Kaapse prof nie meer op Phala Phala-paneel   

Prof. Richard Calland, medeprofessor in publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad. (Foto: Twitter / @richardcalland)

“Ek wil nie hê dat onnodige omstredenheid oor my aanstelling aandag weglei van die werklike kwessies op die spel nie.”

Prof. Richard Calland, medeprofessor in publiekreg aan die Universiteit van Kaapstad, het Dinsdag aangekondig dat hy nie meer op die nuutverkose paneel gaan dien wat pres. Cyril Ramaphosa se betrokkenheid by die Phala Phala-aangeleentheid moet ondersoek nie.

Adv. Mahlape Sello is nou gekies om in Calland se plek op die paneel te dien.

“Hoewel ek enige bewerings van partydigheid verwerp, het ek vandag – in oorleg met die speaker [Nosiviwe Mapisa-Nqakula] – aanvaar dat dit dalk nie in die beste belang van die parlementêre proses sal wees as ek op die artikel 89-paneel dien nie,” het Calland op sy Twitter-profiel geskryf, waar hy ook ʼn verklaring gedeel het.

Maroela Media het vroeër berig dat die DA bekommerd is oor Calland se objektiwiteit en onafhanklikheid, onder meer omdat hy ʼn politieke kommentator is wat gereeld sy sienings, veral wat die president betref, deel.

Luidens Calland se verklaring wil hy nie hê dat “onnodige omstredenheid” oor sy aanstelling die proses op enige manier benadeel nie.

“Ek is ʼn uiters onafhanklike mens, so ek verwerp enige aantygings van partydigheid teen my ten sterkste. As ʼn opgeleide prokureur is ek in staat om bewyse te beoordeel en bevindinge te maak deur die toepaslike wette en reëls sonder vrees of vooroordeel toe te pas.

“En ek sal dit doen ongeag enigiets wat ek in die verlede in my rol as politieke kommentator gesê of geskryf het.”

Calland sê hy het egter ander faktore in ag geneem.

“Ek het my loopbaan aan grondwetlike demokrasie, verantwoordbaarheid en die wet gewy.

“Hiervolgens wil ek nie hê dat onnodige omstredenheid oor my aanstelling aandag weglei van die werklike kwessies of enige moontlike vertragings van verrigtinge veroorsaak nie, en ook nie die integriteit van só ʼn belangrike grondwetlike proses in gedrang bring nie.”

Calland het sy dankbaarheid teenoor GOOD uitgespreek wat sy sitting op die paneel gesteun het, asook die publiek se ondersteuning vir sy professionele onafhanklikheid en integriteit.

Die parlement het Dinsdag in sy verklaring gesê die speaker het ’n regsmening van die parlement se regs- en grondwetlike eenheid oor die aangeleentheid ingewin.

“Ná oorweging van al die voorleggings van politieke partye sowel as die regsmening, was die speaker van mening dat, hoewel daar geen feitelike gronde bestaan ​​om enige vrees vir of waargenome vooroordeel te staaf nie, dit in die beste belang van die integriteit van die paneel se werk sal wees as prof. Calland nie op die paneel dien nie.

“Die speaker bedank prof. Calland opreg dat hy homself vir hierdie belangrike taak beskikbaar gestel het, en vir sy begrip rakende die besluit.” Adv. Mahlape Sello, ’n senior advokaat met dekades se ondervinding in regspraktyk en wat onlangs op die regterlike kommissie oor staatskaping gedien het, is nou gekies om op die paneel te dien.

Sy sluit aan by oudregter Sandile Ngcobo en oudregter Thokozile Masipa as lede van die paneel. Die datum waarop die paneel hul werk sal voortsit, sal in die aankondigings, tertafelleggings en komiteeverslae (ATC) aangekondig word. Die paneel sal 30 dae hê om ʼn verslag met sy bevindinge en aanbevelings af te handel en voor te lê. Die DA het die aankondiging oor Calland Dinsdag verwelkom.

“Hierdie paneel sal getaak wees om te bepaal of daar prima facie-bewyse is dat pres. Cyril Ramaphosa die wet in die Phala Phala-sage oortree het, en of vervolgingsverrigtinge deur die parlement teen hom ingestel moet word,” het Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, gesê.

“Dit is ’n oorwinning vir die instelling van die parlement en inderdaad vir die legitimiteit van die artikel 89-ondersoek. Prof. Calland se insluiting sou teenstrydig wees met reël 129G van die Nasionale Vergadering deurdat daardie paneellede onafhanklik en onpartydig moet wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Tyd en geld mors. Daars mos nie’n manier wat die magsbehepte ANC sal toelaat dat hulle comrade skuldig gaan wees nie? KLUG!!!!

Wit Leeu ·

Bly eerder weg van al die gemors ! Jy verdien dit nie………………

Pietertjie ·

Ek dag hulle is al besig met die ondersoek!

Ons gaan seker aanhoudend moet lees dat die ondersoek nog moet begin, dat die geld op is en dat die kabinet nog fondse moet bewillig. Tot die koeie huistoe kom.

Pieter ·

Die 3 lede van die ondersoekpaneel is almal BEE. Onafhanklikheid en objektiwiteit is te bevraagteken. En hoekom moet almal regsgeleerdes wees? Dink ‘n persoon met nugtere verstand en insig kan ‘n goeie aanbeveling maak. Die reg in die land is nou verkeerd.

Boatsie ·

Ou seun as jy nou kwansuis so oortuig is jy is onpartydig en doen jou werk op ‘n eerlike en regverdige manier, hoekom geepad jy.
Staan op jou regte en beginsels en bly.
Ai, nou laat jy my worry dat die ondersoek klaar op verkeerde voet begin het.

Christine ·

Is hy dalk klaar gedreig om pad te gee? Ek ruik ‘n rot….

annie ·

Phala-phala-la-la-laland…. Werk asb ‘n versie by in die volkslied oor die pyn en lyding van al die land se ANC-presidente… So mooi wees. Meer ‘now’ as die vorige ou vervelige stereo-tipes. Dit sal ook ons dierelewe verteenwoordig en die lyers se armoede pragtig weergee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.