Kommer oor polisiëring in landelike gebiede tydens strenger inperking

Daar heers tans kommer oor polisiëring in landelike gebiede tydens strenger inperkingsregulasies. (Argieffoto: Reint Dykema)

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) sê hulle is bekommerd dat die vlak 4-afsonderingsmaatreëls om die derde vlaag van Covid-19-infeksies hok te slaan tot gebrekkige polisiëring in landelike gebiede kan lei. Dít te midde van ’n beduidende toename in veediefstal in veral die Noord-Vrystaat en verhoogde misdaadbedrywighede by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho.

Ingevolge die regulasies sal die polisie se mannekrag onder meer by padblokkades in Gauteng ingespan word aangesien reis na en van dié provinsie vir ontspanning tans verbied word.

VL en RPO doen dus opnuut ’n beroep aan boere om by plaaslike veiligheidstrukture in te skakel ten einde veiligheid te bevorder.

“Ons versoek boere om groter paraatheid, waaksaamheid en oplettendheid aan die dag te lê. Skakeling oor verdagte mense, voertuie en beweging veral gedurende die aandklokreël-tydperk [tussen 21:00 en 04:00] moet deur landbougemeenskappe, veral waar plaaswagstrukture gevestig is, met erns hanteer word,” sê Tommie Esterhuyse, visepresident van VL.

Esterhuyse sê landbougemeenskappe moet ook gedurende hierdie tyd aan patrollies in hul onderskeie gebiede deelneem en enige verdagte of belangrike inligting aan veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings en -strukture deurgee.

Die instellings meen ook dat die betrokkenheid en inskakeling van veral jonger boere by veiligheidstrukture uiters belangrik is.

Volgens Isabel Kruger, voorsitter van die veediefstalvoorkomingsforum by die RPO, is daar ’n “kommerwekkende toename” in veediefstal in die Vrystaat te bespeur.

“Die Noord-Vrystaat loop veral erg deur met groot getalle vee, soms tot meer as 30, wat op een slag gesteel word.

“Die verbod op veilings ingevolge vlak 4-regulasies behoort ’n beduidende afname in die vervoer van vee na veilingshuise te hê, maar dit gaan egter nie die informele vraag na en aanbod van vee stopsit nie.

“Dit kan ook bydra tot slagtings wat op plase plaasvind en waar vleis dan na geïdentifiseerde afsetgebiede vervoer word.”

 

Benewens die toename in veediefstal in die Noord-Vrystaat is daar ook ’n toename in misdaad by die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho opgemerk, sê Jakkals le Roux, voorsitter van VL se veiligheidskomitee.

“Landbougemeenskappe word toenemend die teiken van misdadigers wat die grens van Lesotho oorsteek en boere se vee, soms tot meer as 50 op ’n slag, en ander werktuie soos lekbakke en sonpanele steel.

“Verdere misdade soos die knip van drade en boere se veld wat aan die brand gesteek word, vind ook plaas.”

Volgens Le Roux was daar ook ’n skerp toename in vandalisme en koperkabeldiefstal by Eskom-substasies en MTN-torings in die omgewing van Clarens en Fouriesburg.

“Dit skep ’n groot veiligheidsrisiko vir landbougemeenskappe wat sonder selfoonseine of elektrisiteitsvoorsiening moet klaarkom.

“Vrystaat Landbou rig namens landbougemeenskappe ’n ernstige versoek aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die polisie om hande met landelike gemeenskappe te vat om hoër sigbaarheid in oorgrensgebiede daar te stel wat ook met wit- en blouligpatrollies gepaardgaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Belinda ·

Binnekort gaan ons begin honger lei agv van al die moles … waar gaan ons pragtige land heen. Eens n trotse land, nou n land van vrees en geweld. Niemand is meer veilig. Mag God ons boere veilig hou…

Samuel ·

Oral is daar mense wat hulle nie steur aan die inperking maatreëls nie. Selfs hier in die stad. Ek kry ons boere baie jammer. Mag die Here hulle behoed.

Anoniem ·

Waarom kan die SANW nie weer soos in die verlede die grense patrolleer om onwettighede stop te sit en onwettige immigrante te arresteer nie. Dit is al hoe daar dalk ‘n bietjie verligting gaan wees.

Piet parys ·

Die weermag na 94 is nie in staat om dit te doen . In my laaste kamp in ongeveer 85 was dit al n gemors op lesotho grens by caledon rivier by Fouriesburg . Daai tyd het ons die skelms gevang en die polisie het hulle net weer losgelaat .

Anel ·

Op die oomblik is die nie dra van masker en beweeg uit die provinsie ‘n BAIE groter misdaad as moord of veediefstal of wat ook al. Om daai misdadigers te vang is werk. Om nie-maskerdraers te vang is so eenvoudig. Prioriteite is so verkeerd op die oomblik. Baie sterkte aan die boere wat moet sorg dat ons kos kry. Jammer die regering sien dit nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.