Kosmandjie: Groente baie duurder, olie en brood goedkoper

(Foto: Maroela Media)

Die prys van tamaties, kookolie en sekere vleissoorte het in Oktober gedaal, terwyl talle groentesoorte soos uie se prys aansienlik gestyg het.

Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMEJBD) se indeks van huishoudelike bekostigbaarheid, wat kospryse van 44 supermarkte en 30 slaghuise op verskeie plekke in die land dophou, wys dat die gemiddelde koste van ʼn huishouding se kosmandjie nou op R4 787,83 staan in vergelyking met September se gemiddelde koste van R4 805,86 (R18,03 of 0,4% goedkoper). Die mandjie is egter R470,28 (10,9%) duurder as dieselfde tyd verlede jaar.

Die gemiddelde koste van ʼn huishouding se kosmandjie het in Oktober in Johannesburg, Durban en Springbok afgeneem. In Kaapstad en Pietermaritzburg het dit egter toegeneem. Op ʼn jaargrondslag het dit egter oral gestyg.

Ander kossoorte waarvan die pryse ook gedaal het, sluit in mieliemeel, witsuiker, bevrore hoenderporsies, wors, kool en witbrood.

Ander kossoorte waarvan die prys ook gestyg het, sluit in rys, suikerbone, aartappels en grondboontjiebotter.

Die koste van ʼn mandjie basiese skoonmaakmiddels en toiletware het ook effens gedaal met R23,11 (2,5%) in Oktober. Die mandjie het in Oktober R890 gekos teenoor R913,11 in September. Op ʼn jaargrondslag het dit egter met R157,32 (21,5%) gestyg.

Die pryse van ʼn pak met agt koekies groen seep, Jik, skoenpolitoer, drie buisies tandepasta en vier koekies badseep het effens gedaal. Die pryse van Handy Andy en toiletpapier het effens gestyg in vergelyking met September, maar al die produkte behalwe Jik is aansienlik duurder as ʼn jaar gelede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Owlie ·

Watter land het enige pryse gedaal?
Alle pryse in die winjrls is steeds onbekostigbaar hoog.
Groente en vrugte is van so n swak kwaliteit dit hou nie meer lank nie , is soms onmenslik suur en bly onnodiglik duur

Danie ·

Niks daal nie dit wissel net op die end van die dag is jou uitgawes baie meer.Kyk maar oor 6 maande waar sit ons.

Mariana ·

Nee die opname is nie heeltemal reg nie. Pryse styg weekliks. Niks is bekostigbaar nie en mens moet mooi dink watter kossoorte nou belangriker as ander is. Nou styg die brandstof pryse weer so teen die naweek styg pryse van kos ook weereens.

Lourens CFG ·

Weet nie waar die pryse af is nie, ook seker net met 2c af.
By ons kan jy alles elke 3 dae kyk, dit spring sommer met R5+ en meer per item.

Debbie ·

Ek kan nie verstaan as hul die items noem wat se pryse gedaal het nie. Ek gaan by al die verskillende supermarkte in elke maand en nerens is daai items goedkoper nie. Suiker is mal hoog. Net 1 winkel het olie vir R75 gehad. So hoe kry hulle daai persentasies

Henryet ·

Ek doen regtig dringend n beroep op alle mense in SA om asb hulle eie groente tuine te begin, en plant asb vrugte bome

Andrew ·

Dit is n goeie idee, maar gaan geen verskil maak nie . Meeste groente sal nie groei in die winter in 95% van die land nie. Sal ook ruimte moet he as jy n gebalanseerde diet vir n gesin van 4 tot 5 elke dag wil gee.

Dink mense moet vrugte bome sal ook saamstem met peste ens eet mens maar min tensy jy moeite doen en spuit ens. Sal maar ook spasie moet he om genoegsame bome van verskillende tiepes om heel jaar n vrug te kan eet. Ook maar hoop jou dorp het nie water tekorte of baie reen.

Ek stel eerder voor mense koop varser en nie by die groot supermarkte nie. Verwerking jaag die prys op . Die prys op die markte is meer as 5 jaar nog steeds dieselfde, belaglik eintlik in ag gevat al die negatiewe ekonomies faktore.

Andrew ·

Maar n swak ontleding. Groente gaan uit die winter uit duurder wees, jy kan nie plant in die winter, of baie min kan. Soos om in Junie te sê shoe kyk wat kos n waatlemoen?

Erika ·

Ek weet darem nie so lekker nie, want elke keer wat mens “net vinnig” winkel toe gaan , vir paar goedjies, betaal jy meer, weekliks is die goed duurder, ek sien nie dat enige iets goedkoper word nie, nie eers meer op “special” is die pryse bekostigbaar nie.

Mrs H ·

Ek het by n plek gekom waar ek net een keer n dag kan eet, n toebroodjie. Gelukkig sien ek myself as n ‘toebroodjie queen’. Op n naweek probeer ek ten minste een bord ordentlikke kos in kry met groente – nie noodwendig met vleis nie. Maar kry stuiptrekkings as bure n geurtjie van n skaaptjoppie los laat op n braai. Het my motorkar verkoop, gelukkig bly ek loopafstand van winkel. Waar gaan dit eindig as n mens net nerens meer kan kostes sny nie? En jy hoop en bid en hou asem op, dat daar asb net niks moet breuk of vervang moet word nie!

Erika ·

Ek is in presies dieselfde bootjie as jy, die geld wat ek wel gehad vir “groceries” te koop, is nou my petrol geld werk toe, ek leef op Corn Flakes en brood, en soms as die honger pyne knaag, drink ek maar water tot dit voel ek gaan bars. Laaste paar dae voor “pay day” moet ek maar werk toe stap, en huis toe stap, (26 km tot by werk, en in die middae terug) vandat ons almal weer terug is op kantoor, het ek al 18kg verloor, omdat ek nie meer geld het om kos te koop, moet loop waar ek wil wees, en nog steeds is daar geen teken van ‘n verhoging nie. Met die alewige loadshedding, kan mens maar net bid dat niks breek nie. Want geld is daar nie om dit te vervang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.