Johannesburg steeds sonder burgemeester

(Foto: City of Joburg/Facebook)

Die Johannesburg-metro sit steeds sonder ʼn burgemeester nadat Dinsdag se spesiale raadsitting om ʼn nuwe eerste burger te verkies uitgestel is.

Die sitting het ure lank aangehou, maar is uiteindelik uitgestel nadat van die partye nie op burgemeesterskandidate kon besluit nie. Die sitting is tot Vrydag verdaag.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, het sy woede oor die vertragings te kenne gegee.

“Nadat die ANC-EFF-koalisie ʼn raadsvergadering belê het om ʼn burgemeester te kies, was dit hulle wat raadsverrigtinge gedurig vertraag het en weereens bewys het dat hulle nie in staat is om die nodige leierskap te verskaf om goeie regering te herstel nie.”

ActionSA het sy waardering uitgespreek teenoor die IVP, ACDP, VF+ en UIM. “Saam met daardie politieke partye sal ons voortgaan om met ander eendersdenkende partye in die Stad Johannesburg te skakel om kleinlike politiek opsy te skuif.”

ActionSA het vroeër sy teleurstelling met die DA uitgespreek ná ʼn eensydige aankondiging oor hul burgemeesterskandidaat sonder dat enige van die voormalige koalisiepartye glo genader is.

Die DA se federale raad het dr. Mpho Phalatse versoek om weer te staan vir die amp van Johannesburg se burgemeester.

Beaumont meen egter Phalatse staan geen kans om weer tot burgemeester verkies te word nie.

Johannesburg sit al vir langer as ʼn week sonder ʼn burgemeester nadat Thapelo Amad verlede week bedank het, minder as drie maande nadat hy in die pos aangestel is.

Amad, van die Al Jama-ah-party, is einde Januarie tot burgemeester verkies met behulp van die steun van die ANC wat die meeste setels in die raad het. Sy aanstelling was ʼn verrassing, met Al Jama-ah wat slegs drie van die raad se 270 setels beklee.

Amad se bedanking is aangekondig ʼn dag voordat daar na verwagting ʼn mosie van wantroue teen hom ingedien sou word deur ActionSA op ʼn spesiale raadsvergadering.

Die gekombineerde koalisie wat tans in Johannesburg regeer, bestaan uit die ANC, die Patriotiese Alliansie, die EFF en ander kleiner partye.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

annie ·

…. en die DA wil met hierdie tipe koalisie-speletjies die land agter hul party kry? Nie eers ‘n apie sal in dié sirkus wil optree nie. Die regulasies sal moet verander oor hierdie weeklikse bollemakieslanery maar sou dit help want elke keer is dit ‘n ander aspek of mafia-rosyntjiebroodresep wat in die oond vasbrand. Dié debakels word telkens vergoed met nog salarsverhogings of nuwe planne om verval te bewerkstellig. Ons hoop lê orals en die klankie is oorverdowend.

Danie ·

Is dit dan nie al genoeg bewys dat mense van verskillende partye nie kan saamstaan en werk nie.?

Witbaard ·

Dit is omdat sekere partye net daar is vir hulle eie belang

Jan ·

Nee die probleem is die DA self wat sy wil op ander wil afdwing

Sobymykoolkop ·

Nou verwonder ek my. Ek stem vir ń ” klein ” party uit beginsel en omdat ek nie met ander partye se beleid saamstem nie. Nou gaan daardie ” klein ” party in koalisie met die ander. Nou word beleid oorboord gegooi terwille van posisie of voordele op die raad. Vir my raak dit duidelik dat politieke partye eerstens na hulle sakke kyk en dan na hulle indersteuners. Vir my is ” stem” nou verby.

Jan ·

Wel al wat kan se is:die manier hoe die DA oor die algemeen sy wil op ander party probeer afdwing , en nou weer verstaan ek hoekom koalisies nie werk nie .Ek sal nooit DA stem nie.Maak nie saak wat nie.DA se houding van ons eis alles vir vir ons self staan my nie aan nie.Daar dan sommige DA raadslede .wat nie gemeenskap orienteerid is nie.Ek amper se nes die ANC

My siening ·

ANC EFF Speel met mense lewens hoop die toebroodjie stemme sien dit vir volgende jaar se stemming!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.