Helfte van SA se drinkwater van ‘swak gehalte’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die departement van water en sanitasie (DWS) se jongste bloudruppelverslag wys dat die helfte van die land se beskikbare drinkwater van ʼn kommerwekkende gehalte is. Dit terwyl daar al hoe minder watervoorsieningsdienste beskikbaar is om veilige drinkwater aan Suid-Afrikaners te verskaf.

Die departement het vandeesweek sy nasionale tussentyde blou- en groendruppelverslag, asook die  geen water- verslag vir vanjaar bekend gemaak.

Die bloudruppelverslag fokus op die huidige toestand van die land se drinkwaterinfrastruktuur, behandelingsprosesse en watergehalte.

Die groendruppelverslag konsentreer op rioolafvalwaterstelsels deur aan te dui watter behandelingsaanleg in ʼn bedenklike toestand is, wat die hoofoorsake daarvan is en op watter manier ingegryp kan word om die situasie te verbeter.

Die geen water- verslag oudit plaaslike owerhede se waterverliese en bepaal of die munisipaliteite aan beste praktyke voldoen om dié verliese hok te slaan.

Die verslae word die afgelope twee jaar bekend gemaak, veral in reaksie op ʼn toename in cholera-gevalle en die algemene verval van munisipale dienslewering.

Die burgerregteorganisasie AfriForum vra al sedert 2013 dat die blou- en groendruppelverslag gedoen word nadat die departement, destyds onder leiding van Nomvula Mokonyane, die ondersoeke opgeskort het.

Situasie ‘beroerd’

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Vanjaar se bloudruppelverslag het altesame 151 waterstelsels ondersoek. Die bevindings weerspieël ʼn oorsig van stelsels wat besit en bestuur word deur 140 munisipaliteite, 26 waterrade en grootmaatwaterverskaffers.

ʼn Gemiddelde tegniese terreinassessering (TSA) van 69% is behaal vir al die waterstelsels wat ondersoek is. Dit beteken dat die stelsels se infrastruktuur en die watersuiweringsprosesse “gedeeltelik funksioneel is”.

Uit die 151 waterstelsels is die meeste (128, of 85%) in ʼn gemiddelde, goeie of uitstekende toestand, terwyl die oorblywende 23 stelsels (15%) in ʼn swak of kritieke toestand is.

Ondanks die feit dat Gauteng die episentrum van die cholera-uitbreking is, is sy waterstelsels die land se beste. Dit word gevolg deur die Wes- en Oos-Kaap. Die waterstelsels wat in ʼn kritieke toestand is, is in die Vrystaat, Limpopo, Noord-Kaap en Noordwes.

Die kosteberaming om die wanfunksionele stelsels te herstel of op te knap beloop R1,5 miljard en die meeste van dié geld sal in die Vrystaat en KwaZulu-Natal bestee moet word.

Die stand van die waterstelsels is egter veral kommerwekkend wanneer daar gekyk word na die watergehalte wat elkeen lewer.

Slegs 38% van al die stelsels se drinkwater is van uitstekende mikrobiologiese gehalte, terwyl 11% ʼn goeie mikrobiologiese gehalte het.

Dit beteken dat die oorblywende 51% ʼn swak mikrobiologiese watergehaltestatus behaal het.

Rakende die chemiese ontleding van die stelsels se watergehalte het 16% uitstekende watergehalte, 14% goeie gehalte, terwyl die oorgrote meerderheid (71%) misluk het om die chemiese voldoeningsvereistes vir watergehalte te bereik.

Altesame 13 stelsels – waarvan vier in die Vrystaat is – het geen watergehaltedata aangemeld nie, of geen data is opgelaai of beskikbaar gestel tydens die oudit om voldoeningsontledings moontlik te maak nie.

Só lyk die Vrystaat se watergehalte.

Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum, sê die bloudruppelverslag skets ʼn “uiters kommerwekkende prentjie, veral omdat die mikrobiologiese en chemiese voldoeningsontledings op groot probleme dui”.

“Ons is ook bekommerd dat die provinsies wat volgens die verslae die swakste vaar, ook dié is wat gebuk gaan onder bedrog en korrupsie,” sê hy.

Rioolaanlegte net so vrot

Die groendruppelverslag het nie juis ʼn beter prentjie van die rioolafvalwaterbehandelingswerke in die land geskets nie.

Al nege provinsies en 334 munisipale rioolafvalwaterbehandelingswerke is verlede jaar as in ʼn kritieke toestand verklaar en het groendruppeltellings van minder as 31% ontvang. Hierdie telling dui daarop dat die meeste of al die stelsels, prosesse en infrastruktuur wat verantwoordelik is vir rioolafvalwaterdienste nie funksioneel is nie.

Al die betrokke munisipaliteite is onder regulatoriese waarneming ingevolge die Waterdienstewet geplaas, maar slegs die helfte (168) daarvan het aksieplanne aan die DWS gelewer om te wys hoe hulle die situasie gaan regstel.

Slegs 34 van hierdie munisipaliteite het met die jongste verslag dit reggekry om hul aksieplanne in werking te stel.

Altesame 43 waterdiensowerhede het verdere ondersteuning van die departement versoek, terwyl die res in die beplanningsfase is, of geen vordering het om te rapporteer nie.

Dr. Ferrial Adam, uitvoerende bestuurder van WaterCAN, sê die verslag beklemtoon die omvang van die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar.

“Slegs 50% van rioolafvalwaterbehandelingswerke wil die situasie omkeer, terwyl die res klaarblyklik nie omgee dat hierdie rioolafvalwater onveilig is vir mense nie.”

Volgens WaterCAN, ʼn afdeling van die drukgroep Outa, het die departement reeds kontak gemaak met die 11 munisipaliteite wat nie aksieplanne ingedien het nie. Na gelang van hierdie gesprekke het die departement intussen besluit om strafregtelike klagte teen sewe munisipaliteite aanhangig te maak.

Waterverliese ‘geskat’ oor geen data

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die 2022-’23-geen water- verslag bied ʼn oorsig van die stand van munisipaliteite se waterverliese gedurende die 2021-’22-boekjaar.

Volgens AfriForum is die meeste gevolgtrekkings op grond van skattings gedoen omdat munisipaliteite nie genoeg data daaroor ingesamel het nie.

Luidens die verslag het slegs 29% van munisipaliteite landwyd data oor waterverliese aan die departement gegee. Bykans die helfte van die data wat wel voorsien is, toon egter ʼn lae vertrouenskoëffisiënt. Dit beteken munisipaliteite het in die voorafgaande drie jaar geen datastel nie, of slegs ʼn enkele datastel aan die departement voorsien.

Op nasionale vlak gaan byna die helfte van die beskikbare water aan munisipaliteite verlore weens onder meer lekkasies in die verspreidingsnetwerk.

Volgens De Klerk vaar munisipaliteite dus swakker teenoor vorige jare “wat op ʼn kommerwekkende tendens dui dat waterverliese oor die afgelope tien jaar aanhoudend gaan toeneem”.

Munisipaliteite wat verantwoordelik is vir watervoorsiening aan groter stede presteer die beste insover die bekamping van waterverliese, terwyl kleiner, landelike munisipaliteite die swakste gevaar het.

Die Wes-Kaap is die provinsie wat die beste presteer het, terwyl Limpopo en KwaZulu-Natal die grootste waterverliese ondervind.

“AfriForum is steeds bereid om saam met die departement te werk om van hierdie munisipaliteite te help om die probleme wat hulle op plaaslike vlak het, op te los. Ons sal ons kundiges en spesialiste betrokke kry om te help waar munisipaliteite wesenlik sukkel met hul water- en rioolstelsel sodat dit weer op standaard kan kom.”

Die minister van water en sanitasie, Senzo Mchunu, het gesê dat hy veral bekommerd is oor die algehele swak watergehalte wat aan Suid-Afrikaners verskaf word.

Die departement is wel besig om prosesse te skep om private belegging in die waterbedryf te fasiliteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Amelia ·

Kom nou zuma pay back the money kom rampie gee die geldtjies wat in rusbank was ons demand water skoon water

Miena ·

Water. Watse water? By ons in ons plaasdorpie (in GP) is die waterkrane leeg al vir 3 weke in n gebied terwyl die water uitstroom uit die grond uit net n blok verder oor gebarste pype en n sukkelende munisipaliteit wat nie voorraad het nie en die werkers werk nie omdat hul nie betaling ontvang het nie. En nie baie ver darvandaan nie is die reservoir pompe besig om rou water in die waterlyne in te pomp…ek dink dat ons munisipaliteit moet maar liewer die werke oorgee aan die dorpsinwoners – ons sal dinge kan in stand hou vir onsself.

Papsak ·

Ja kom gee gelde terug ons soek skoon water vanaf 1994 af is alles walglik regtig

Danie ·

War verwag ons meer van n onbekwame nuttelose regering.Dalk moet ek n water beroep besigheid begin.

marius ·

Die bankier van Phala Phala is egter van oordeel dat dit van die beste gehalte in die wereld is.

Hannes ·

2024 is die mees belangrikste verkiesing ooit, ons moet ontslae raak van die ANC indien ons nog ‘n land wil geniet.
Die ANC het net mooi alles wat hulle beheer vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.