Ja, maskers in klaskamers ís verpligtend – departement

(Argieffoto: Unsplash)

Die departement van gesondheid het teruggekrabbel oor ʼn vroeëre mediaverklaring wat gelui het dat skoolkinders nie meer maskers in klaskamers hoef te dra nie.

Volgens die departement word dit nie so vervat in die regulasies wat Woensdagaand in die Staatskoerant afgekondig is nie en die stelling in die verklaring word herroep om enige misverstand van die regulasies te vermy.

“Daar word dus van kinders, nes enigiemand anders, verwag om steeds te voldoen aan die bepalings van regulasie 16A oor gesigmaskers in klaskamers en algemene binnenshuise byeenkomste, maar nie buite op speelterreine of sportvelde nie,” lui die nuwe verklaring.

Reuseverwarring het sedert die aankondiging geheers oor die kwessie of kinders in klaskamers nou maar hul maskers kan weggooi.

Die departement het die stelling aan ʼn “menslike fout” toegeskryf.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het vroeër vandag gesê volgens die regsadvies wat hy ingewin het, is die verklaring foutief en dus moet die regulasies gevolg word.

Dit is nou ook so deur die departement van gesondheid bevestig.

Die departement sê ook weer dat gesigmaskers ʼn doeltreffende, nie-farmaseutiese ingryping teen die verspreiding van Covid-19 is.

Maak skole maskervry

Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se Fakulteit vir Gesondheidsdienste, het Woensdag op Twitter geskryf die soort maskers wat mense dra – dis nou die minderheid mense wat steeds by die regulasies hou – dra weinig by om infeksie te verhoed of oordrag te verminder.

Madhi sê indien dit doeltreffend was, sou meer as 85% van diegene in Suid-Afrika nie die virus opgedoen het nie.

Hy sê Suid-Afrika gaan voort om regulasies wat reeds misluk het, weer in te stel en dat dit nie die verspreiding van die virus in die Suid-Afrikaanse konteks verhoed nie.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die uitwerking van maskers op onderrig is geweldig negatief en die instelling eis dat skole “volledig as maskervrye omgewing verklaar word”.

Onderwysers kla dat maskers leerders se natuurlike optrede beïnvloed en spontane deelname en gesonde sosiale wisselwerking met personeel en klasmaats onderdruk. “Kinders reageer anders op ʼn onderwyser met ʼn masker op: oogkontak, waagmoed en vrymoedigheid om menings en emosies te deel is beslis minder. Stemtoon alleen is nie genoeg om iemand se emosie te lees nie,” sê Buys.

“ʼn Glimlag van ʼn onderwyser gee erkenning en moedig leerders aan om deel te neem, maar is nie sigbaar as ʼn onderwyser ʼn masker dra nie. Geanimeerde gesigsuitdrukkings van onderwysers dra by om leerders se aandag te behou. Leerders verloor gou belangstelling wanneer die onderwyser se gesigsuitdrukking agter ʼn masker verberg is. Baie onderwysers sukkel sedert 2021 om hul leerders op te som en ʼn band met leerders te bou.”

Buys sê spraakterapeute sien die afgelope jaar ʼn toename in leerders wat sukkel om klanke behoorlik te vorm en binnensmonds praat. ʼn Terapeut wat met gr. R- tot gr. 3-leerders werk, sê sy word die afgelope jaar oorval met gr. 2-leerders wat in 2020 in graad R was en nou sukkel met lees en spelling.

Sy skryf die probleme grootliks toe aan leerders wat nie meer die onderwyser en ander volwassenes se lippe kan sien wanneer hulle met die kind praat nie, en klanke wat deur maskers gedemp word.

“Jong kinders maak staat op visuele leidrade, veral in ʼn klas met agtergrondgeraas. Klanke wat naby aan mekaar is, word dikwels nie van mekaar onderskei nie, en jong kinders leer woorde verkeerd.”

Vir leerders met permanente of tydelike gehoorverlies is dit selfs ʼn groter kwessie. Hulle maak nog meer op visuele leidrade staat om te hoor en te verstaan wat ʼn onderwyser sê. In die winter ly baie jong leerders aan tydelike gehoorverlies weens middeloorontsteking. Die inspanning wat dit vir hierdie kinders verg om die les te volg wanneer die onderwyser ʼn masker dra, is geweldig uitputtend. Wanneer leerders nie kan hoor nie, verloor hulle konsentrasie en dan word dissipline die volgende probleem.

“Met die pandemie wat grootliks uitgewoed is en inentings wat die risiko van ernstige siekte verder beperk, dring die SOS daarop aan dat onderwys nou voorkeur moet geniet en volledig normaliseer.

“ʼn Maskervrye skoolomgewing is ʼn belangrike stap om leerders se gesonde akademiese, fisieke en emosionele ontwikkeling te verseker,” sê Buys.

Regsmening ingewin

Verskeie instellings, waaronder Solidariteit, het reeds aangekondig dat hulle hul tot die hof gaan wend om die regulasies te betwis.

Die DA het Woensdag gesê hy gaan ook ʼn regsmening inwin oor die huidige bepalings.

Michele Clark, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê die regulasies oor die dra van maskers, venuekapasiteit en internasionale reise is vantevore onder die nasionale ramptoestand gepromulgeer. Dit is ook benewens die konsepregulasies waarop mense steeds kan kommentaar lewer en wat in wese die Covid-19-entstof en verpligte kwarantyn op mense wil afdwing.

Die DA bevraagteken die regsgeldigheid van die regulasies en was vantevore kwaai uitgesproke in sy opposisie van die ramptoestand wat nou in die regulasies van die Wet op Gesondheid ingeglip word.

Daar is ook geen tydsraamwerk aan die regulasies gekoppel nie en Clarke sê daar word van Suid-Afrikaners verwag om onder die wolk van ʼn nimmereindigende ramptoestand te leef.

“Dit is geen verrassing dat min. [Joe] Phaahla die bestaande, gepromulgeerde regulasies ter elfder uur in die Staatskoerant ingewurm het nie. Dit is ʼn taktiek wat dikwels in die Zuma-era ingespan is. Die ANC-regering sal alles moontlik doen om aanspreeklikheid teenoor die parlement en die burgers van Suid-Afrika te verhoed,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marius ·

Al wat die maskers doen is im jou te beroof van jou suurstof en boonop nog depressief te maak. Dit keer definitief geen virusse of verkoues nie.

domheks ·

heheheh te laat geslaap met die inwerkingstelling van die wet…. slaap rustig voort Solidariteit sal vir ons baklei.

Johan ·

Wel dit is nou maar ons teen die staat. Party gaan kies om dit toe te pas en ander gaan saam veg en die regering se tande trek. Die masker het GEEN sin meer nie. Besluit maar of jy deel van die oplossing wil wees of deel van die onderdrukking.

Johann ·

Absolute absurde vlak van onbevoegdheid. Sal ALS wat hulle kan doen doen om die mag en pag wat die pandemie geskep het te hou! ANC LEGACY!!!!!!

marius ·

Menslike fout se voet ! Hierdie hool sal nooit regkom nie .

Samuel ·

Het enigiemand regtig ander optrede van die minister van gesondheid óf die ANC regering verwag? SA’ners is tog nie so naïef nie, of hoe?

Hayntjie ·

In Wellington word die skoolsaal tans saans vol gepak vir die vertoning van Joseph – Technicolor Dreamcoat. Geen afstand en geen maskers word gehandhaaf nie. Hoe strook dit dan met die regulasies. 1ste vertoning was Dinsdag al. 2 jong persone in Wellington wat ek ken is tans in die bed met Covid.

SwartBees ·

Die verskil is 1ste wêreld land vs 7de wêreld land. NZ kan vertrou word met sulke goed. Afrika kan jy nie eers op n foto vertrou nie.

Anel ·

Hie dom dink hulle is ons. Dis net mags vergrype. Kinders speel speeltyd saam, loop hand om die lyf en so aan, maar o gonna, in klastyd kom die virus iewers vandaan want dan mag die maatjies nie meer aan mekaar vat nie en moet maskers dra. Siek man! Het iemand al mooi gekyk hoe dood lyk van die kundertjies se oë wat oor die masker vir jou loer? Ek dra ‘n skerm en weet julle wat se verskil maak dit as jy by ‘n ou kleintjie verbyloop en vir hom glimlag? Die verandering in die ogies is onbeskryflik. Ons dogter is in Nederland en die kinders daar het nig nie een dag ‘n maskers skool toe gedra nie. Hier is mense wat nou pal permanente sinus ontwikkel het. As die masker so wonderlik was, hoekom word so baie maskerdraers dan nog siek??? As jy een wil dra, doen dit. Los ons ander uit. Vars lug is gesonder as 2de handse asem!!!!

Manie ·

Nou wie is “die mens” wat die menslike fout begaan het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.