Helpmekaar se Einsteins ryg A’s in

(Foto: Verskaf)

Helpmekaar Kollege in Johannesburg se matriekklas van 2022 het oudergewoonte uitstekend in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eindeksamen presteer. Al 244 matrieks het met universiteitstoelating geslaag en dié groep spog met ʼn gemiddeld van drie onderskeidings per kandidaat. Altesaam 197 matrieks het minstens een onderskeiding behaal, 93 matrieks het vier of meer onderskeidings behaal en dié skool se 45 topkandidate het gesamentlik 334 onderskeidings ingeryg.

Toppresteerders

Ryan Snyman was Helpmekaar se beste presteerder en het 13 onderskeidings behaal. André van Graan en Micaela Staal het tien A’s elk behaal, terwyl Johané Fritz, Keira Lombard, Nico Olivier, Reyneke Jacobsz en Xander Nel met nege onderskeidings spog. Altesaam 11 Helpies het agt onderskeidings behaal, 12 matrieks het 7 A’s en 14 spog met 6 A’s.

“Ons is geweldig trots op ons matrieks van 2022,” sê Klaus König, skoolhoof. “Dié groep het aan die einde van hul graad 8-jaar in 2018 ʼn graadgemiddeld van 67% gehad en hul skoolloopbaan met ʼn gemiddeld van 74% afgesluit. Voorwaar ʼn uitstekende groeiprestasie.”

Ryan Snyman (Foto: Verskaf)

Wat kernvakke soos Wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde betref, het die matriekgroep ʼn gemiddeld van onderskeidelik 73%, 75% en 77% in dié drie vakke behaal. Engels (huistaal) en Engels (eerste addisionele taal) het vakgemiddelde van 77% aangeteken.

Van die 46 Helpie-matrieks wat Duits, Frans of Spaans as derde taal geneem het, het 27 ʼn onderskeiding behaal. Met vakgemiddelde van 80% in Frans, 72% in Spaans en 82% in Duits, is dié jongmense gewis gereed om die toekoms aan te durf.

Nimmereindigende student

Ryan Snyman, wat met ʼn gemiddeld van 93,3% in sy 13 vakke spog, het onderskeidings behaal in Afrikaans, Engels Huistaal, wiskunde, lewensoriëntering, ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO), Frans (tweede addisionele taal), Duits (tweede addisionele taal), lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, verdere studies gevorderde fisika, verdere studies Afrikaans, verdere studies wiskunde “standaard” en verdere studies wiskunde “elective”.

ʼn Kennisspons, is hoe Snyman homself beskryf. “Ek is bietjie van ʼn onkonvensionele student. Die akademie in die geheel interesseer my geweldig en daar is gevolglik nie net een spesifieke kennis- of beroepsveld waarop ek my wil toespits nie. Ek dink ek sal vir ewig ʼn nimmereindigende student van die lewe wees en myself op soveel moontlik gebiede intellektueel (wil) stimuleer.”

Snyman, wat by agt topuniversiteite in die VSA aansoek gedoen het, beplan om meer as een studierigting op ʼn slag aan te pak en is reeds besig om die voorgraadse wiskundesillabus onder die knie te kry. “Ek sal waarskynlik afskop met ʼn kwalifikasie in suiwer fisika of ruimtefisika, maar ek wil beslis ook filosofie, politiek en die ekonomie bestudeer.

“Helpmekaar Kollege het enersyds ongelooflik diverse belangstellings by my gekultiveer en andersyds aan my die geleentheid gebied om danksy uitstekende tegnologie in die skool se digitale innovasiesentrum, oftewel DiHub, wêreldbewus te raak, te ontdek, te soek, te leer. Die onderwysers is in ʼn klas van hul eie. Hulle is nie net passievol oor en bekwaam op hul onderskeie vakgebiede nie, maar eweneens oor die ontsluiting van elke leerder se unieke potensiaal,” sê hy.

Hoewel Snyman meen leer ís sy ontspanning, is hy net so passievol oor musiek. “Wie weet, dalk verwerf ek nog eendag ʼn musiekkwalifikasie ook.” Van stilsit tot sy Amerikaanse studies afskop, is daar nie sprake nie. Te veel hooi op ʼn mens se vurk is ook nie ʼn uitdrukking waarmee hy homself vereenselwig nie. Trouens, behoorlike beplanning en vooruit werk het hom nog altyd in staat gestel om verskeie balle gelyktydig in die lug te hou.

Snyman beplan om vanjaar sy graad 8-klaviereksamen af te lê, werk as sagtewareontwikkelaar vir Pa Philip se I Am App-sagtewareonderneming, help met die aanbied van verdere studie gevorderde fisika vir matrieks by Helpmekaar én doen in sy “aftye” navorsing oor mense wat ʼn merkwaardige bydrae tot die ontwikkeling van die wetenskap gelewer het.

“Die kosmoloog Edwin Hubble het gesê: ‘Equipped with his five senses, man explores the universe around him and call the adventure Science’. Dit som my belangstelling in kennisontdekking, tegnologiese ontwikkeling en wetenskaplike redevoering raak op. Ek hoop om my kennis eendag ook met ander te kan deel,” sê Snyman.

Aanpasbaarheid onontbeerlik

André van Graan spog op sy beurt met tien onderskeidings in Afrikaans, Engels (eerste addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, Frans tweede addisionele taal, verdere studies wiskunde “standaard” en verdere studies wiskunde “elective”.

Van Graan beplan om in Pa Corné, ʼn uroloog, en Ma Susell, ʼn narkotiseur, se voetspore te volg en het keuring gekry om medies aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. “Covid het ons in my gr. 10-jaar getref en eie aan Helpmekaar was daar ʼn plan B om onmiddellik en ononderbroke met regstreekse aanlyn klasse voort te gaan.

André van Graan (Foto: Verskaf)

“Dit het my geleer dat aanpasbaarheid in enige situasie nie net ʼn sleutel tot oorlewing is nie, maar ook tot sukses. Jy moet eenvoudig altyd ʼn alternatief hê. Voorts is tydbestuur die wagwoord en balans broodnodig. As jy kliphard werk, kán en moet jy ook kliphard speel. Dis oukei om nie die beste in alles te wees nie, maar jy behoort altyd jou beste te gee.”

Van Graan het as onderhoofseun nie net in hokkie, debat en redenaars uitgeblink nie, maar is ook ʼn kranige klavierspeler en ywerige vinielplaatversamelaar. Sy grootste inspirasie is Francis van Assisi wat alles wat hy gehad het, verkoop het om ander te help. Daarom is sy lewensfilosofie, soos Assisi gesê het: “It is no use walking anywhere to preach unless our walking is our preaching”.

“Ek beplan om net hier in Suid-Afrika te bly en ʼn verskil te probeer maak. Nie almal wil sak en pak trek nie. Ons het nou meer as ooit mense nodig wat bereid is om hul vaardighede en kennis terug te ploeg ter wille van die land en sy mense.” As hy egter één plaaslike brandpunt kon aanpak, sou dit die openbare onderwysstelsel wees.

“Daar is soveel wanbestuur van fondse en korrupsie. Hoewel sowat 40% van die staatskas aan onderwys toegewys word, is daar soveel openbare skole sonder behoorlike infrastruktuur, toilette, handboeke, opvoeders. Ongeletterdheid gedy en behoort die vertrekpunt te wees om ons land weer op ʼn positiewe ekonomiese groeipad te plaas.”

Geestelik gestaal

Onderhoofmeisie Micaela Staal het ook tien onderskeidings behaal, naamlik in Afrikaans, Engels (huistaal), wiskunde, lewensoriëntering, ekonomie, drama, Spaans (tweede addisionele taal), rekeningkunde, verdere studies wiskunde “standaard” en verdere studies wiskunde “elective”, en gaan BRek LLB aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Hierna beplan sy om ʼn MBA te verwerf, haar merk in die sakewêreld te maak en die wêreld plat te reis.

Micaela Staal (Foto: Verskaf)

Dié kranige hokkie- en skaakspeler, wat drie keer nasionale skaakkampioen was en twee keer aan die Afrikakampioenskap deelgeneem het, glo geloof het haar beslis deur haar matriekjaar gedra. “Die vreugde van die Here is waarlik ʼn mens se krag in moeilike tye, soos in Nehemia staan. As ʼn mens hieraan vashou, is enigiets moontlik. Helpmekaar is ʼn familie, of Helpie-ketting soos ons dit noem, met sterk Christelike waardes wat jou geestelik opbou, voed en dra.”

Vir Staal is Helpmekaar se werksetiek ook iets wat haar lewenslank sal bybly. “Harde werk en deursettingsvermoë is die norm, nie die uitsondering nie. Waar baie skole dalk groot klem op die matriekeindeksamen lê, is Helpmekaar uniek in die sin dat dit jou ook op die lewe ná skool voorberei.

“Papegaaiwerk is betekenisloos, maar buite die boks-denke, om onder druk te kan funksioneer, planne te beraam en oplossings te vind – dít is blywende boustene wat lewenslank waarde toevoeg, maar nie saak waar en in watter omstandighede jy jou bevind nie.”

Haar raad aan toekomstige matrieks? “Moenie uitstel nie en moenie tyd mors nie. Maar moet ook nie dat vrees jou matriekjaar definieer nie. Beplan deur tyd vir harde werk én behoorlike rus in te ruim, maar bowenal: koester kosbare oomblikke en kameraadskap, vriendskappe en verhoudings, want dís die magic wat jy ná skool met jou sal saamdra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

melaney ·

“SIT, JOU SLIM KIND!” Baie geluk aan almal. Wens julle net die beste toe met jul toekomstige drome.

Elmarie ·

Beslis iets om op trots te wees, baie geluk aan elkeen, hul onnies en veral ook die ouers. Maar heng ek het nog nooit eers van party van die vakke gehoor nie, was beslis nie eers iets op die horison in my dae! Nou gee ek my ouderdom weg haha

Vonkprop ·

Baie geluk. Net jammer julle kan nie julle prestasies terugploeg in SA nie, want julle is nie BEE nie. Mag julle wel ‘n verskil maak in die wêreld al is dit in ‘n ander land.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek sien nêrens name van top presteerders wat belangstel in ingenieurswese nie. Baie vreemd.

Jaco ·

Net voordat almal nou te bly word: omderwysstandaarde is laag. Trek maar so 20% af vanaf al hierdie wonderlike A’s om dit gelyk te bring aan standaarde van die ou SA.

Elmarie ·

Ai wat van liewer almal gelukwens ou Jaco? Nou moet jy naar wees. Nee wat, onnodig!

Veritas ·

Baie geluk aan al die kinders – Toe ek in 1988 matriek geskryf het het ons net 6 vakke gehad, nou het van hulle tot 13 ! Weet nie waar kry hulle tyd nie, maar alle sterkte vir die toekoms. Ek is bly julle is beloon vir julle harde werk en brein gawes. Ek voel maar bietjie dom met my D en E’s uitslae, maar werk darem nog my hulle lewe.

melaney ·

Veritas niks fout met D en E’s. As ek jou kommentaar so lees, kry ek die indruk dat jy baie hardwerkend is. Dit is ‘n baie goeie eienskap. Hoop ek is reg!

Veritas ·

Dankie Melaney. My kommentaar was eintlik ‘n bietjie tong-in-die-kies. Om eerlik te wees, ek was lui op skool. Dit was baie lekkerder om krieket in die parkie te speel, space invaders by die hoek Portugees te speel en in die strate te jol as die daaglikse huiswerk klaar was en Ma was happy. Enige iets behalwe akademie, Ek het darem lank na skool verder gestudeer ( Studeer nog steeds ander goed op 51 ) en doen heel ok. In elk geval, baie geluk aan die kinders en ek beny hulle “time management” skills, dit is baie indrukwekkend.

skurweberg ·

Kwaliteit in alle opsigte impliseer integriteit. Kwantiteit het geen volhoubare waarde nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Veritas, die ou spreukwoord, vroeg ryp, vroeg vrot. Ek het slim profs gehad wat op 45 al afgeleef was. In die werkplek het 40 jarige slimjanne heeldag agter lessenaars na die rekenaarskerm gestaar. Die breinselle wou nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.