Hoë van teenbende-eenheid doodgeskiet

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Lt.kol. Charl Kinnear, bevelvoerder van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid (AGU), is Vrydagmiddag koelbloedig doodgeskiet.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê Kinnear (52) is kort ná 15:00 buite sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Volgens brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse woordvoerder van die polisie, dui ʼn voorlopige ondersoek daarop dat Kinnear se liggaam omstreeks 15:20 in sy voertuig ʼn paar meter van sy huis aangetref is.

Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

ʼn Saak van moord word deur die Valke ondersoek.

Kinnear het meer as 30 jaar se ervaring as polisiebeampte gehad en het oor die jare verskeie hoëprofielsake ondersoek wat figure uit die bende-onderwêreld soos Nafiz Modack, Colin “Donkie” Booysen, Ashley Fields en Jacques Cronjé ingesluit het.

Van die nooddienste vanmiddag op die toneel. Foto: Twitter)

Hy het ook die sluipmoord op die adv. Pete Mihalik ondersoek en was die hoofondersoekbeampte in die afpersingsaak oor veiligheidsdienste in Kaapstad.

Maroela Media het vroeër berig Kinnear en sy gesin het vroeg vanjaar vir hul lewens gevrees ná ʼn beweerde aanval op hul huis verlede jaar waartydens twee verdagtes in hegtenis geneem is.

Dit het gevolg nadat Kinnear se naam blykbaar op ʼn soort “moordlys” verskyn het saam met die name van ander polisiemanne wat hoëprofielsake ondersoek.

Die huis van lt.kol Charl Kinnear in Kaapstad vroeër tydens polisiebewaking. (Foto: Verskaf)

Kinnear se huis was ook einde verlede jaar in ʼn beweerde aanval ʼn teiken toe Faeez Smith, ʼn 27-jarige man, buite Kinnear se huis met ʼn handgranaat in sy besit deur die polisie voorgekeer en in hegtenis geneem is. ʼn Ondersoek na die voorval het gelei tot die inhegtenisneming van ʼn tweede verdagte, Amaal Jantjies, ʼn vrou wat glo as tussenganger opgetree het.

Die beweerde aanval het op 23 November verlede jaar plaasgevind terwyl Kinnear, sy vrou en hul twee seuns in die huis was. Die huis was in dié stadium onder 24-uur-polisiebewaking kort ná die skietdood van lt.kol. André Kay slegs ʼn paar strate weg van die Kinnears se huis.

Kay was verbonde aan die Wes-Kaapse polisie se eenheid wat die uitreiking van permitte vir vuurwapens, dranklisensies en tweedehandse winkels reguleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

RIV Col. So onnodig. Kan dit nie n reel word dat polisiebeamptes koeël vaste baadjies dra as hulle buite rond beweeg maak nie saak of hulle aan of af diens is nie. Taakspanne word vinnig saamgestel maar dit bring nie die persoon terug nie. Daar moet mos geld beskikbaar wees vir die baadjies vir elke polisie beampte.

Persheks Adri ·

Ek stem saam met jou!

Hou net in gedagte dat die koeël vaste baadjies nie altyd help as dit kop skote is nie en ek bedoel dit nie lelik nie!

Carl ·

Daar sal baie hard opgetree moet word teen bendes wat duidelik geen respek vir lewe of die wet het nie. Dit is tyd dat die wurg greep wat hierdie mense deur korrupsie, intimmidasie en geweld het, vernietig word. Of dit onder n lamsakkige ANC kan gebeur, is dalk nie moontlik ie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.