel, want ons is net 4 mense, en my vrou is goed met goeie pryse uitsnuffel.

Carl ·

Ek koop en ondersteun die boeremark. Daar is alles goedkoper. Vleis, groente en vrugte asook kaas en melk. En heuning ook.
Die groot winkels voel niks vir die boer en kleinboer nie. Ek koop eerder direk by hulle. Die groot winkels doen niks vir ons mense nie.

Robert ·

En verbruikers moet aanhoudend meer betaal vir basiese benodigdhede. Bose kringloop!!!

Pieter ·

Ek dink julle moet bietjie daai kos mandjies in Ellisras kom koop, en kyk wat dit kos. Die winkels se pryse is mal duur hierso.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.