‘Groot verligting’ toe seuntjie onder boot uitswem

Die Engelbrecht-gesin en Otto van der Merwe op pad na Dassen-eiland Woensdagoggend. (Foto: Verskaf)

“Hier is ek, hier is ek,” het die agtjarige Christian Engelbrecht Woensdagmiddag kalm uitgeroep nadat hy onder sy gesin se onderstebo boot in die see by Yzerfontein in die Wes-Kaap uitgeswem het.

Dorita Engelbrecht (39) het Vrydag aan Maroela Media gesê dit was ʼn groot verligting om haar seuntjie se gesig te sien nadat sy en haar man, Bertus (43), en pa, Otto van der Merwe (65), histeries na hom gesoek het.

Christian het onder aan die boot vasgeklou, maar besef dat hy sy lewensreddingsbaadjie sal moet uittrek om onder die boot uit te swem.

Maroela Media het vroeër berig dat die gesin en Van der Merwe van Dassen-eiland op pad terug na die hawe was toe ʼn brander oor die boot gespoel en dit omgeslaan het.

Die vier familielede het almal tot bo-op die onderkant van die boot geklouter en verbete daaraan in die onstuimige see vasgeklou. Dorita het besef dat haar selfoon in haar baadjiesak was en tot haar verligting steeds gewerk het. Sy het haar ma, Thea (63), gebel en gevra om die Nasionale Seereddingsinstituut in Yzerfontein te ontbied.

Thea was saam met die Engelbrechts se jongste seun, Albert (5), by die huis toe die voorval plaasgevind het. Thea en Otto het sowat ʼn maand gelede na Yzerfontein verhuis en die Engelbrechts het van Welgedacht in Bellville by haar ouers gekuier waar hulle besluit het om die boot uit te vat aangesien dit ʼn lieflike dag was.

Christian Engelbrecht (8) wys waar hy Woensdag onderaan die gesin se omgekeerde boot vasgehou het. (Foto: Verskaf)

Dorita sê die NSRI was binne 15 minute daar om hulle te red.

“Die NSRI op Yzerfontein is ongelooflik. Die oomblik toe ons weet hulle is op pad het ons veilig gevoel en geweet ons sal oukei wees.”

Dorita sê hulle was wel bang dat die boot al hoe nader aan die dolosse sou vaar en dalk daarteen sou bots en breek. Dit het gelukkig nie gebeur nie.

Hoewel die gesin ná die ervaring emosioneel was en nog nie werklik tyd gehad het om daaroor na te dink nie, sê Dorita dat sy uiters dankbaar is dat hulle almal die ongeluk oorleef het.

“Dit is net God se genade.”

Christian Engelbrecht met sy eerste geelstertvangs. (Foto: Verskaf)

Dorita sê dit gaan goed met hulle en dat Christian die voorval reeds goed verwerk het. Sy beplan wel om hom na ʼn spelterapeut te neem om oor die voorval te praat.

“Hy sê dit was ʼn opwindende dag op die see. Hy is net baie teleurgesteld dat sy eerste geelstertvis wat hy vroeër gevang het verlore gegaan het. Kinders is net ongelooflik.”

Hartseer einde aan dag vol genade

Hoewel dit ʼn gelukkige einde vir die gesin was, het die dag ʼn hartseer nadraai gehad toe JC Smith (67), ʼn geliefde inwoner van Yzerfontein later die middag dood is. Smith het die gesin en die NSRI met raad en hulp bygestaan oor hoe om hul boot om te dop en uit die water te haal.

“ʼn Dag vol genade het toe eintlik ʼn verskriklike einde gehad,” het Dorita oor die Smith se dood gesê.

Volgens Braam van Tubbergh, ʼn inwoner en goeie vriend van Smith, het Smith vermoedelik ʼn massiewe hartaanval gehad.

“Hy was gebou vir krisisse, oplossings en planne,” het Van Tubbergh Vrydag aan Maroela Media gesê oor sy saggeaarde vriend met die “pragtige baard en bos hare”.

Van Tubbergh en Smith was onder die omstanders wat Bertus en die NSRI later die middag gehelp het om planne te beraam oor hoe om die boot uit die water te haal en na die hawe te bring. Christian en Dorita was in dié stadium reeds by die huis – wat net bokant die hawe geleë is. Die NSRI se kantoor is reg by die hawe geleë.

Van Tubbergh verduidelik dat Smith baie kennis gehad het oor hoe om bote veilig na die hawe te bring en dat hy baie by die hawe en in die gemeenskap betrokke was. Hy het jare lank vir die spoorweg gewerk waar hy spesifiek by ligtorings werksaam was. Van Tubbergh beskryf hom as ʼn uiters kundige mens wat altyd gereed was om ander te help.

JC Smith is Woensdag vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede. (Foto: Verskaf)

Hy het op die betrokke dag ook nie net sy kundigheid gedeel nie, maar self gehelp om toue te trek in pogings om die boot uit die water te trek.

Van Tubbergh was ook op die toneel.

Hy verduidelik Smith het in die rigting van die water gestap, gestruikel en in die water val. Van Tubbergh het hom dadelik te hulp gesnel en Smith uit die ysige water help trek. Smith het aangedui dat hy geval het, maar “oraait” is.

Hy het egter kort daarna inmekaargesak en is later by die NSRI se kantore dood verklaar.

“Hy was ʼn gesonde mens. Miskien het hy hom bietjie ooreis met die toutrekkery en die koue water was beslis ook vir hom ʼn skok.”

Van Tubbergh sê Smith, die pa van drie dogters en oupa van een kleinseun, laat ʼn groot leemte en sal baie gemis word.

“Ek weet nog nie wat ons sonder hom gaan doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anniekiewiet ·

Wat n pragtige foto. Baie troos bid ons julle toe. Koester die herinneringe aan jul geliefde pa, oupa en vriend.
Mag jul ander ook weet almal is verlig dat julle en daai oulike seun veilig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.