Hoë inflasie bring nóg droewe dae

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die rentekoers is soos verwag vir ʼn vyfde agtereenvolgende keer op 8,25% – die hoogste vlak in 15 jaar – onveranderd gelaat.

Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth, sê dit blyk dat verbruikers nog langer as wat voorheen verwag is, gaan wag vir rentekoerse om te begin verlaag.

“Verbruikers moet nou nog langer vasbyt voor hulle moontlike verligting sal sien.”

Hy sê daar is verwag dat die rentekoers in Mei vanjaar kon begin verlaag, “maar dit kan moontlik verander indien inflasie aanhou styg en verder wegbeweeg van 4,5% – waar die Reserwebank dit geanker wil sien”.

Volgens Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, is dit moontlik dat inflasie eers teen einde 2025 tot 4,5% gaan daal.

Grobler sê dit lyk dus of die rentekoers eers in September – op die vroegste – verlaag kan word.

“Dít nadat die rentekoers sedert November 2021 reeds met 475 basispunte gestyg het en vir die afgelope maande onveranderd gebly het.”

Inflasie het in Februarie tot 5,6% van Januarie se 5,3% en Desember se 5,1% gestyg.

“Dit blyk dat talle plaaslike en wêreldwye faktore steeds risiko’s skep wat inflasie hoog kan hou.”

Die Federale Reserweraad van die VSA (FED) het rentekoerse verlede week ook onveranderd gehou en daar word verwag dat die Europese Sentrale Bank (ESB) dieselfde in April sal doen. Rentekoersverlagings sal dus eers teen Junie moontlik wees.

Switserland se sentrale bank het verlede week die eerste groot Westerse sentrale bank geword om rentekoerse te begin verlaag.

Grobler sê verbruikers sal dus steeds onder groot druk bly met minder besteebare inkomste, meer skuldafbetalings en stygende lewenskoste.

“Die gemiddelde salaris in die land verhoog nie teen dieselfde koers nie en is dus nie genoeg om inflasie teen te werk nie, dus raak Suid-Afrikaners al hoe armer.”

Hy sê laer rentekoerse sal ongetwyfeld help om sake- en vebruikersvertroue te ondersteun en verbruikersbesteding aan te wakker.

“Suid-Afrika se logistieke beperkings, kragkrisis en infrastruktuur- en waterprobleme hou egter steeds groot risiko’s in vir die ekonomie.

“Die komende verkiesing hou ook ʼn risiko in weens verskeie scenario’s wat kan voortspruit uit die uitslag daarvan.”

Volgens Greg Dart, direkteur van High Street Auctions, is die rentekoers wat vir ʼn vyfde agtereenvolgende keer onveranderd gelaat is, “nie verbasend nie, maar uiters teleurstellend”.

“Februarie se treurige inflasiesyfers het min speelruimte vir die Monetêre Beleidskomitee (MBK) gelaat.

“Maar onder die omstandighede was sy besluit net so verantwoordelik as wat dit neerdrukkend was. Wat egter jammer is, is dat Suid-Afrika se makro-ekonomiese werklikheid al so lank ongesond is dat die regering nie die MBK veel gegee het om mee te werk nie.”

Dart sê die land se kragkrisis bly die grootste hindernis vir plaaslike en internasionale beleggersvertroue, terwyl dit die ekonomie ernstige skade berokken.

“Die goewerneur van die Reserwebank het vandag opgemerk dat SA se sukkelende ekonomie in die vierde kwartaal van 2023 swakker gevaar het as verwag en met net 0,1% uitgebrei het.”

Hy meen beurtkrag het verlede jaar ongeveer 1,5 persentasiepunte van die BBP weggevat, wat ons met ʼn treurige jaarlikse groeikoers van net 0,6% gelaat het.

“Dit is nie toestande waarin die eiendomsektor sal floreer nie.

“Baie beleggingsbesluite sal waarskynlik uitgestel word tot ná die verkiesing, wanneer beleggers ʼn duideliker prentjie van die land se ekonomiese toekoms sal hê.”

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê hulle verwelkom die besluit om die rentekoers onveranderd te laat, ondanks verbruikerinflasie wat gestyg het.

“Kospryse, geopolitieke risiko’s en hul uitwerking op globale voorsieningskettings en energiemarkte is onder meer as opwaartse risiko’s vir die inflasievooruitsigte gelys.

“Diensinflasie is op sy hoogste sedert 2019, wat daarop dui dat Suid-Afrika by die globale tendens van dienste eerder as goedere as primêre bron van inflasie aansluit.”

Volgens Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff Property Group, is die onveranderde rentekoers belangrik vir stabiliteit namate die verkiesing ál nader kruip.

“Hoewel ons altyd op ʼn rentekoersverlaging hoop, was dit hoogs onwaarskynlik in die lig van die voortdurende hoë inflasiekoers.

“Nietemin bly die mark optimisties dat rentekoersverlagings op hande is en teen die middel van die jaar sal intree.

“Die ekonomie het tot ʼn mate nou ʼn dooiepunt bereik – asook die eiendomsmark – en ʼn hupstoot is broodnodig.”

Seeff sê verder dat die hoër as nodige rentekoers ʼn uitwerking op die mark het wat verkoopsvolumes én -pryse betref.

“Daar was ʼn merkbare afname in verkoopsvolumes sedert die middel van verlede jaar en prysstygings het tot net omtrent onder 1% gestuit. Dit is nie juis aansporing vir verkopers nie, maar is egter steeds goed vir kopers wat, ondanks die hoër leenkoste, goeie transaksies in die mark kan vind.

“Die vaste prysstygings beteken dat eiendomspryse in baie gebiede soortgelyk is aan wat dit twee jaar gelede was, wat nogal ongehoord is en ʼn groot voordeel vir kopers kan inhou. Terselfdertyd is daar baie gemotiveerde verkopers wat bereid is om na ernstige aanbiedings te kyk.”

Hy sê hoewel meer mense om finansiële redes verkoop en verbruikers onder enorme druk is, gee die banke steeds te kenne dat daar geen noemenswaardige toename in marknood was nie.

“Daar is ongelukkig nou weinig geleenthede vir winskopiejagters in die eiendomsmark. As jy egter ʼn ernstige koper is, sal jy waarskynlik tog ʼn goeie prys kan kry en daarby baat sodra die rentekoers daal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Papsak ·

Nee kyk ek weet nie waar gaan alles eindig nie want regtig dit gaan net in SA so wild is n skande laat ons so uit gebuit word kyk maar alles hoog petrol gaan sommer drie keer op agter mekaar kyk wasr staan kos pryse nee regtig n sonde teenoor ons ??????

Cassie Carstens ·

Ek weet van iemand sie se pensioen die afgelope 10 jaar presies dieselfde is en sy medies gaan jaarliks op. Hoe moet hy oorleef?

OW ·

Hierdie is ‘n aanslag teen demokrasie in sy oortreffendste vorm.Dagvaar die daglig uit hulle uit.Ek vermoed hierdie aangeleentheid sal tot na die konstitusionele hof gaan,en internasionaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.