Jhb-burgemeester se kop geëis oor leningflater

Thapelo Amad, burgemeester van Johannesburg. (Foto: Mehmet Vefa Dag/Twitter)

Die nuutverkose burgemeester van Johannesburg, Thapelo Amad, is in die sop oor opmerkings wat hy gedurende ʼn onderhoud gemaak het oor sy betrokkenheid by die verkryging van ʼn R9,5 miljard-lening vir die metro.

Verskeie opposisiepartye eis nou sy bedanking oor sy oënskynlike onvermoë om die Stad te bestuur en ActionSA het selfs ʼn mosie van wantroue teen hom ingedien.

“Amad het herhaaldelik bewys dat hy swak toegerus en nie in staat is om ʼn samehangende plan van aksie en visie vir Johannesburg te verwoord nie,” sê Funzi Ngobeni, Gautengse woordvoerder vir ActionSA.

“Meer onlangs het hy in ʼn televisie-onderhoud sy onvermoë getoon om die grondbeginsels van ʼn leningsooreenkoms te verstaan.”

Amad het verlede week in ʼn onderhoud met die SAUK onthul dat hy moontlik ʼn leningsooreenkoms met ʼn private maatskappy vir die metro bekom het. Hy het aangevoer dat die lening vir diensleweringskwessies in Johannesburg gebruik sou word, asook om ʼn slimstad te bou.

Die DA voer aan dat die stadsraad geen kennis van dié lening dra nie, dus is die wetlike proses nie gevolg om dit te bekom nie.

“Die burgemeester behoort nie by hierdie soort administratiewe proses betrokke te raak nie. Dit is misdadig en moet ondersoek word,” sê die DA se Mpho Phalatse, ook Johannesburg se voormalige burgemeester.

Kort ná die onderhoud het Amad sy opmerkings teruggetrek en gesê dit was slegs “ʼn voorbeeld van verskeie ongevraagde voorstelle wat die Stad vir groei en ontwikkeling ontvang het”.

“Die leningsvoorstel waarna verwys word, is maar een van vele ongevraagde voorstelle wat aan die Stad voorgelê is na aanleiding van wyd gepubliseerde verslae oor die Stad se finansiële probleme ná die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende ekonomiese uitwerking op belastingbetalers en die Stad,” lui die burgemeester se verklaring.

“Dit is in die konteks van die onderhoud gebruik om ʼn gemeenskaplike wil deur die Stad se leierskap aan te toon om Johannesburg verder te ontwikkel.”

Amad het bygevoeg dat die genoemde lening geensins ʼn afgehandelde saak is nie.

“Die Stad verwerk alle voorstelle in ooreenstemming met die wetlike voorskrifte van toepassing op plaaslike regering en deur die betrokke portefeuljekomitees en departemente.”

Die skade is egter reeds gedoen, met lede van die huidige koalisie in Johannesburg wat toegee dat hulle dalk “die verkeerde man ondersteun” het.

Gayton McKenzie, leier van Patriotic Alliance (PA), het op Twitter die inwoners van Johannesburg om verskoning gevra oor hul besluit om Amad as burgemeester te ondersteun.

“Thapelo Amad is gevra om ʼn berg te klim wat te hoog is vir hom. Dit benadeel nie net Johannesburg nie, maar dit vernietig hom ook,” skryf hy.

“Ons sal hierdie flater regstel. Amad behoort nou te bedank.”

Colleen Makhubele, die speaker van die Johannesburgse metroraad. (Foto: City of Joburg/Facebook)

ActionSA het Dinsdag ʼn mosie van wantroue teen Amad én die Johannesburgse speaker, Colleen Makubele, ingedien, asook enige ander raadslede wat “aangestel is deur onwettige onderhandelinge tussen die ANC en die EFF”.

Die party meen dat die Stad en sy bedrywighede agteruitgaan sedert Amad verkies is.

“Amad en Makhubele het nie hulself verkies nie, maar is verkies deur ʼn middeweg-ooreenkoms aan te gaan waarin dit blyk dat die inwoners van Johannesburg gevra word om die grootste toegewing te maak,” sê Ngobeni.

Die mosies van wantroue sal by die volgende raadsvergadering op 25 April aangehoor word.

ActionSA sê hy is ​​gereed om te litigeer teen enige poging van Makhubele om haarself en haar nuutgevonde politieke bondgenote teen hierdie mosies van wantroue te beskerm.

“ActionSA sal met alle ander partye in die stadsraad skakel om te verseker dat die ANC en EFF verwyder word van enige verdere beheer oor Johannesburg,” sê hy.

“Ons is vol vertroue in ons vooruitsig op sukses.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Amelia ·

En hier gaan ons alweer soos in tshwane 1 nadie ander burgermeester na heerrlike salarise wat nie verdien word nie

Vettiemaragartos ·

Ek dink as die volgende vereistes ingebring word om te kwalifiseer vir ‘n aanstelling sal dit dalk beter in die Staatsdiens gaan:

1. I.K. Toets;
2. Psigometriese toetse;
3. Kan jy 3 dimensieël sien? Dit is nogal belangrik vir belangrike besluitneming;
4. Kwalifikasies moet voor die aanstelling geverifieer word.

WitBlits ·

Ek wonder soms…. As daar ‘n senior posisie by ons Maatskapy beskikbaar raak, ongeag die rede, is daar ‘n spesifieke Posbeskrywing, met gespesifiseerde minimum kwalifikasies en ondervinding om die pos te kan beklee, of enigsins in oorweging geneem word vir ‘n onderhoud…

Dit wil vir my voorkom asof niks van die tipe voorvereistes daar is wanneer ‘n Burgermeesterslid gekies word nie…. Seersekerlik, as een uitgeskop word, moet die nuwe kandidaat aansoek doen, of ten minste voldoen aan die minimum vereistes vir die Posbeskrywing… Of sit ek die pot nou heeltemal mis?

LIEZL ·

Nee, dit klink omtrent reg. As ek die posbeskrywing sien, dan sal ek mos dadelik weet of ek kwalifiseer of nie. Wel sommige dink hulle kwalifiseer vir enigiets ongeag hul agtergrond.

Cibie ·

Het dit nie nou tyd geword dat alle politieke party uit die munisipaliteite gejaag word nie, en dat ons terug gaan na die stelsel voor 1994, toe bevoegde mense aangestel is om die werk te doen.

Carel ·

Jacob Zuma het reeds hieroor uitsluitsel gegee
Verantwoordbaarheid in ‘n “Westerse Ding”

Johanncb ·

Foeitog, die ou het eintlik bedoel om R95,00 vir ontbyt uit die kleinkas te leen!

Althes ·

So ploeter die onbevoegde politieke amptenare voort in hul mag en geldhonger houding ten koste van die inwoners.

TruthDealer ·

Ag nee en dit lyk na so n vrolike kop :-) Jammer maar mens moet partykeer net lag in hierdie land. Clown country.

Di ·

Nog ‘n onbevoegde kader wat in ‘n pos aangestel is maar GEEN idee het hoe om die werk te doen nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.