Kiara (18) verloor gesondheidstryd

Kiara Rossouw was ‘n kranige perderuiter ten spyte van haar stryd teen Fanconi se sindroom. (Foto: Verskaf)

Kiara Rossouw, die Fanconi se sindroom-lyer wat harte landwyd aangegryp het met haar merkwaardige gesondheidsverhaal, is Woensdag oorlede.

Sy was 18 jaar oud. Haar boetie, Keagan (11), wat vandeesweek sy 15de verjaardag sou vier, is in 2019 aan dieselfde siekte oorlede.

Keagan het destyds bekendgeraak nadat die minnesanger Manie Jackson hom oor dié seuntjie ontferm en sy storie met die land gedeel het.

Dewald Rossouw, ʼn familielid van Kiara en Keagan, het Woensdag op sosiale media die hartseer nuus gedeel dat Kiara in die Unitas-hospitaal in Centurion haar stryd teen dié resessiewe beenmurgsiekte verloor het.

Kiara se pa, Steph, het destyds aan Maroela Media vertel dat al was ʼn beenmurgoorplanting ʼn moontlikheid, daar te veel risiko’s daaraan verbonde was, aangesien Kiara ook ʼn diabeet was.

ʼn Spoggeleentheid by Sun City, waar sowat 30 van haar naaste vriende en familielede vir Kiara ʼn matriekafskeid gehou het, het op 10 Junie plaasgevind.

Sy is vroeër vanjaar deur die gemeenskapsradiostasie, Groot FM, tydens die Jou Mense My Mense-program verras met ʼn besoek deur Thomas Thompson, gesogte ontwerper, wat haar droomrok vir die geleentheid ontwerp het.

Hoewel Kiara self baie siek was, was sy baie bekommerd oor een van haar vriendinne wat geldelike ondersteuning nodig het om self ʼn dringende mediese prosedure te ondergaan.

“Dit is die tipe kind wat Kiara is. Sy is self baie siek, maar haar bekommernis lê by iemand anders,” het Steph gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marcello ·

Sterkte aan haar familie en vriende, deur haar storie glo ek het sy baie mense se harte aangeraak.

PersHeks ·

Ek is regtig jammer om dit te hoor!!! My hart gaan uit na haar geliefdes!!

Karoo ·

Wat ‘n verskietende ster was Kiara nie…. ons kan baie by haar leer. Wonderlik dat haar ouers en famielie byde haar en haar broer kon ondersteun en die vermoe gehaad het om hulle lewe voluit te kon leef met die beperings wat hulle byde gehaad het.

Anna Marie ·

Dankie vir die mooi plasings oor Kiara en dat julle saam ons huil. Ons is stukkend, maar sy is nou by Jesus se voete en sy het nie meer pyn nie.

Yvonne ·

Met hartseer het julle ook die vrede wat alle verstand te bowe gaan …..baie sterkte

Dewald ·

Baie dankie vir berig, die mooi goed wat julle oor haar se. Ons as familie se baie dankie aan elke een se boodskap en ondersteuning

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.