‘Ingrypende regulasies’ oor rasbeleide gepubliseer

Dr. Dirk Hermann en Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, tydens hul vroeëre besoek aan die VN. (Foto: Verskaf)

Werkgewers se rasbeleide kan ingrypend verander nadat ʼn skikking tussen Solidariteit en die regering as konsepregulasies in die Staatskoerant gepubliseer is. Belanghebbendes het nou 90 dae om op die regulasies kommentaar te lewer.

Die skikking in Junie verlede jaar volg na ʼn klag wat Solidariteit by die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie gelê het.

Die skikking en regulasies bepaal onder meer die volgende:

  • Niemand mag op grond van ras of weens rasbeleide afgedank word nie.
  • Ondernemings se rasplanne moet buigsaam wees met geen absolute plafonne teen bevordering nie.
  • Rasbeleide moet tydelik wees en moet op regstelling fokus.
  • Ras mag nie die enigste faktor wees wanneer rasplanne opgestel word nie.
  • Die poel van beskikbare vaardighede in ʼn spesifieke beroep moet in ag geneem word.

Maroela Media het in Oktober berig die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering is in die arbeidshof in Johannesburg ʼn bevel van die hof gemaak. Die hofbevel het die publisering van die regulasies verplig.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sal die regulasies maatskappye se rasbeleide ingrypend verander indien dit finaal gepubliseer word.

“Solidariteit sal nie huiwer om werkgewers hof toe te vat wat nie aan die skikkingsbepalings voldoen nie. Die skikking bepaal dat werkgewers se rasbeleide buigsaam moet wees en sy eie omstandighede in ag neem. ”

Solidariteit sal binnekort volledige kommentaar lewer op die ander konsepregulasies wat gepubliseer is. Die ander regulasies moet egter binne die beperkings van die skikking gesien word.

Die betrokke Staatskoerant kan hier besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

minnie muis ·

Dankie, maar of die anc hul daaraan gaan steur is n ander storie

Casper ·

Minnie muis,dit is nou ‘n hofbevel en die regering word verplig om daarby te hou.Solidariteit het hulle nou beet waar dit die seerste maak,hulle ego.

piet ·

Hoe lank is tydelik? Dit beteken nie juis veel nie, moet heeltemal afgeskaf word na ‘n spesifieke gegewe tyd is “tydelik” oop vir interpretasie.

Anel ·

Hoop hulle gaan dit van toepassing maak op kinders wat medies en veeartsensnykunde wil gaan studeer!!!

CHRISTINE ·

Daar beweeg SA nou in Nelson Mandela se rainbow nation rigting wat werk aanbetref
Baie dankie Afriforum en span.
Die ANC het mal geraak na 2020 en moet op hul plek gesit word.

koos10 ·

Met alle respek, Casper, gaan kyk bietjie hoeveel hofbevele word deur die ANC nie nagekom nie. Slegs ‘n week terug was dit op MM oor die inperkmaatreels wat nog nie bekend gemaak is nie. Die ANC weet dat die SAPS die hofbevele moet afdwing, maar geen persoon in die SAPS sal ‘n minister of president arresteer nie.

Grassie ·

Ondernemings wat die regering in teorie gee en dit wat hulle in die praktyk doen het nog nooit bymekaar uitgekom nie. Ek het lank gelede na ‘n toespraak van adv. Pik Botha geluister. Hy het gesê ‘n onderneming wat jy met mense van Afrika aangaan is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Dit was nou voordat adv. Pik die spoor byster geraak het. Ek het nie veel hoop dat die regering hul woord gestand sal doen nie.

Andre ·

…terwyl almal juig ,is die A en C lankal besig met ‘n nuwe skelmstreek op ‘n ander plek!
.Moenie julle kuikens nou al tel nie;
Cyril het hulle lankal nek omgedraai.

Republikein in die Wes Kaap ·

Na 30 jaar is “tydelik” al hoeka verby. Die ANC sal weldra gewysigde wetgewing promulgeer. Wittes sal aan die ontvangkant bly. Vergeet van plaaslike mediese skole. Gaan kyk maar wie neem die besluit daar.

Christian J M ·

Dit moet erg wees om te weet dat dit nodig is vir rassistiese wetgewing om jou te beskerm want jy sal nooit op eie meriete alleen kan vooruit gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.