Inflasie weer effe op

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Inflasie is weer aan’t styg ondanks ekonome se voorspelling dat dit in Oktober sou daal.

Nadat die koers van Augustus tot September effens van 7,6% na 7,5% gedaal het, het dit in Oktober weer op 7,6% gaan draai. Die maandelike verbruikersprysindeks (VPI) was in Oktober ook hoër (0,4%) vergeleke met September (0,1%).

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) skryf die jongste toename toe aan ʼn styging in die prys van kos en nie-alkoholiese drankies wat op ʼn jaargrondslag met 12% gestyg het. Die prys van vervoer het intussen met 17,1% op ʼn jaargrondslag gestyg en behuising en nutsdienste wedersyds met 4,3%.

StatsSA sê kossoorte soos brood en ontbytpap “getuig van hoë vlakke van inflasie” met ʼn styging in die jaarlikse koers vanaf 19,3% tot 19,5%. Soetkoekies, macaroni en mieliemeel het net in die afgelope maand met onderskeidelik 5,5%, 3,1% en 1,7% gestyg.

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Melk, eiers en kaas het intussen die grootste prysstyging (10,5%) sedert Februarie 2017 beleef. Produkte wat veral maandelikse verhogings aangeteken het, sluit in langlewe-volroommelk (3,5%), vars volroommelk (1,8%) en cheddarkaas (1,2%).

Vleis is ook duurder – vanaf 9,9% in September tot 10,5% in Oktober. Beesvleis is veral duurder. Steak was in Oktober 2,5% duurder vergeleke met September en maalvleis 1,1% duurder.

Warm drankies was in Oktober vanjaar 14% duurder vergeleke met verlede jaar Oktober. Dié produk  is ook nou die duurste wat dit sedert 2017 was.

Die jaarlikse voertuiginflasie het vanaf 5,8% tot 6,1% gestyg weens die feit dat gebruikte voertuie nou 14,5% duurder is as ʼn jaar gelede.

Laer petrolpryse het egter die brandstofindeks vir ʼn derde agtereenvolgende maand laat daal en die jaarlikse koers vir brandstof in Oktober op 30,1% te staan laat kom, vergeleke met 34,1% in September.

ʼn Liter 95-oktaan-petrol (binneland) was in Oktober R22,36. Dit is aansienlik goedkoper as die rekordhoogtepunt van R26,74 in Julie vanjaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Kan ons werklik verbaas wees deur die toename met n verbrokkelende land en die hoe finansieele skuld wat op ons rus.Daar is eenvoudig niks wat uitstaan of werk nie.

George ·

en more word die interest rate ook weer opgestoot. Welgedaan ANC, nie dat julle worry nie, solank julle n brood en n oros in die gehoor gooi n week voor die verkiesing sal julle in die seat bly.

Piet parys ·

Ja nou sal die oningeligtes weer wil weet wie maak die geld . Die winkel eienaar of die middelman . Wel die middelman verdubbel die prys van die boer. Dit beteken die boer werk die hardste met die meeste risiko en kry die peanuts in die proses. INSETKOSTE DIE HOOF OORSAAK VAN DIE PRYS STYGINGS . Brandstof , Kunsmis , ELEKTRISITEIT , doseer middels , onkruid doders , arbeidskoste en instandhoudings koste en veel meer en dit is nie volhoubaar nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.