‘Jansen van Vuuren het doelgerig opgetree’ – hof

Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Regter Ian Cox het Maandag tydens sy uitspraak gesê dat Gerhard Jansen van Vuuren doelgerig opgetree het toe hy sy gewese meisie, Andrea Venter (25), in 2011 vermoor het.

Jansen van Vuuren is in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg skuldig bevind op aanklagte van moord met voorbedagte rade, asook aanranding.

Jansen van Vuuren se regspan het met die aanvang van die verhoor aangedui dat hul kliënt skuld ontken op grond van ’n diagnose van ’n tydelike plofbare versteuring (Intermittent Explosive Disorder/IED). Die diagnose is vroeër deur ’n private psigiater, dr. John Weinkove, gemaak en hy het tydens getuienis gesê dat Jansen van Vuuren weens dié geestestoestand in ’n nie-patologiese dissosiatiewe staat verkeer het.

Cox het tydens sy uitspraak gesê dat die hof hierdie argument verwerp en dat Jansen van Vuuren se optrede – na aanleiding van al die bewyse en getuienis – nie instinktief of onbepland was nie, maar dat hy opgetree het met die doel om Venter dood te maak.

“Jansen van Vuuren het doelgerigte dade getoon – soos toe hy die swart gordel – wat soos ’n karategordel lyk – van Venter se nek verwyder het, sy eie keel gesny en daarna die bloed probeer stopsit het. Die feit dat hy met omstanders op die toneel gekommunikeer het en ook die nodige inligting aan die paramedici kon verskaf, wys duidelik dat hy by sy bewuste was,” het Cox gesê.

“In die video lyk dit ook asof Jansen van Vuuren ná die moord nie uit ’n dissosiatiewe staat na die werklikheid geruk is nie en hy het ook nie geskok gelyk om Andrea se bebloede liggaam te sien nie.”

Die hof het die getuienis van dr. Leon Fine, ’n psigiater wat die staat as getuie geroep het, aanvaar. Fine het in Mei ook die diagnose van IED bevraagteken en aangevoer Jansen van Vuuren was toerekeningsvatbaar ten tyde van die moord.

Fine se getuienis is gegrond op sielkundige evaluasies wat in 2012 – ná die moord – deur ’n multidissiplinêre span in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal gemaak is.

Cox het Weinkove se getuienis oor die algemeen as onbetroubaar en spekulatief bestempel en gesê dat dit nie deurgaans aan die kriteria van ’n deskundige getuienis voldoen nie.

“Dit het voorgekom asof dr. Weinkove verskonings vir die beskuldigde gesoek het. Hy het beperkte inligting oor die saak tot sy beskikking gehad en hy het nie ’n ordentlike konsultasie met die beskuldigde gevoer nie. Hy het vooropgestelde idees oor die saak gehad en het ook nie die nodige navorsing oor ander diagnoses, soos gesinsgeweld, gedoen nie.”

Geloofwaardige getuies

Cox het gesê die hof aanvaar die staat se getuies – wat ooggetuies op die moordtoneel was – as geloofwaardig.

Die getuienis van die twee anonieme ooggetuies en dié van Thulani Ndlovu, ’n sekerheidsbeampte wat die oggend van die moord by die kompleks aan diens was, was “logies, chronologies en konsekwent”, het Cox gesê.

Jansen van Vuuren is skuldig bevind aan die aanranding van Ndlovu nadat Jansen van Vuuren op die dag van die moord vir Ndlovu met die einste mes waarmee hy vir Venter gesteek het, gedreig het.

Cox sê hy kan nie die feit dat van die getuies nie elke detail van die dag kon onthou, kritiseer nie, aangesien die moord reeds 11 jaar gelede gepleeg is en elke getuie uiteraard verskillende detail onthou.

Die uitspraak is gesteun deur omstandigheidsgetuienis en Jansen van Vuuren het nie self tydens die verhoor getuig nie.

Jansen van Vuuren sal na verwagting op 27 en 28 Julie in die Johannesburgse hooggeregshof gevonnis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Swerwer ·

Kan nie sien waarom alles so uitgerek moet word nie. Hy kon mos vandag sy vonnisoplegging gekry en klaar. Sake snoer onnodig om net die hofkostes die hoogte in te laat skiet.

Vanessa ·

Die lafaard moet uit die samelewing geneem word. Hy is ‘n gemors, sal altyd een wees en was nog altyd een. Sluit hom toe!!!

Bosvelder ·

Lees tog die vorige berigte eers – hy het amper 8 jaar in Brasiliê gaan wegkruip.

Toy ·

Hy wou haar dood he. Hy het ‘n keuse gehad om haar net te los dat sy gaan. Daar word regtig nou onnodig geld gemors op hom. Hy moet sy pak vat.

Piet ·

Jaco Swart is volgende…die gemors moet lewens lank sit en nooit weer in die samelewing toegelaat word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.