Kamma-diplomaat ‘verleentheid’ vir SA intelligensienetwerke

Argieffoto van ‘n gedenkdiens vir polisielede wat dood is. (Foto: GCIS)

Dit kom nou eers aan die lig hoe ʼn kamma-diplomaat na bewering die Suid-Afrikaanse intelligensienetwerk geflous het deur hom as ʼn ambassadeur van die Verenigde Nasies (VN) voor te doen – sonder dat enigiemand enige onraad vermoed het.

Die inligting wat nou bekend gemaak word, maak egter een ding duidelik, sê die DA: Suid-Afrika se intelligensie- en veiligheidsdienste is erg in die verleentheid gestel.

Die party sê die onthullings wys ook dat Suid-Afrikaanse intelligensienetwerke en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) versuim het om enige inligting wat Nhlanhla Sizani (24) as feite voorgehou het, te verifieer.

Sizani se wanvoorstelling het hom luidens berigte glo toegang tot inligtingsessies van die binnekring van die land se topveiligheidsgroepering gegee.

Sizani, wat nou van bedrog aangekla is, het na bewering persoonlike inligtingsessies oor die land se stand van gereedheid vir die plaaslikeregeringsverkiesing in 2021 ontvang. Dié sessies is glo deur die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) gedoen; dit is die mees senior veiligheidskluster in die land.

Dianne Kohler Barnard, ʼn DA-lid van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie, voer aan dat dit wat aan Sizani oorgedra is, onderworpe is aan só ʼn sekerheidsklaring dat selfs diegene met topklaring nie dieselfde inligting sou ontvang het nie.

Daar word boonop beweer dat Sizani ook as lid van die VN hierdie verkiesing “waargeneem” het.

“Hierdie kan waarskynlik die mees verdoemende aanklag teen die bevoegdheid van ons intelligensiegemeenskap wees,” sê Barnard.

Sizani het na bewering ook aan verskeie geleenthede, ook ʼn prysuitdeling van die polisie, deelgeneem. Hy het glo ook die begrafnis van ʼn polisiebeampte bygewoon wat in die uitvoering van sy pligte vermoor is.

Sizani is aangekeer nadat dit aan die lig gekom het dat hy ʼn bedrieglike brief met die VN se naam gebruik het om hom as ʼn ambassadeur van dié agentskap voor te doen.

Barnard sê Sizani het egter steeds voor sy inhegtenisneming ​​met ministers, polisiehoës, spioenasiebase en selfs die president skouers geskuur; “alles glo op die rug van ʼn vervalste VN-briefhoof, sonder soveel as ʼn inspeksie deur enige van ons veiligheidsdienste”.

“Met hierdie flater het die Suid-Afrikaanse regering werklik ʼn belaglikheid vir die internasionale intelligensiegemeenskap geword. Die vraag ontstaan ​​nou watter gevolge gaan uit hierdie skandaal spruit, of gaan die ANC dit weer onder die mat vee terwyl kaders voortgaan om topposisies te beklee – vry van enige vorm van gevolge.”

Ondanks begrotings van miljarde rand, meen Barnard dat die land se intelligensie- en sekuriteitsdienste steeds nie die land se burgers veilig kan hou nie.

“Nie een van ons topmisdaadintelligensie‑ of topveiligheidsdienste het hierdie beweerde bedrog opgemerk nie,” sê sy.

Die DA het onderneem om aan die voorsitter van die gesamentlike staande komitee oor intelligensie te skryf om te versoek dat diegene wat verantwoordelik is vir hierdie “katastrofiese mislukking van ons topveiligheidsgroepering” voor die komitee moet verduidelik hoekom hulle nie die trekpas moet kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Christian J M ·

ANC en intelligensie is twee wedersysdse ekslusiewe begripte.

annie ·

Hierdie soort konfrontasies tussen die twee toppartye in die land gaan meer sensitief raak soos die verkiesing nader. Die ANC se haat en woede laai op oor die baie chaos en foute wat tydens sy bestuur voorkom wat die DA belig. Dit is net ‘n kwessie van tyd voor die bom bars.

Christian Grobler ·

Dit is net weer ṅ bevestiging van Dricus Du Plesis se aanmerking die swakste regering in die wereld.

Kokerboom ·

Die HELE ANC gespuis is nou ‘n groot verleentheid vir ons. Dis ‘n absolute skande dat ons mooi land so gekaap word!

Hendrik ·

En voor wie moet die komitee verskyn. Dis net onmoontlik dat een van die die regering vlekvry kan wees

Republikein in die Wes Kaap ·

Ramaphosa is waarskynlik ook ‘n buitelander.

Seef ·

As jy useless is sal jy useless bly. Wat amders kan mens van die klomp patete verwag?

Chris ·

Die SA intelligensie gemeenskap het reeds voor die amptelike oorname van die anc reeds begin in duie stort. Die begrip intelligensie en skinderstories se skydslyn het verdwyn. Intelligensiekunde is ‘n wetenskap wat as dit nie reg bestuur word nie, tot baie nadelige gevolge kan lei.

Papsak ·

Ja ek stem anc is vir SA n verleentheid korrupt korrupt sal hulle bly !!!!!!!

Wendy ·

Ag moenie v my sè jul kom nie hierdie on-intelligensie nie al die afgelope 30jr agter nie???? Dis om v naar te word

John ·

Waar het jy al ooit gehoor van n man wat strate gevee het en nou n minister in die parlement is….

RissiepitAnna ·

Haai julle, dis om van te stik vd lag, “incompetence” in die beste graad. Ek kannie verstaan HOE die insidente en gedrag ons Suid-Afrikaners nog skok nie. Regtig, wat verwag almal?
Kan julle julself indink as dit nie vd DA (miskien), AfriForum etc. was nie, hoe dinge sou lyk?

Wat gaan gebeur wanneer hier meer geen “van ons kerk se mense” oor is nie, niemand om vrae te vra nie, aparth”£$ sal seker maar soos altyd die skuld wees.

Joan ·

Ek is spraakloos! Hulle verstom my elke dag meer en meer. Wie gee hierdie spul al hierdie oneerlike gedagtes wat hulle so koester en uitvoer, en nogalmet soveel sukses? Is hul mentor dalk satan homself? Maar . . . alles wat in die duister gedoen en beplan word, sal in die lig geopenbaar word. Dit is Woord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.