Jhb-burgemeester bedank voor wantroue-mosie

Thapelo Amad (Foto: City of Joburg/Twitter)

Thapelo Amad het as burgemeester van Johannesburg bedank, minder as drie maande nadat hy in die pos aangestel is.

Panyaza Lesufi, provinsiale voorsitter van die ANC in Gauteng, het Amad se bedanking Maandag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig.

Amad, van die Al Jama-ah-party, is einde Januarie tot burgemeester verkies met behulp van die steun van die ANC wat die meeste setels in die raad het. Sy aanstelling was ʼn verrassing, met Al Jama-ah wat slegs drie van die raad se 270 setels beklee.

“Ons wil weereens bevestig dat die regering van plaaslike eenheid in Johannesburg behoue bly,” het Lesufi Maandag gesê. Hy het Amad bedank vir sy “onbaatsugtige leierskap” en gesê die regering van plaaslike eenheid sal oor die volgende paar dae bymekaarkom om ʼn nuwe kandidaat vir die pos van die burgemeester in te dien.

Amad se bedanking kom net ʼn dag voordat daar na verwagting ʼn mosie van wantroue teen hom gebring sou word deur ActionSA op ʼn spesiale raadsvergadering.

Die gekombineerde koalisie wat tans in Johannesburg regeer, bestaan uit die ANC, die Patriotiese Alliansie, die EFF en ander kleiner partye.

Opposisiepartye wat nie deel is van die huidige gekombineerde koalisie wat Johannesburg lei nie, het vroeër Amad se bedanking geëis oor opmerkings wat hy gedurende ʼn onderhoud gemaak het oor sy betrokkenheid by die verkryging van ʼn R9,5 miljard-lening vir die metro.

Kort ná die onderhoud het Amad sy opmerkings teruggetrek en gesê dit was slegs “ʼn voorbeeld van verskeie ongevraagde voorstelle wat die Stad vir groei en ontwikkeling ontvang het”.

Die skade was egter reeds gedoen, met lede van die huidige koalisie in Johannesburg wat toegee dat hulle dalk “die verkeerde man ondersteun” het.

Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie (PA), het op Twitter die inwoners van Johannesburg om verskoning gevra oor hul besluit om Amad as burgemeester te steun.

“Thapelo Amad is gevra om ʼn berg te klim wat te hoog is vir hom. Dit benadeel nie net Johannesburg nie, maar dit vernietig hom ook,” skryf hy.

“Ons sal hierdie flater regstel. Amad behoort nou te bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Boer ·

Wat is die doel dan om vir ‘n party te stem as die teen standers na maand nie van die persoon hou ‘n mosie van wantroue in te sit. Ons as sie inwoners het nie vir hulle dan gestem nie. As mosie van wantroue elke keer ter sprake kom dan is my stem en elke suid afrikaners se stem useless.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nou kan hy weer saam met sy maats gaan speel.

Kokerboom ·

Politieke sirkus wat net aanhou ten koste van inwoners. ANC nagmerrie!

Vonkprop ·

Lyk my Johannesburg loop nou dieselfde paadjie as Tshwane. Het ‘n nuwe burgemeester elke 5 minute. So bitterlik jammer dat hierdie mense nie besef die skade wat hulle aanrig nie en hoe ongewild hulle regtig is. Ons kan maar net hoop vir verlossing.

Stofdonkie ·

Hulle is duidelik nie so ongewild nie, hulle het dan die stemme gekry van die inwoners om daar te dien. Die probleem in die land is nie die politici nie, maar die kiesers wat vir hulle stem

Vonkprop ·

Ek het verwys na die regdenkende belastingbetaler by wie hulle nie gewild is nie. Hulle het iets soos 0,9% stemme gekry wat glad nie op gewildheid wys nie, maar ek verstaan wat jy sê. Vir die een of ander rede trek hulle nog steeds stemme.

Kobus ·

Mosie van wantroue ? = Hy doen nie sy werk nie maar Lesufi bedank hom vir sy onbaatsugtige bydrae en “onbaatsugtige leierskap ” Wat ‘n grap Lesufi, u is maar met min tevrede

Shakespeare ·

Ten minste het hy met die daad erken dat hy onbevoeg en korrup is. Ek wens die Parlementslede wil dit ook doen maar dan sal n hele nuwe Parlement gekies moet word.

Bulkalf ·

Kom “toe toe toe” gaan speel buite saam met jou maaitjies.

Althes ·

Die ANC EFF koalisie met hul twyfelagtige meelopers is ñ grap vir SA burgers.

JohanR ·

Dankie tog hier in Kaapstad word die burgermeester rond-om-taalie nie gespeul. Jy kan sien is Lesufi in Johannesburg…..nutteloos met en in alles!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.