Foto’s: Huise, paaie oorstroom weens reën

Die ontvangs van die Centurion Meer Hotel het oorstroom weens vloede. (Foto: Verskaf)

Swaar reënval die afgelope paar dae het Maandag chaos gesaai in verskeie provinsies, waar laagwaterbrûe oorstroom, omgevalle bome paaie versper en sinkgate ingeval het.

Talle motoriste moes terugdraai huis toe op pad werk toe weens erge verkeer wat veroorsaak is deur oorstroomde paaie. Sommige huiseienaars het paniekbevange toegekyk hoe vinnig stygende watervlakke ál nader aan hul huise beweeg.

Om alles te vererger het beurtkrag boonop teweeggebring dat talle verkeersligte buite werking was.

ʼn Man is dood nadat vloedwater Sondagaand die motor waarin hy en sy vrou gery het, in die omgewing van Hartbeespoortdam in Noordwes meegesleur het, berig Tania Heyns.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê vloedwater het die motor van ʼn laagwaterbrug op ʼn grondpad by die Krokodilrivier meegesleur. Die vrou kon daarin slaag om uit die motor te klouter en het alarm by ʼn nabygeleë huis gemaak.

Volgens Lambinon is nooddienste net ná 20:00 na die toneel ontbied waar hulle die motor, sowat 300 m vanaf die brug, onder die water aangetref het.

Die polisie se duikeenheid het die man, vermoedelik 30, se liggaam uit die motor onder die

Water by Irene Country Estate. (Foto: Verskaf)

water gebring en hy is op die toneel dood verklaar.  Die motor is vanoggend uit die water gesleep. Tshwane se brand- en reddingsdienste, asook verskeie ander nooddienste, het Maandagoggend lede van die publiek in Centurion bygestaan nadat verskeie laagwaterbrûe oor die Hennopsrivier oorstroom het.

“Verskeie mense is gestrand gelaat in geboue en ander het beangs gevlug na hoërliggende gebiede namate die rivieroewer oorstroom en die watervlak gestyg het,” sê Russel Meiring, woordvoerder van ER24.

Hy sê die swaar reënval het daartoe bygedra dat kleiner riviere en laagliggende gebiede vinnig oorstroom het, wat gevaarlike omstandighede in groot dele van dié omgewing veroorsaak het. Die Centurion Meer Hotel in die middestad van Centurion se ontvangsdeel het ook oorstroom.

Vloede in Centurion. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Daspoort in Pretoria is paniekbevange dat hul huise gaan oorstroom. “Hier het klaar ʼn huis laer af in Charl Cilliersstraat vanoggend oorstroom. Die water bou op en stroom soos ʼn rivier tussen die huise deur,” sê Tiaan Viljoen, ʼn inwoner. “Ons huis het al drie of vier keer vantevore oorstroom en as dit so aanhou reën, gaan dit wéér gebeur. Dis erg vir die mense.”

Die polisie in Mpumalanga het ook Maandagoggend ʼn waarskuwing uitgestuur dat die R39 tussen Ermelo en Standerton oorstroom het en die pad by Morgenzon gesluit is.

Die Stad Ekurhuleni het inwoners Sondag gewaarsku dat motoriste uiters versigtig moet bestuur. “Dit reën die afgelope paar dae onophoudelik, paaie is glad en vloede is onvermydelik. Groot slaggate gevul met reën is ook moeilik om uit te ken en kan ernstige ongelukke veroorsaak,” lui die verklaring.

Meiring sê in die geval van oorstromings moet motoriste nie probeer om die pad oor te steek nie, maar eerder alternatiewe roetes soek. “Indien jou huis oorstroom, maak seker jy skakel jou huis se krag by die hoofverspreidingsbord af, eerder as om elektroniese toestelle naby water te probeer afskakel. Beweeg dan na hoërliggende gedeeltes en lig die nooddienste in.”

https://www.facebook.com/WatsonJP69/videos/2459169747737609/?t=21

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ruiklont ·

Dankie Heer Jesus vir die brood nodige reën, ons loof U vir U genade

Tom ·

Ons het vir reën gebid en ons het dit in groot mate ontvang. Huise en paai kan weer herbou word. Sonder die Goddelike antwoord vir Reën was ons boerderye en stede verdoem. Kom ons sê eerder dankie vir die reën en begin om die skade te herbou.

Suster Sê ·

Dit is verskriklik. Ek kan nie glo dat besigheid eienaars nie hulle staff laat weet om by die huis te bly as die paaie so lyk nie.

Sonja ·

Stem saam, die nat steenkool storie is nonsens. Almal is nie so dom om hul leuens te glo nie

Merrie Perd ·

Nat steenkool brand eers lekker. Dink aan al die stoom lokomotiewe van die ou dae wat nooit gaan staan het weens nat steenkool nie. Dis bog.

Wielspore ·

Nat steenkool het ‘n groot invloed op energie opwekking want die kole vat langer om te begin ontbrand en brand teen ‘n laer temperatuur. Maak bietjie ‘n braaivleis vuur met nat hout of nat charcoal dan sal jy die verskil sien in ontbranding. Jy verloor omtrent 10% van jou opwekking met nat kole.

Jan ·

Die tyd het gekom dat Liewe Jesus die Hennopsrivier bietjie “flush”.

SjN ·

Wielspore, jy is reg maar dit vat so 2 biere langer om jou vleis te braai, wil jy nie vir hul gaan leer hoe om vuur te maak as dit nat is nie asb.

Nettie ·

SJOE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Ai, kon van hierdie water nie maar in die dorre Noord-Kaap, Sentraal Karoo en Oos-Kaap geval het nie?

My innige meelewing met die mense wat geraak is deur die oorstromings …. As dit mý ou tjorrie was wat só voor my oë met die straat afgespoel het, het ek my morsdood gehuil (al het ek versekering ……).

Genugtig, mense, WAT VERSTAAN SOMMIGE MENSE NIE as daar gesê word mense moet NIE oor enige laagwaterbrug wat onder water is of verspoelende area probeer kruis nie??? Dis mos moeilikheid-soek!!!

Ai ja, en die nat steenkool-storie …………….. ESKOM sal vinnig moet PROBEER om verder te dink aan ‘n “plausible” verskoning, want nie nat-steenkool-storie …. wel, dit hou nie meer water nie (‘pardon the pun’).

Koos ·

Kom ons praat sin. Die steenkool word vervoer op bande na die kragstasie en dan beweeg dit na die steenkoolbrekers wat dit fynmaal tot poeier. Daarna word die steenkool die stoomketel ingeblaas. Aanvanklik behoort die fyn nat poeier geen probleem te wees nie maar met tyd word die steenkool modder en onmoontlik om onder druk in die ketel geforseer te word. N groot kragstasie gebruik n paar duisend ton steenkool in 24 uur. Waar kry jy n groot genoeg afdak om honderdduisende ton steenkool droog te hou. En voor iemand met my wil nonsens praat. Ek werk al 37 jaar vir n kragstasie. Nou as ons praat van swak onderhoudswerk, dan is daar n geldige punt. Want daar is altyd van bestuurskant af nooit geld nie.

koos ·

Naamgenoot, wat jy sê maak baie sin.
Maar dit was nog nooit ‘n probleem voor die jare 2000 nie. Die grooter probleem is dat dit wel kan gebeur, maar niks word daaraan gedoen nie. Jy sê wel dat mens nie so ‘n groot dak kan bou nie, wat weereens sin maak, maar dan word die volstruis tegniek maar in gespan.
Wees eerlik, het jy 30 jaar terug van die verskonings van nat steenkool gehoor wat die hele SA sonder krag laat?

Kobud Steyn ·

Na 37 jaar is dit nou net die afgelope paar jaar wat dit gebruik word as verskoning en hoekom vat dit meer as 37 jaar om aan n plan te dink om die goed droog te hou ????????

Alexz ·

Dit is waar wat jy sê Koos, wonder net hoe kry die Engelse in Brittanje dit reg, waar dit ong. 200 dae per jaar reen. Of het hulle beter opwekkings tegnologie?

Scalla ·

Koos, aangesien jy al 37 jaar daar werk is jy mos die aangewese persoon met kennis en ondervinding om dit wat verkeerd is te rapporteer indien dit nie self uitgesorteer kan word nie.

Magriet ·

Ons het hier in die Oos Vrystaat, tussen Marquard en Ficksburg, slegs 25mm reën gehad verlede week. Ons hoop en bid vir opvolgreën

nic ·

stem saam sonja escom praat nonsens as hulle nie sulke skelms in diens gehad het nie was daar geen probleem vandag

Verbaas ·

Nee nee dis nie oorstroom weens die reën nie. Ek is verbaas oor die stelkimg.

Dit word oor stroom agv die infra struktuur weereens en die storm water stelsel wat nie skoon gehou word nie.

Ons het elke druppel reën nodig

charmaine ·

Suster se, ek stem maar nou sit ons met EISKOM se loadshedding en dan kan die mense nie van die huis afwerk nie, en party werke gee nie om vir hulle mense jy moet maar deur die storm voort ploeter om gesien te word. My seun kon vandag van die huis afwerk maar danksy die vertaagdes aan stuur van SA het n kragstasie gebrand in Pretoria wes so ons is al van 2uur vanoggend sonder krag en hy is maar werk toe waar daar wel krag en n generator is.

Maar ek is nog steeds bly vir die reen dit kan so aangaan tot 1 Januarie en ek hoop en bid waar die boere dit nodig het sal dit ook so baie reen.

Dankbaar ·

Baie dankie ons Vader vir die reën, dankie vir die reën wat nog gaan val in die ander droë dele van ons land!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.