Hospitaal sonder water – organisasie gryp in

Gift of the Givers was Woensdag by die Rahima Moosa-hospitaal in Johannesburg om boorgate te boor. (Foto: Twitter / Gift of the Givers)

Die noodlenigingsgroep Gift of the Givers was Woensdag by die Rahima Moosa-hospitaal in Johannesburg om boorgate te boor met die hoop om die ernstige waterkrisis by dié hospitaal te verlig.

Die hospitaal sit glo sedert 19 Mei sonder water. Dit midde ʼn derde Covid-19-golf wat hospitale in Gauteng onder enorme druk plaas. Die hospitaal dien boonop as plaasvervanger vir pasiënte wat gewoonlik van dienste by Charlotte Maxeke (CMJH)-hospitaal gebruik sou maak. Dié is nog gesluit nadat ʼn brand vroeër vanjaar groot dele van dié hospitaal vernietig het.

“Watervoorsiening aan die hospitaal en omgewing is onverklaarbaar gestaak sonder ’n verduideliking deur waterowerhede,” sê dr. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers.

Sooliman sê die organisasie is deur hospitaalpersoneel en ‑bestuur genader om onder meer met gebottelde water en mobiele toilette hulp te verleen. Hulle is ook gevra om praktiese steun ten opsigte wat watertenks wat glo elke dag by die hospitaal aankom, te bied.

“Ons het gebottelde water op 28 en 31 Mei afgelewer. Boorspanne van Gift of the Givers het voorts toestemming van die bestuur en infrastruktuurspan gekry om boorgate vir water te boor.

“Ons geoloog, dr. Gideon Groenewald, het die boorperseel geïdentifiseer. Ons sal ook bestaande, vervalle boorgate evalueer met die hoop om dit te herstel. Nuwe boorgate sal water direk aan die hospitaal voorsien.”

Sooliman sê krane sal buite die hospitaal aangebring word vir die gemeenskap om te gebruik sodra die water getoets en vir menslike gebruik goedgekeur is.

“Die krisis kon nie op ’n meer ongeleë tyd gekom het nie met dié dat Covid-19-getalle in Gauteng skerp toeneem. Boonop dien dié hospitaal ook as een van die voerhospitale vir die Charlotte Maxeke-hospitaal wat tydelik gesluit is.

“Lede van omliggende gemeenskappe is ook desperaat op soek na water, wat nóg ’n verhoogde risiko te midde Covid-19 meebring.”

Luidens berigte het die hospitaal glo aanvanklik gedink dat ’n foutiewe pomp die oorsaak van die waterskaarste was, maar dit blyk nou dat verouderde water-infrastruktuur die probleem is. Nozuko Mkabayi, uitvoerende hoof van die hospitaal, wou egter nie Maroela Media se navrae beantwoord nie.

Benewens die waterprobleme by dié hospitaal heers daar ook kommer oor die groeiende kapasiteitsprobleme by hospitale – veral omdat die CMJH-hospitaal steeds toe is.

Pasiënte wat gewoonlik na dié 1 000-bed-hospitaal sou gaan, stroom nou na ander hospitale, waaronder die Rahima Moosa, South Rand en Chris Hani Baragwanath.

Dít hou gevolglik etlike kapasiteitsprobleme te midde van die Covid-19-pandemie in.

Die DA het sy kommer uitgespreek oor die feit dat daar nog nie ’n datum verskaf is van wanneer die hospitaal sal heropen nie.

Volgens Jack Bloom, DA-LP en woordvoerder vir gesondheid,

word daar op ’n brandveiligheidsertifikaat deur die Johannesburg-stadsraad gewag.

“Intussen ly pasiënte aangesien hulle met vervoer na ander gesondheidsfasiliteite sukkel.

“Die waglys vir gewone operasie by die CMJH-hospitaal word boonop by die dag langer. Dit sluit operasies soos knie- en heupvervangings en katarakoperasies in.”

Kankerpasiënte wat hulle behandeling elders moet ontvang, ly ook hieronder, sê Bloom.

“Mense se lewens is in gedrang – veral dié van kanker- en Covid-19-pasiënte wat met ernstige simptome in intensiewe sorgeenhede behandel moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Hulp asseblief al die mense in SA wat bevoeg is, want ons sit met ‘n onbevoegde klomp ANC ‘s in die land. Verbaas hulle kan ‘n rits op en af trek! Die wat nou hier gedoen word deer bekwame mense sal nou seker vir die Kubane gegee word?

Elize ·

Niks gaan verander nie alvorens die ANC nie meer aan bewind is nie.

Kokerboom ·

Dr Mkhize is te besig met Covid pandemie en kan nie ” multitask” dan ook bedrogskaakspel

Moedeloos ·

Die ANC konsentreer so baie op onbenullighede maar is 100% afwesig waar dit saak maak. Hul wil jou vertel wat en hoe jy moet maak maar hulself kan nie eens hul verpligtinge nakom nie.

Misky ·

Hierdie is die munisipaliteit se probleem. Dankbaar vir die hulp van Gift of the Givers, maar die munisipaliteit gee nie ‘n blou duit om nie. Hulle weet iemand sal altyd inspring en help en hulle hoef niks te doen nie. Sit agteroor en wag vir pay day

Irma ·

Misky ja , is daar een munisipaliteit in Suid-Afrika wat werklik daarin belangstel om vir hulle inwoners goeie diens te lewer.?

koos ·

Smile mense, dis die gesig van ons nuwe staats(wan)geadministreerde NHI gesondheidstelsel.

My Mening ·

Dis maar weereens ‘n geval van ons wil alles hê, veral die groot salarisse, voordele en titels, maar is in meeste van die gevalle geensins bevoeg om die werk te doen nie!!!!

Tipper ·

Transformasie,my maat, Transformasie,n pyn in al die Fasette van die lewe.

Suzette ·

Daar moet altyd deur een of ander organisasie ingegryp word omdat die anc so uiters onbevoeg is.

Dup ·

Die Kubaanse “ingenieurs” gaan hierdie waterprobleme sommer in ñ japtrap oplos.

Samuel ·

Gift of the givers doen ongelooflike goeie werk. Dit is egter nie hulle verantwoordelikheid om die Staat se funksies oor te neem nie. ANC verlekker hulle daarin.

Nico ·

Die sanitasie van die hande is nie genoeg nie, daar is oor en oor bewys dat daar altyd lopende water moet wees.

Nico ·

Tot en met 1845 was die sterf syfer van moeders wat geboorte skenk ±30%! Waarom was hierdie sterfsyfer so hoog? Die dokters het die een na die ander pasient ondersoek en gehelp sonder om die hande te was. die wat dit wel gedoen, dit was gedoen in ‘n bak of skottel met stilstaande wateren mikroskopiese kieme en baktereë was bekend. Dr. Ignuz Sammelweis (1818-1865) het hierdie probleem op gemerk en aanbeveel dat alle dokters hulle hande behoorlik moet was, Sy siening is egter in sy leeftyd verwerp deur die mediese wêreld van daardie tyd, en is eers aanvaar nadat Louis Pasteur (1822-1895) bewys het dat Dr, Sammelweis reg was.
Vandag weet ons dat ons, ons hande in lopende water deeglik moet was wanneer daar met bloed gewerk was, iets wat die Bybel al vir 3500 lank leer.

Elmarie ·

Soveel respek vir Dr Sooliman en Gift of the Givers en hul onbaatsugtige werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.