Inflasiekoers daal eerste keer in 2024

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Vir die eerste keer vanjaar kon Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) aankondig dat die inflasiekoers gedaal het.

Jaarlikse verbruikersinflasie het in Maart met 0,3 persentasiepunte skietgegee nadat Suid-Afrikaners vir twee agtereenvolgende maande ʼn styging moes verduur.

Jaarlikse verbruikersinflasie het vanaf 5,6% in Februarie tot 5,3% in Maart gedaal, lui StatsSA se jongste syfers.

Dié daling het gehelp om die koers binne die Reserwebank se amptelike teikenband te hou. ʼn Inflasiekoers van tussen 5% en 6% word sedert September verlede jaar gehandhaaf.

Die inflasiekoers wat kos en nie-alkoholiese drankies betref, het boonop in Maart tot 5,1% verlangsaam nadat dit ʼn jaar gelede ʼn hoogtepunt van 14% bereik het.

StatsSA sê dit is die laagste jaarlikse verhoging sedert September 2020.

Die kategorieë met die hoogste jaarlikse prysveranderings in Maart was diverse goedere en dienste (+8,5%), onderwys (+6,3%), gesondheid (+6,0%) en behuising en nutsdienste (+5,9%).

Onderwysgelde word een keer per jaar (in Maart) ondersoek.

StatsSA het Woensdag gesê dat onderwys in 2024 in die geheel 6,3% duurder is vergeleke met 2023. Dit is meer as die jaarlikse verhoging van 5,7% verlede jaar en die hoogste sedert 2020 toe die koers op 6,4% gedraai het.

Hoërskole het die grootste toename in skoolgelde in 2024 aangeteken (+7,3%), gevolg deur laerskole en tersiêre instellings (albei met 5,9%).

Universiteitskoshuise is gemiddeld 8,2% duurder as ʼn jaar gelede, terwyl kleuterskole hul gelde met 6% verhoog het.

Voedselinflasie is op die laagste vlak in meer as drie jaar.

Brood en graan het ʼn kleiner prysstyging van 5% vergeleke met Februarie se 6,1% ondervind. Die koers is aansienlik laer as die hoogtepunt van 21,8% in Januarie 2023. Broodmeel, pasta, beskuit, mieliemeel, klaargemengde meel en witbrood is goedkoper as ʼn jaar gelede.

Die jaarlikse koers vir vleis het in Maart op 0,8% gaan staan; dit is aansienlik laer as Februarie verlede jaar se hoogtepunt van 11,4%.

Produkte met die mees beduidende jaarlikse prysstygings sluit in bruinsuiker (+22,0%), witsuiker (+ 20,1%), ʼn plak sjokolade (+ 17,9%) en sjokoladestafies (+15,9%).

Die prys van alkohol en tabak is intussen aangevuur deur jaarlikse verhogings in aksynsbelasting. Die indeks het in Maart met ʼn maandelikse 1,9% gestyg. Dit is die hoogste maandelikse styging sedert Maart verlede jaar, toe aksynsbelastingverhogings tot ʼn 2,2%- maandelikse styging gelei het. Pryse het in die 12 maande tot Maart algeheel met 4,5% gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anel ·

Broodmeel en pasta en en is defnitief nie goedkoper nie! En sjokolade het onbekostigbaar geword!! Niks word goedkoper nie!

Papsak ·

Dit is nou wragtig belaglik niemand kan meer by hou nie rerig kom by asb ????????

Amelia ·

Voel glad nie of inflasie af is nie als steeds vrek duur en almal moet maar hul sente omdraai

Koen ·

Dis duidelik min mense verstaan wat dit beteken dat die inflasie koers afneem.

Manie ·

Ek glo baie mense verstaan dit Koen, maar hulle ondervinding is dat pryse net aanhou styg en hulle maandeliks minder vir dieselfde bedrag kan koop. Die aankondigings oor die inflasie koers is eintlik baie verwronge.

Alida ·

Wanneer die inflasiekoers afkom, beteken dit nie pryse kom af nie. Pryse styg net stadiger. Waar iets R100 gekos het, sal dit met 10% inflasie styg tot R110, maar met 5% inflasie sal dit styg tot R105. Slegs DEFLASIE laat pryse daal. Inflasie laat dit altyd styg.

Cassie Carstens ·

Ek sien nerens enige gebruikersitems wat goedkoper word nie. Berekening van die inflasiekoers is nou ‘n politieke speletjie. ANC soek geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.