Koalisie bankvas agter Brink vir burgemeester

Cilliers Brink is die veelpartykoalisie in die Tshwane-metro se burgemeesterskandidaat. (Foto: Cilliers Brink/Facebook)

Die DA, ActionSA, VF Plus, IVP en ACDP in Tshwane sê alle maatreëls is ingestel om te verseker die koalisie vuur op alle suiers tydens Woensdag se verkiesing van ʼn nuwe burgemeester vir die stad.

“Die veelpartykoalisie is steeds verenig agter Cilliers Brink as uitvoerende burgemeester van die Stad Tshwane. Die koalisie het ook steeds vertroue dat hy die regte kandidaat is om aan die vele eise vir dienslewering te voldoen en goeie regering te verseker,” sê dr. Corné Mulder, voorsitter van die koalisietoesiggroep.

“Die groep partye betreur die onbestendigheid wat sedert 28 Februarie geheers het en plaas die skuld hiervoor vierkant by die ANC en EFF. Die partye het ʼn geteikende poging aangewend om stemme te koop en die meerderheid wat kiesers aan die groep partye in ons koalisie gegee het, te ondermyn.

“Dit is die optrede van dié partye wat demokrasie ondermyn en dienslewering aan al Tshwane se gemeenskappe lamgelê het.”

Die vorige burgemeester, dr. Murunwa Makwarela, se enkele dae as Tshwane se voorste burger het rampspoedig geëindig nadat dit aan die lig gekom het dat hy nie net ongerehabiliteerd insolvent is nie, maar glo ook die hofbevel – dat hy kwansuis gerehabiliteer is – vervals het.

Hy het vroeër vandeesmaand bedank en die pos van burgemeester is sedertdien vakant.

Makwarela het Brink, wat kort tevore as DA-LP bedank het, in Februarie as burgemeesterskandidaat verslaan nadat verskeie lede van die veelpartykoalisie nie vir hom gestem het nie.

Makwarela se voorganger, Randall Williams, het aan die einde van Februarie ook bedank ná groot druk weens die beroerde stand van die stad se geldsake.

Die koalisiegroep wil die situasie nou regruk deur te verseker die stad word gestabiliseer, die leierskap van die koalisie word herstel en te fokus op die beginsels van dienslewering en goeie regering.

Mncedi Ndzwanana, ʼn ATM-raadslid, is vroeër tot speaker van die raad verkies nadat die 69 stemme van DA-raadslede as bedorwe stembriewe uitgegooi is. Dié stemme was almal ten gunste van Action SA se Kholofelo Morodi, die veelpartykoalisie se aangewese kandidaat. Die stemme was egter met ʼn nommer, in plaas van van ʼn kruisie, gemerk en is gediskwalifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.