Kaapse treine: Derduisende gestrand toe Eskom krag sny

(Foto: Twitter)

Elektrisiteitstoevoer na die Kaapstad-treinstasie asook ander stasies oor dele van die Wes-Kaap is Donderdag deur Eskom afgesny weens wanbetaling.

Die Passasierspooragentskap (Prasa) het intussen teen Donderdagmiddag sy uitstaande skuld aan Eskom gedelg en treindienste sal na verwagting vandag weer normaal wees, het Fikile Mbalula, minister van vervoer, Donderdagaand aangekondig.

Volgens Mbalula het die opskorting van treindienste in die Wes-Kaap sowat 289 000 pendelaars geraak wat in die middagpiek op die Metrorail-diens staatmaak.

Eskom het aangevoer dat Prasa 34 dae agterstallig is, asook dat sy Wes-Kaapse rekening sowat R4 miljoen beloop.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, het gesê die afsny van kragtoevoer na treinstasies stel pendelaars se veiligheid in gevaar. “Die treindienste gaan reeds gebuk onder volgehoue vandalisme deur brandstigting en kabeldiefstal. Die opskorting van treindienste is net ʼn verdere aanduiding dat Prasa nie suksesvol sy bedrywighede kan uitvoer nie.”

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

Mbalula het sy kommer uitgespreek dat ander streke nie aan dieselfde behandeling deur Eskom onderwerp word nie. “Dit is kommerwekkend dat Eskom Metrorail as prioriteitsgebruiker aangewys het toe daar met beurtkrag begin is én omdat die afsny van traksiekragvoorsiening ongehoord is.”

Prasa het intussen gesê hy was nie bewus daarvan dat Eskom die kragtoevoer gaan afsny nie. “Eskom wil hê Prasa moet binne 14 dae betaal nadat ʼn faktuur ontvang is, wat tans prakties onmoontlik is. Dit is so aan Eskom oorgedra en Prasa sal dit benadruk wanneer dit verder bespreek word,” het Makhosini Mgitywa, Prasa-woordvoerder, gesê.

Mgitywa het die versekering gegee dat Prasa ondanks kontantvloeiprobleme nie bankrot is nie. “Prasa gaan voort om met die nasionale tesourie te beraadslaag in ʼn poging om die kapitaalbesteding van die spoorwegagentskap om te skakel na bedryfsuitgawes. Dit sal Prasa se finansiële probleme ongetwyfeld verminder en die onderneming in staat stel om betalings aan verskaffers te doen.”

Mbalula het gesê die jongste gebeure dui op die verdieping van die krisis wat Prasa in die gesig staar. “Dit is ʼn openbare saak dat Prasa ʼn kontantvloeikrisis beleef weens sy bedryfsbegroting wat uitgeput is, terwyl ʼn beduidende bedrag van meer as R18 miljard in die kapitaalbegroting gebind bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan Venter ·

So as Prasa gesê het hy kan nie betaal nie, dan het hy mos nou sy kant gebring.

gatgogga ·

Netso. Hoekom bied Prasa nie ook aan om R150 per maand te betaal nie?

Nie Verbaas ·

Hoe lank gaan lewensboeie nog uitgegooi word vir staats instansies? Niks gaan verander as die bestuur nie drasties verander nie?

henndrik ·

Ek verstaan nie, hoekom is 14 dae prakties onmoontlik. Ek reken 2 dae is klaar te veel en as jy dit nie dan kan betaal nie is daar ‘n probleem met jou prosesse en produktiwiteit

Dries ·

Mooi so. Hoewel die mense wat hier onder lei nie rerig die skuldiges was nie. Net soos wanneer munisipaliteite ‘afgesny’ word omdat hulle Eskom geld skuld – dis die inwoners wat elke maand getrou betaal wat suffer. Behalwe natuurlik by Soweto. So ek hoop Eskom gaan volgende vir Soweto bietjie afsit.

Brakenjan ·

Ja wat an Soweto. Sny krag van oggend tot aand. Ons praat van miljarde Rande hierso…

Jaco ·

metrorail en PRASA en Eskom behoort almal aan die nasionale regering en hulle topbesture is almal vol ANC-kaders. So waarom nou mekaar so sleg behandel?
Dit kan mos alles binne die ANC-huis hanteer word
het die ANC dan NIKS geleer tydens hulle “exile” jare in kommunistiese lande nie?
al die huidige nonsens in SA was omtrent onbekend in lande soos die Sowjet-Unie, Pole, Hongarye en Oos-Duitsland. daardie lande was SONDER:
-beurtkrag
-vuil swak staatshospitale
-lae onderwysstandaarde
-skole waarin dit so min of meer wettig is dat leerders onderwysers aanrand
-plakkerskampe
-40% werkloosheid
-openbare vervoer wat tot stilstand kom (Moskou het al van Stalin se tyd af een van die beste en mooiste moltreinstelsels in die wêreld)
Daardie lande het nou wel Christene vervolg en teen hulle gediskrimineer, maar ek is volkome bereid om dit te verduur, solank al die ander goed net vir ‘n slag werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.