Intercape sleep polisieminister nou hof toe

Intercape se busse gaan al vir drie jaar lank gebuk onder gewelddadige aanvalle. (Foto: Verskaf)

Intercape gaan Bheki Cele, minister van polisie, nou hof toe sleep weens die polisie se “versuim” om die vlaag aanvalle op sy busse stop te sit.

Intercape het hom onlangs weer tot die hooggeregshof in Grahamstad (Makhanda) gewend oor die voortslepende aanvalle op sy busse, veral in die Oos-Kaap. Dít nadat hy al by verskeie geleenthede hofbevele bekom het om die polisie en die nasionale en provinsiale verkeersowerhede te dwing om aandag te gee aan die gewelddadige aanvalle op sy busbestuurders en passasiers.

Die operateur voer in sy jongste beëdigde verklaring – van 112 bladsye lank – aan dat die polisie en ander relevante ondersoekowerhede al drie jaar lank versuim om hierdie “berekende veldtog van misdadigheid” stop te sit.

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, sê hy het op 4 Maart 2020 die eerste aanval op een van sy busse aangegee en dat daar sedertdien ʼn verdere 167 sake aanhangig gemaak is.

In die afgelope ses weke was daar nege afsonderlike gevalle waar Intercape-busse in die Oos-Kaap met klippe bestook is, passasiers en bestuurders geïntimideer is en daar selfs skote op busse afgevuur is.

Minstens drie mense is sedert Maart gewond deur skote wat op Intercape se busse afgevuur is en nog twee is erg aangerand.

“Tog, soos die sake tans staan, is daar niemand wat in hegtenis geneem is nie en geen hangende vervolgings nie,” sê Ferreira.

Intercape het Cele as die eerste respondent in sy aansoek gelys, gevolg deur Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris. Die busoperateur noem ook die provinsiale kommissarisse van die Oos-Kaap, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, Gauteng en Noordwes, saam met die hoof van die Valke, die nasionale direkteur van openbare vervolging en die hoof van die ondersoekdirektoraat in die dagvaarding.

Intercape sê hy is genoop om weer hierdie roete te volg weens die “verbysterende gebrek aan optrede van die minister van vervoer en die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap” in reaksie op die krisis.

Die busoperateur voer aan die polisie en die Valke het die mag om die sake wat deur Intercape aanhangig gemaak is op individuele én gemeenskaplike vlak te ondersoek, maar dat hulle versuim om dit te doen.

Verligting gevra

(Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Intercape hoop dat die hof sal bevind dat die polisie en die Valke versuim het om die aanvalle teen Intercape te voorkom en ondersoek toe dit plaasgevind het.

Die busoperateur vra onder meer dat die hof beveel dat ʼn verslag binne 60 dae by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ingedien word waarin alle stappe wat gedoen is en vordering wat gemaak word met die ondersoek van elk van die sake wat geopen is, asook die status van elke ondersoek uiteengesit word. Dit sal die NVG in staat stel om die ondersoeke en vervolging van die misdade te koördineer.

Intercape wil verder hê dat die hof senior polisiebeamptes dwing om direk aan die nasionale hoof van die Valke verslag te doen oor die hangende sake.

Intercape sê die risiko vir erge beserings of selfs die dood van sy bestuurders en passasiers is groter as ooit.

“Intercape self het geen manier om dit te voorkom nie,” sê Ferreira.

“Tensy en totdat diegene wat verantwoordelik is vir die orkestrasie van hierdie dade agter tralies gesit word, en ʼn duidelike boodskap gestuur word dat hierdie soort georganiseerde misdaad nie geduld sal word nie, sal die risiko van besering en dood voortduur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Di ·

Dagvaar die rook uit hulle uit. Die spul sit net in die poste en wag vir die volgende salaris!

Elise Georgina Irene ·

Good luck Intercape…! Hy sal wegkom jong; usual tricks.

gpsa ·

Bly om te sien hulle het rug graat om teen die regering op te staan. Weet nie of die regering rug graat gaan he om teen die kriminele op te staan nie. Dis tog duidelik wie agter die aanvalle is.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Kriminele is regering self…..hoef nie te wonder oor daai antwoord nie.

Johanna ·

Hul stel NIE belang NIE. Stel net belang indien DIT taxi is. Ons weet mos wat fout is.

Magda G ·

Patetiese spul. Sit en niks doen maar verwag n grooooot salaris!! ????

Tino ·

Ek haal my hoed af vir julle manne! Ek hoop regtig julle kan iets bereik

Tertia ·

Goeie genade, dit klink deesdae soos ‘n klomp stout skool kinders in ‘n klas wat heeltyd hoof toe gesleep word. Is daar dan nie meer dissipline nie? Orals word die staat hof toe gesleep oor een of ander nie-nakoming van verpligtinge nie. Mag die Vader ons behoed met die volgende verkiesing!! Ek hoop van harte Inter Cape slaag….

whatever ·

Nou hoe dan anders? Die minister sit hand om die blaas met die taximafia. Hul sit agter die aanvalle op busse omrede die eienaar nie gehoor wil gee aan hul eise nie. Lekker vrot eier

Sandra ·

Dit is ‘n skande. Die busdiens word deur gewone burgers soos ek gebruik om iewers ver te gaan. Ek gaan nou die einde van April op na my seuns toe in Gauteng. Nou moet mens die hele tyd bang wees vir aanvalle ens. Ek werk maar kan nie die prys van die vlug kaartjies bekostig nie. Ek hoop die hof help hulle in die saak.

Gerra ·

Hy sal niks doen totdat hy dit persoonlik aan sy eie sak voel.
Nou spandeer hulle belastingbetalergeld om sake te beveg of teen te staan.

Burgermeester ·

Dit sal my nie verbaas as Cele ‘aandele’ in die taxi-bedryf het nie. Hoekom anders is die polisie so traag om te reageer?

Sarel ·

Wie wen anders as die Taxi bedryf
Hoog tyd dat ons weet wie het aandeel in bedryf

Fritz ·

Die Taxi Mafia is verantwoordelik en hoë koppe in die polisie is op hul betaalstaat. Moet nie verwag dat daar opgetree sal word nie!

Shakespeare ·

Cele kan nie eers n brandende vuurhoutjie uitblus nie. Julle mors julle tyd want hy is Ramaflopski se tjommie.

Lillian ·

Ouens julle mors jul geld, in dié land regeer dis taxi industrie die land. Die regering het ‘n traak-my-nie agtige houding oor als wat verkeerd en onwettig is.

Danie ·

Wat gaan dit help die hele spul steur hulle nie aan enige bevel nie.Die regstelsel ook n klig werk net as een van ons betrokke is in misdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.