Honderde bly gestrand ná Qatar-vlugte gestaak word

‘n Vliegtuig van Qatar Airways (Foto: Verskaf)

Honderde gestrande Suid-Afrikaners wat in die volgende tien dae met Qatar Airways vanuit die buiteland na Suid-Afrika sou terugvlieg, se vlugte is tydelik en onverklaarbaar vertraag.

Beverley Schäfer, DA-LPW in die Wes-Kaap asook een van die koördineerders van die HomeAwayFromHome-inisiatief, sê amper 1 000 Suid-Afrikaners sit nou hande in die hare nadat hulle binne die volgende tien dae met vyf verskillende vlugte van Qatar Airways huis toe sou vlieg. Dié Suid-Afrikaners het reeds derduisende rande aan vlugte na Suid-Afrika bestee.

Sowat 200 Suid-Afrikaners per vlug sou na Suid-Afrika toe terugkeer.

’n Groep van sowat 22 Suid-Afrikaners wat van Suid-Amerika na Heathrow-lughawe in Londen gevlieg het om dan na Doha in Katar te gaan vir die repatriasievlug, sit nou by Heathrow gestrand. Schäfer sê die Suid-Afrikaanse regering het die vlugte op die nippertjie stopgesit en dié groep het nou nêrens heen om te gaan nie.

Die eerste repatriasievlug met Qatar het Woensdag 12:00 vanuit Hamad Internasionale Lughawe in Doha, Katar, met sowat 150 Suid-Afrikaners vertrek. Maroela Media het vroeër berig dié groep Suid-Afrikaners moes Dinsdag langer as ’n dag op dié lughawe wag nadat hul vlug met Qatar Airways op die laaste nippertjie gekanselleer is.

Die meeste Suid-Afrikaners in dié groep het Maandag met repatriasievlugte van lande soos Japan, Koeweit en Australië tot in Katar gereis. Hulle het aangesluit by die repatriasievlug wat nóg ’n groep Suid-Afrikaners wat in Katar gestrand was, terugbesorg het na Suid-Afrika.

Faizel Moosa, die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Katar, het Woensdag vroegoggend met dié groep gaan gesels en bevestig dat die vlug aanvanklik vertraag is weens die tekort aan beskikbare kwarantyngeriewe in Suid-Afrika, waar dié Suid-Afrikaners moet tuisgaan sodra hulle in Johannesburg aankom. Die groep het Donderdagoggend vroeg in Suid-Afrika geland.

Schäfer sê die HomeAwayFromHome-groep het probeer om met die minister van vervoer kontak te maak om die rede te bepaal waarom die ander vyf vlugte vertraag is. Hulle is nog geen duidelike rede hiervoor gegee nie.

“Ons glo en vertrou die regering tree in die beste belange van dié gestrande Suid-Afrikaners op. Ons is baie dankbaar vir Qatar Airways wat bereid is om hierdie gestrandes wel terug te vlieg,” sê Schäfer.

Intussen het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) ’n verklaring uitgereik waarin hy sê dié departement het nié vlugte met Qatar gestaak nie.

“Dirco het nie die ooreenkoms met Qatar Airways om Suid-Afrikaners te repatrieer, gestaak nie. Dit is baie teleurstellend dat daar wel sulke bewerings gemaak word,” sê Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Dirco.

Ngqengelele sê Dirco is inteendeel in die proses om met Qatar Airways te onderhandel om die Suid-Afrikaners terug te vlieg in ooreenstemming met die reëls en regulasies wat deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is.

Ngqengelele sê sowat 3 400 van die 3 637 gestrande Suid-Afrikaners wat Dirco genader het, is reeds teruggebring huis toe.

“Ons kan die versekering gee die repatriasieproses word volgens die afsonderingsregulasies gedoen. Dirco beklemtoon sy toewyding om alle gestrande Suid-Afrikaners in die buiteland te help om veilig terug te keer huis toe,” sê Ngqengelele.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.