Jong pa se moordenaar lank tronk toe  

Mohamed Dangor (Foto: Facebook)

Confidence Sekgoro (40) is Vrydag in die rondgaande hof in Klerksdorp, Noordwes, tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op Mohamed Dangor.

Die 31-jarige Dangor was ʼn getroude pa van drie.

Sekgoro is ook tot tien jaar tronkstraf gevonnis op twee aanklagte van poging tot moord. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Hy is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Sekgoro is in Februarie skuldig bevind rakende die voorval wat op 11 November 2019 by Speedy Car Sales in Klerksdorp plaasgevind het.

Hy het in April 2019 ʼn motor by Speedy Car Sales gekoop. Hy het later gekla dat daar fout was met die motor en het dit teruggeneem na die handelaar. ʼn Inspeksie het gewys daar is niks fout met die motor nie en Sekgoro moes vir die vervoer van die motor betaal voordat hy die motor kon terugkry. Sekgoro het ʼn hof genader in ʼn poging om sy motor terug te kry, maar sy aansoek is van die hofrol verwyder.

Sekgoro is toe op 11 November 2019 terug na die handelaar om sy motor te kry. Daar is egter weer vir hom gesê om eers die betaling te doen voordat hy sy motor kon kry. Sekgoro is hierna na ʼn kantoor waar hy op Dangor en Yusuf Ally (61) losgebrand het. Hy het uit die kantoor gestap en toe op Mebs Soomra (36) in die vertoonlokaal losgebrand.

Dangor is op die toneel dood verklaar. Soomra en Ally is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir behandeling. Sekgoro het ná die voorval aanwysings na die naaste polisiestasie gevra en hom aan die polisie oorgegee. Hy is later op borgtog van R10 000 vrygelaat, maar dit is teruggetrek nadat hy skuldig bevind is.

Mohamed was die seun van Farouk en Shameema Dangor, bekendes in Klerksdorp se sakekringe.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het ao. Motseothata Petrus Tshiponyane van die provinsiale georganiseerde misdaad- eenheid geloof vir sy noukeurige ondersoekwerk wat tot die skuldigbevinding en vonnis gelei het.

Kwena het alle rolspelers bedank wat onvermoeid gewerk het om te verseker dat die veroordeelde gevonnis word. Hy het daarop gewys dat die vonnis ʼn duidelike boodskap sal uitstuur dat diegene wat misdaad pleeg, tyd in die tronk sal deurbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.