Kerkplein: Planne om hart van Pretoria te herstel

Johann Mettler, die Tshwane-metro se stadsbestuurder, spreek besoekers in die Paleis van Justisie toe. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die Tshwane-metroraad het saam met City Property ʼn herstelprojek van stapel gestuur om die hartjie van die Jakarandastad te herstel.

Talle besoekers het 7 Oktober op Kerkplein, waar die standbeeld van oudpres. Paul Kruger waak, bymekaargekom om die bekendstelling van die projek te vier, en terselfdertyd eerstehands die historiese en kulturele erfenis van die plein te beleef.

Dit is heel gepas net voor Kruger se verjaardag op 10 Oktober gehou. Die plein is ook die tuiste van die stad se eerste poskantoor, die ou Reserwe Bank en die nasionale munt, asook die Ons Eerste Volksbank, die Paleis van Justisie waar oudpres. Nelson Mandela verhoor is en eens swierige Capitol-teater.

Verwaarlosing het die afgelope dekades ʼn skadu oor die historiese juweel gegooi en toeriste, sowel as inwoners, het die plein vermy weens sluipslapers, misdadigers en gewelddadige protesaksies. Die erfenisbates in en om Kerkplein het ook dikwels onder vandale deurgeloop en die Café Riche, wat eens die bymekaarkomplek op die plein was, het in 2019 sy deur gesluit.

Die hernuwingsprojek wil poog om Kerkplein se agteruitgang te stuit en die historiese waarde daarvan te bewaar, en die omgewing skoner, veiliger en toegankliker vir alle besoekers te maak.

‘n Asemrowende uitsig oor Kerkplein van bo uit die Tudorgebou. (Foto: Discover Tshwane/Facebook)

“Oor die wêreld heen is stadspleine die hartklop van enige middestad en ons eie ikoniese Kerkplein is nie anders nie. Dit is uniek as middelpunt in die hartjie van Pretoria en kan nie onderskat word nie omdat dit ʼn groot deel van die geskiedenis bevat wat deel is van die tapisserie waaruit ons reënboognasie bestaan,” het Lize Nel van City Property gesê. City Property het al talle geboue in die middestad herstel en omskep in moderne kantore, woonplekke en spilpunte vir kuns, kos en samesyn.

Nel meen die hartklop van die stad moet weer floreer. “Dit moet lewendig raak en ʼn plek word waar almal kan tuis wees, en trots voel om te besoek.”

Die Ou Raadsaal waar die kantoor van oudpres. Paul Kruger is. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Johann Mettler, stadsbestuurder van Tshwane-metro, het op sy beurt gesê die opening van Kerkplein vir die publiek is ʼn belangrike wegspringplek om toerisme in die stad aan te wakker.

“Hierdie is beslis nie ʼn perfekte begin nie, maar dit is ʼn beroep op ons plaaslike regering om saam te werk om die kwessies wat die stadsplein teister, aan te pak. Pretoria is agter talle ander Suid-Afrikaanse stede as dit by toerisme kom. Dit is nie reg nie, veral as ʼn mens besef ons is die tuiste van 140 ambassades.

“Pretoria moet eintlik die voortou neem. Ons moet werk aan die toeganklikheid, veiligheid en ʼn skoner plein en stad. Dit is my werk as die stadsbestuurder om dié enjin te herstel, sodat die burgemeester ʼn spoggerige voertuig kan bestuur,” het Mettler gesê.

Sakkie du Plooy, raadslid van die Tshwane-metro, het gesê hierdie is die begin van ʼn droom. “Ons wil die Tshwane-toerisme-afdeling se kantore terugskuif na die plein in die Nederlandsch Bank-geboue. Ek droom ook daarvan om die klok in die horlosie bo die Ou Raadsaal te herstel, dan sal ek tevrede  dood kan gaan,” het Du Plooy aan die toergroep gesê, wat hy oor Kerkplein begelei het.

Buiten die skoonmaakaksies op Kerkplein het die Tshwane-metro ook oudpres. Paul Kruger se kantoor in die Ou Raadsaal vir besoeke van die publiek oopgestel.

Die Ou Raadsaal waar Kruger se kantoor gesetel was, is in 1882 in gebruik geneem.

Besoekers kan ook sy staatsekretaris se kantoor, die raadskamer en raadsaal waar sittings gehou is, besoek.

Lesers wat meer inligting oor toere na Kerkplein of besoeke aan die Ou Raadsaal benodig, kan ʼn e-pos stuur aan Marlie Wassenaar by [email protected]. Besoek die Tshwane-metroraad se Facebook-blad of Discover Tshwane se Facebook-blad vir nog inligting oor toerisme in die Jakarandastad.

Die Paleis van Justisie. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ronél ·

Wat ‘n ryk geskiedenis. Sal graag wil besoek aflê maar dit moet ‘n georganiseerde toer wees?

Dana ·

Pagtige geboue. Geskiedenis is precious. Mag al die geboue herstel word tot hul vorige glorie.

Miena ·

Goeie aarde. Ek dink my oorle ouma draai 24 keer 360grade draaie in haar graf om as sy vandag moet sien wat met die Capitol aangaan. Sy het as jong nooi daar in die flieks se kaartjiekantoor gewerk en dis waar oorle oupa haar ontmoet het ook. Sy het altyd vertel van die pragtige dak en haar voordame – n Engelse dame gewees – en die pragtige vloere en weelderige stoele wat in die ingangsportaal was. Ek wens nou maar dat ek liewer toentertyd gaan kyk het hoe dit binne gelyk het voor die plek verval het in n nes vir ongure individue en parkering vir motors…

Sarel ·

Baie goeie idee maar daar is soveel Probleme rondom.
die Administrasie & Bestuur van die Metro.
Hulle sal eers hulle huis in orde moet kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.