Hoogste hof sê óók Zuma se parool was onwettig

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Kim Ludbrook/Pool/AFP)

Die land se hoogste hof dink óók oudpres. Jacob Zuma behoort terug te gaan tronk toe.

Die Konstitusionele Hof het Donderdag Zuma se verlof tot appèl met koste van die hand gewys en dus bevestig dat die mediese parool wat Arthur Fraser, die voormalige kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD), in September 2021 aan die oudpresident toegestaan het, onwettig was.

Dít volg nadat die DA, AfriForum en die Helen Suzman-stigting in 2021 ʼn dringende hofaansoek beteken het in die saak wat die vrylating van Zuma op mediese parool aangevat het.

Die vraag is egter nou of die oudpresident weer die tronkdeure agter hom gaan hoor toeswaai of nie.

Die appèlhof in Bloemfontein het in November verlede jaar Zuma en Fraser se appèlaansoek oor Zuma se vrylating op mediese parool met koste van die hand gewys.

Zuma en die DKD het geappelleer teen die Pretoriase hooggeregshof se beslissing van 2021 dat Zuma se vrylating op mediese parool onregmatig was en dat hy die res van sy vonnis moet uitdien.

Zuma was van mening dat die uitspraak duidelik verkeerd is en dat daar ʼn sterk moontlikheid is dat ʼn hoër hof tot ʼn heeltemal ander gevolgtrekking sou kom.

Die Konstitusionele Hof het egter nou bevind daar is geen redelike vooruitsigte op sukses wat Zuma se appèl betref nie.

AfriForum het Donderdag in reaksie op die jongste uitspraak gesê Zuma moet terug tronk toe om sy volle vonnis dáár deur te bring.

“Geen politikus mag bo die wet geag word nie. Die onwettige wyse waarop Zuma sy tronkstraf ontsnap het, beteken hy het steeds ʼn vonnis wat hy agter tralies moet uitdien,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Hopenlik lewenslank maar hoe lank was sy oorspronlike vonnis..en hoe lank is dan nog uitstaande.

SwartBees ·

Dan weet ons presies wie die main brain agter dit is en hom sommer daarvoor ook verantwoordelik hou en vonnis.

Lillian ·

En dié wat glo dat hy werklik agter tralies was, glo ook seker die maan is van kaas gemaak.

Marcello ·

Nee, ek dink nie so nie, Die probleem is trok-eienaars behandel hul bestuurder nie reg nie, betaal hulle nie wat verskuldig is nie. En as die trok breek, dan word die bestuurder veranntwoordelik gehou, asook soveel ritte word ingeryg, dat die bestuurders sien amper NOOIT hulle gesinne nie.

Michael ·

Hierdie is nou dieselfde KH wat Zuma onwettig gevonnis het. Wat ‘n sirkus-is hulle ook bo die wet verhewe?

domheks ·

Nou wil ek weet watse straf Arthur Fraser gaan kry, hy het sy magte oorskry! jz MOET VIR HOM KRY!
Mos gedink hy is bo die wet verhewe.

Johan Botha ·

Wat gaan hier aan? Die man moes twintig jaar gelede al in die tronk gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.