Karen Turner-moord: Woedende familie kry eie regshulp

Ian Crouch en sy suster, Karen Turner. (Foto: Verskaf)

Vier jaar ná die skokmoord op die swanger ma Karen Turner (33) by die Hluleka-natuurreservaat in die Oos-Kaap is daar nog steeds nie antwoorde oor haar dood óf geregtigheid daarvoor nie. Dít ondanks ʼn beloning van R100 000 vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging van die verdagte(s) kan lei wat vir die moord verantwoordelik was.

Maroela Media het destyds berig Turner se man, Matthew, is ook wreed aangeval en ernstig beseer. Hul kleuterseuntjie was ook ten tyde van die voorval in die chalet, maar was ongedeerd.

Turner se familie het nou ʼn topprokureur, Petrus Coetzee, aangestel om die saak opnuut te bekyk en sê hulle is woedend oor die wyse waarop die owerhede die ondersoek die afgelope vier jaar hanteer het.

ʼn Geregtelike doodsondersoek is intussen van stapel gestuur en het verlede week in die hooggeregshof op Mthatha begin – ʼn proses waarvan die familie glo op die nipper in kennis gestel is nadat hulle maande lank niks van die polisie gehoor het nie.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die doel van die geregtelike doodsondersoek om te bepaal of enigiemand aanspreeklik gehou of vervolg moet word. “Die polisie se moord- en poging tot moord- ondersoek duur egter steeds voort,” het sy aan Maroela Media gesê.

Sy benadruk dat daar in dié stadium geen verdagtes is nie.

‘Leuens, toesmeerdery in hof’

Matthew en Karen Turner. (Foto: Facebook)

Ian Crouch, Turner se broer, was verlede week (19 en 20 Junie) in die hof waar hy na getuienis in die ondersoeksaak geluister het. Dit het hom woedend gemaak.

Volgens Crouch probeer getuies verbonde aan die reservaat en die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap (ECPTA) die voorval as ʼn “huishoudelike voorval” uitmaak – wat daarop sinspeel dat Matthew dalk verantwoordelik was. Hy sê dit is absolute onsin en dat die familie dié weergawes ten sterkste teenstaan en verwerp.

“Matthew was self amper dood, met verskeie ernstige steekwonde aan sy buik en rug wat hy onmoontlik aan homself kon toedien. Hy moes noodoperasies ondergaan en sy ingewande het uitgehang. Ons sal insinuasies dat hy dalk verantwoordelik [vir die aanval op Karen] was, ten sterkste beveg.”

Die getuies het in die hof erken dat daar wel die aand van die moord ʼn inbraak by die reservaat se ontvangs was waartydens die sleutels van verskeie chalets gesteel is. Dié getuies meen egter dat die diefstal nie verband hou met die moord op Turner nie. Die inbraak is ook nooit by die polisie aangemeld nie.

“Ons het tydens verlede week se hofsitting besef daar is baie leuens. Dit lyk asof die werklike gebeure toegesmeer word om die reservaat en sy reputasie te beskerm, omdat besoekers steeds daarheen gaan. Ons het net besef dat ons as ʼn familie ons eie prokureur sal moet kry om die saak te ondersoek.

“Die verklarings wat by die hof ingedien is, is opgemaak en vals. Daar is by die reservaat se kantoor ingebreek waar sleutels van chalets gesteel is, maar om die een of ander rede dink die reservaat nie dít is relevant nie. Hulle het dit nie eens nodig geag om ʼn saak aanhangig te maak nie. En dit het op dieselfde aand gebeur.

“Dis boonop nie die eerste keer dat daar voorvalle by die reservaat was nie – verskeie mense is al daar beroof.”

Crouch sê voorts daar is baie teenstrydighede in verklarings wat ingedien is, en dat verklarings wat jare ná die moord eers afgelê is, insluitend deur die reservaat se bestuur in 2022, veral nie betroubaar is nie.

Hy is ook van mening dat sekere gevolgtrekkings gemaak is voordat met ʼn behoorlike ondersoek begin is – gevolgtrekkings wat volgens hom by ʼn bepaalde agenda pas.

“Ons is stomgeslaan en gewalg deur hoe min daar die afgelope vier jaar gedoen is om my suster se moord te ondersoek. Die ondersoekers het niks gedoen nie, die polisie het niks gedoen nie. Die hof doen nou eers, vier jaar later, ʼn geregtelike doodsondersoek.

“Dit is juis nou, met die geregtelike doodsondersoek, dat ons besef het hoe swak die ondersoekwerk die afgelope paar jaar was. Ons het gedink dit word behoorlik ondersoek en dat die polisie en ondersoekers hul werk doen.

Karen Turner by haar broerskind, Ella. Foto: Verskaf

“Ons het vertrou hulle sal werklik ondersoek instel na wie verantwoordelik is en ook na die reservaat kyk en vra ‘maar hoekom was daar nie bestuur- of veiligheidspersoneel op die perseel daardie aand nie’.”

Die familie het vertroue dat hul eie prokureur nou behoorlik na die saak sal kyk en sal verseker dat die nodige bewyse en waarheid na vore kom.

Onmoontlik om te verwerk

Crouch sê dis moeilik om afsluiting te kry as daar geen geregtigheid geskied nie. Hy sê egter dat geen mens ooit oor só ʼn voorval kom nie.

Die familie, insluitend Matthew, sukkel volgens Crouch steeds om die gebeure te verwerk.

Hy vertel hoe opgewonde die Turner-egpaar destyds oor Karen se tweede swangerskap was nadat sy vroeër ʼn miskraam gehad het. Die naweek weg was nie net ter viering van haar 33ste verjaardag nie, maar ook vir die nuwe pienkvoet wat die egpaar verwag het.

“Hulle was so gelukkig,” sê Crouch.

Crouch sien sy swaer en susterskind, nou vyf, gereeld en sê dat hulle saamstaan om die stukkies van hul lewe weer op te tel.

Crouch is verlede jaar getroud en op dié groot dag het Matthew langs hom gestaan. Sy suster se afwesigheid in hul lewe bly egter tasbaar.

“Dis ʼn verlies wat ongelukkig nooit sal verdwyn nie. ʼn Mens sal dit nooit werklik kan verwerk nie. Ek is dankbaar dat my ouers nie by die verhoor verlede week was nie. Hulle het reeds soveel seer en trauma ervaar. Nou moet hulle uitvind dat niks nog eintlik gedoen is om geregtigheid te laat geskied nie.”

ECPTA ontken ‘aannames, bespiegeling’

ECPTA het by navraag ontken dat hy enige aannames maak of bespiegel oor wat op die noodlottige dag met Turner gebeur het, en sê dat hy die polisie deurentyd in die ondersoek steun.

“Ons by ECPTA betreur die tragiese voorval wat by ons Hluleka-natuurreservaat plaasgevind het en betuig ons innige meegevoel met die familie wat deur hierdie verwoestende verlies geraak is. Ons gedagtes en gebede bly steeds by hulle.

“Ons wil die versekering gee dat die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap deurlopend met die polisie saamgewerk en sy volle samewerking gegee het om hulle ​​in hul ondersoek by te staan. ECPTA werk steeds nou saam met die owerhede om enige nodige ondersteuning en inligting te verskaf wat hulle benodig,” het Vuyani Dayimani, ECPTA se uitvoerende hoof, aan Maroela Media gesê.

Volgens Dayimani het ECPTA “nog nooit enige aannames of bespiegelings gemaak oor die omstandighede wat tot hierdie tragiese gebeurtenis gelei het nie”.

“Ons fokus was en bly daarop om owerhede te ondersteun om ’n deeglike ondersoek te verseker.”

Die geregtelike doodsondersoek gaan op 18 September voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.